1 Kronieke 22

22
1 Dawid sê toe: “Dit moet die huis van die Here God wees, en hierdie die altaar vir die •brandoffers van Israel.”
2 Dawid het toe mense aangesê om die •vreemdelinge wat in die land Israel was, bymekaar te maak. Hy het hulle as klipkappers in diens geneem om gekapte klip gereed te kry vir die bou van die huis van God. 3Groot hoeveelhede yster vir die spykers van die poortdeure en vir die balkpenne, is deur Dawid voorsien, en soveel brons dat dit nie geweeg kon word nie, 4ook sederhout wat nie bereken kon word nie. Die mense van Sidon en Tirus het immers 'n groot hoeveelheid sederhout aan Dawid gelewer.
5Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, en die huis wat vir die Here gebou moet word, moet buitengewoon groot wees en in al die lande roem en eer verwerf; ek wil daarvoor voorbereidings tref.” Dawid het toe voor sy dood talle voorbereidings getref.
6Hy het sy seun Salomo ontbied en hom beveel om 'n huis vir die Here, die God van Israel, te bou. 7 Dawid het vir Salomo gesê: “My seun, ek het my voorgeneem om vir die Naam van die Here my God 'n huis te bou; 8maar die woord van die Here het tot my gekom en gesê, ‘Jy het te veel bloed vergiet en groot oorloë gevoer. Jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie, omdat jy so baie bloed voor My op die aarde vergiet het. 9Kyk, 'n seun sal vir jou gebore word. Hy sal 'n rustige man wees, en Ek sal hom rus gee van al sy vyande aan alle kante. Ja, Salomo sal sy naam wees, en Ek sal vrede en kalmte aan Israel skenk in sy dae. 10 Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou; Hy sal vir My 'n seun wees, en Ek sal vir hom 'n vader wees. Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel vir altyd bestendig.’
11“ Daarom, my seun, mag die Here met jou wees, en mag jy sukses behaal en die huis van die Here jou God bou soos Hy aangaande jou gesê het. 12Mag die Here tog net vir jou insig en begrip gee om, wanneer Hy jou oor Israel aanstel, die wet van die Here jou God na te kom; 13slegs dan sal jy sukses behaal – as jy die vaste voorskrifte en bepalings wat die Here vir Moses aangaande Israel beveel het, noukeurig nakom. Wees dapper en sterk! Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie! 14 Kyk, deur my selfverloëning kon ek vir die huis van die Here honderdduisend kikkar goud en 'n miljoen kikkar silwer voorsien, en brons en yster wat nie geweeg kan word nie, omdat dit so baie is. Hout en klip voorsien ek ook, maar jy moet nog daarby voeg. 15 By jou is daar baie werksmense: klipkappers, vakmanne in klip- en houtwerk. Daar is manne wat oor alle vaardigheid in enige soort werk beskik 16in verband met goud, silwer, brons en yster – 'n onberekenbare hoeveelheid. Maak gereed en doen die werk; en mag die Here met jou wees!”
17 Dawid het al die leiers van Israel soos volg opdrag gegee om sy seun Salomo te help: 18“Is die Here julle God nie met julle nie? En het Hy julle nie aan alle kante rus gegee nie? Ja, Hy het die inwoners van die land in my hand gegee, en die land is aan die Here en aan sy volk onderwerp. 19Rig julle nou met hart en siel daarop om die Here julle God te soek. Maak gereed en bou die heiligdom van die Here God, sodat julle die verbondsark van die Here en die heilige voorwerpe van God kan bring na die huis wat vir die Naam van die Here gebou word.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid