1 Kronieke 16

16
Lofpsalm by die ark
(2 Sam 6:17-19)
1 Hulle het die ark van God ingeneem en dit neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Daarna het hulle •brandoffers en •maaltydoffers voor God gebring. 2Toe Dawid die brandoffer en maaltydoffers klaar gebring het, het hy die volk in die Naam van die Here geseën. 3Hy het aan elke Israeliet, man en vrou, 'n ronde brood, 'n dadelkoek en 'n rosynekoek uitgedeel.
4 Hy het van die Leviete wat voor die ark van die Here moes diens doen, aangestel om die Here, die God van Israel, te huldig, te dank en te loof. 5Asaf was aan die hoof, en tweede in rang was Sagaria. Daarna volg Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel, met harpe en liere. Asaf het die simbale laat galm, 6terwyl die priesters, Benaja en Jagasiël, deurentyd met die trompette voor die verbondsark van God was.
7Op daardie dag, juis toe, het Dawid die eerste keer vir Asaf en sy stamgenote aangestel om die Here soos volg te prys:
8 Prys die Here, roep sy Naam uit;
maak onder die volke
sy dade bekend!
9Sing vir Hom, besing Hom;
praat met oorgawe
oor al sy wonderwerke.
10Beroem julle in sy •heilige Naam;
laat die harte van hulle
wat die Here opsoek, bly wees.
11 Soek die Here en sy krag,
soek voortdurend
sy teenwoordigheid op.
12 Roep die wonders wat Hy
gedoen het in herinnering,
sy tekens en die oordele
van sy mond,
13nageslag van Israel,
sy dienskneg,
kinders van Jakob,
sy uitverkorenes!
14 Hy is die Here ons God;
oor die hele wêreld geld sy oordele.
15 Onthou vir altyd sy verbond,
die woord wat Hy beveel het
vir duisend geslagte,
16wat Hy gesluit het met Abraham
en met 'n eed beloof het aan Isak.
17Hy het dit aan Jakob bevestig
as 'n vaste reël,
aan Israel as 'n ewige verbond,
18met die woorde: “Aan jou
sal Ek die land Kanaän gee
as julle afgemete erfdeel.”
19 Toe hulle nog min in getal was,
baie min,
en •vreemdelinge in die land was,
20het hulle van een nasie
na die ander geswerf,
van een koninkryk
na 'n ander volk.
21 Hy het geen mens toegelaat
om hulle te verdruk nie.
Hy het konings oor hulle
tereggewys:
22“Moenie aan my gesalfdes raak nie;
my profete moet julle
geen kwaad aandoen nie.”
23 Sing vir die Here, o ganse aarde!
Verkondig sy verlossing
van dag tot dag!
24Maak onder die nasies
sy majesteit bekend,
onder al die volke
sy wonderdade.
25 Want groot is die Here
en besonder lofwaardig;
Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode.
26Ja, al die gode van die volke
is niksbeduidend,
maar die Here
het die hemel gemaak.
27Luister en glans
is voor Hom;
krag en blydskap
is in sy heiligdom.
28 Gee erkenning aan die Here,
familiegroepe van volke!
Gee erkenning aan die Here
vir sy heerlikheid en krag!
29Gee erkenning aan die Here
vir die heerlikheid van sy Naam!
Bring offers en kom
in sy teenwoordigheid!
Buig in aanbidding voor die Here
in sy glansryke heiligheid!
30Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde!
Ja, die wêreld staan vas,
dit wankel nie.
31 Laat die hemel bly wees,
en die aarde juig.
Mense onder die nasies sê:
“Die Here regeer!”
32 Die see en alles daarin
moet dit uitbasuin.
Laat die veld en alles daarop jubel,
33 dan sal alle bome in die bos
van vreugde uitroep
voor die Here.
Want Hy kom om die aarde te oordeel.
34 Prys die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde.
35 Julle moet sê: “Red ons,
o God wat ons verlos,
en bring ons bymekaar!
Ja, red ons van die nasies,
sodat ons u •heilige Naam kan prys,
sodat ons kan roem op die lof
wat U toekom.”
36 Die Here, die God van Israel,
moet geprys word,
van ewigheid af en vir ewig.
Die hele volk moet sê:
“•Amen!” en “Loof die Here!
37 Dawid het Asaf en sy stamgenote daar voor die verbondsark van die Here laat bly om deurentyd voor die ark diens te doen volgens die vereistes van elke dag. 38 Obed-Edom en sy agt-en-sestig stamgenote, asook Obed-Edom, seun van Jedoetoen, en Gosa was daar as deurwagte. 39 Die priester Sadok en sy medepriesters het hy voor die •tabernakel van die Here op die •offerhoogte wat in Gibeon is, agtergelaat 40om deurentyd, soggens en saans, vir die Here brandoffers op die brandofferaltaar te bring, volgens alles wat voorgeskryf is in die wet van die Here wat Hy Israel beveel het. 41 Saam met hulle was Heman en Jedoetoen en die res van die uitgesoektes wat by die naam aangewys is om die Here te prys met die woorde: “Vir ewig duur sy troue liefde!” 42By hulle, by Heman en Jedoetoen, was daar trompette en simbale vir die musikante, en instrumente vir die begeleiding van godsdienstige liedere. Die seuns van Jedoetoen was by die poort.
43 Daarna het die hele volk, elkeen, teruggegaan na sy huis. Dawid het teruggegaan om sy huisgesin te seën.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid