1 Kronieke 28

28
Opdragte vir die bou van die tempel
1 Dawid het al die leiers van Israel in Jerusalem byeengebring: die leiers van stamme, die leiers van die afdelings wat in diens van die koning was, die •aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, die toesighouers oor al die besittings en vee van die koning en sy seuns, saam met die paleisamptenare, die helde en al die dapper krygers.
2 Koning Dawid het regop gaan staan en gesê: “Luister na my, my broers en my volk! Ek het my voorgeneem om 'n rusplek vir die verbondsark van die Here en vir die voetbank van die voete van ons God te bou. Ek het voorbereidings getref vir die bouwerk, 3 maar God het vir my gesê, ‘Jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie, want jy is 'n man van oorlog en jy het bloed vergiet.’
4“ Die Here, die God van Israel, het my uit my hele familie gekies om vir altyd koning te wees oor Israel; want Juda het Hy as leier gekies, en uit die huis van Juda my familie. Dit het Hom behaag om, onder my vader se seuns, juis vir my koning te maak oor die hele Israel. 5 En uit al my seuns – want die Here het vir my baie seuns gegee – het Hy my seun Salomo gekies om op die koninklike troon van die Here oor Israel te sit. 6 Hy het vir my gesê, ‘Jou seun Salomo, hy is die een wat my huis en my voorhowe sal bou, want Ek het hom vir My as seun gekies, en Ek sal vir hom 'n vader wees. 7Ek sal sy heerskappy bestendig vir altyd, as hy daarop voorbereid is om my gebooie en my bepalings uit te voer, soos dit vandag is.’
8“ Nou, met die hele Israel, die geloofsgemeenskap van die Here, as ooggetuies, en ten aanhore van ons God, gee ek opdrag, ‘Kom al die gebooie van die Here julle God na, en streef dit na, sodat julle hierdie goeie land vir altyd as 'n besitting kan behou en kan nalaat vir julle kinders ná julle. 9 En jy, my seun Salomo, erken die God van jou vader, en dien Hom met 'n onverdeelde hart en 'n gewillige gees, want die Here ondersoek alle harte, en in elke bedoeling van die gedagtes het Hy insig. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp. 10Besef nou dat die Here jou gekies het om 'n gebou as heiligdom op te rig. Wees moedig en doen dit!’ ”
11 Dawid het toe vir sy seun Salomo 'n plan van die •tempel se portaal, sy geboue, sy skatkamers, sy bovertrekke, sy binnevertrekke en die tuiste van die •versoendeksel gegee –
12die plan van alles wat hy
in gedagte gehad het
vir die voorhowe
van die huis van die Here,
vir al die vertrekke rondom,
vir die voorraadkamers
van die huis van God,
vir die gewyde gawes
se skatkamers;
13die plan vir die afdelings
van die priesters en Leviete,
vir al die dienswerk
in die huis van die Here,
en vir al die gereedskap
vir die diens in die huis
van die Here;
14en vir die goud –
die gewig van die goud
vir al die gereedskap
wat nodig was
vir die verskillende dienste;
en vir al die silwergereedskap
volgens gewig
vir al die gereedskap
wat nodig was
vir die verskillende dienste;
15en die gewig van die goue
menoras en hulle goue lampe,
met die gewig van elke menora
en sy lampe,
en vir die silwermenoras,
met die gewig van 'n menora
en sy lampe
ooreenkomstig die gebruik
van elke menora,
16saam met die goud –
die gewig wat nodig was
vir die tafels met die
gerangskikte brood,
die gewig van elke tafel
en van die silwer
vir die silwertafels;
17en die vurke, offerbakke
en bekers van suiwer goud;
en vir die goue bakke,
met die gewig van elke bak,
en die silwerbakke,
met die gewig van elke bak;
18en die plan van die altaar vir die reukwerk,
van gesuiwerde goud,
met sy gewig;
dan ook nog die plan vir die wa –
die goue gerubs
wat hulle vlerke uitsprei
en die verbondsark
van die Here bedek.
19“Dit alles, die volledige uitvoering van die plan, is op skrif uit die hand van die Here, wat oor my was,” het Dawid gesê.
20 Toe sê Dawid vir sy seun Salomo: “Wees dapper en sterk en doen die werk! Moenie bang wees nie, en moet jou nie laat afskrik nie, want die Here God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of verlaat, totdat al die werk vir die diens in die huis van die Here afgehandel is nie. 21 Hier is die afdelings van die priesters en Leviete, gereed vir elke diens in die huis van God. En by jou, met die oog op elke taak, is daar verskillende vrywilligers met vaardigheid vir elke soort diens. Die leiers en die hele volk is gereed vir al jou opdragte.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid