Romeine 2

2
God dink nie een mens is belangriker as 'n ander mens nie
1 Jy sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy, ja jý, is ook skuldig. Jy sê húlle doen verkeerde dinge, maar jý doen dieselfde dinge. As jy sê hulle doen verkeerde dinge, dan beteken dit dat jy ook skuldig is, want jy doen dieselfde verkeerde dinge. 2Ons weet dit is reg dat God mense straf wat daardie verkeerde dinge doen. 3Jy, ja jý, sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy doen dieselfde dinge. Jy moet weet dat God jou ook sal straf, jy sal nie kan wegvlug nie. 4God is baie goed, Hy straf mense nie gou nie, Hy is geduldig, want Hy wil hê jy moet lewe soos Hy sê. Maar dit alles is nie vir jou belangrik nie. 5Jy luister nie na God nie, jy lewe nie soos God wil hê nie. Daarom sal God jou straf op daardie dag wanneer Hy al die mense sal straf, daardie dag wanneer almal sal kan sien dat sy straf reg is. 6 God weet wat elke mens gedoen het en Hy sal elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. 7Party mense hou aan om goeie dinge te doen, want hulle wil graag hê God moet hulle eendag soos konings maak. Hulle wil hê mense moet hulle respekteer, en hulle wil aanhou lewe. God sal vir hulle die ewige lewe gee. 8Maar party mense is selfsugtig. Hulle weet wat reg is, maar hulle doen dit nie. Hulle doen graag dinge wat verkeerd is. God sal kwaad bly vir hulle en Hy sal hulle straf. 9Ja, God sal ál die mense straf wat verkeerd doen. Hy sal hulle laat swaarkry, en dit sal sleg gaan met hulle, met hulle almal, eerste die Jode en dan die mense wat nie Jode is nie. 10Maar God sal baie goed wees vir die mense wat goeie dinge doen. Hulle sal soos konings wees, almal sal hulle respekteer, en God sal vir hulle vrede gee, eerste vir die Jode en dan vir die mense wat nie Jode is nie. 11Ja, God dink nie een mens is belangriker as 'n ander mens nie.
Mense moet doen wat God se wette sê
12God het nie sy wette vir al die mense gegee nie. Daar is mense wat nie God se wette het nie. As húlle sonde doen, dan sal hulle verlore gaan. Maar party mense het God se wette. As húlle sonde doen, dan wys die wette dat hulle sonde gedoen het en dat God hulle sal straf. 13Want God spreek nie mense vry omdat hulle die wette ken nie. God spreek hulle vry as hulle dóén wat die wette sê. 14Die heidene het nie God se wette nie, maar partymaal besluit hulle self wat reg is en dan doen hulle dinge wat die wette sê. Hulle het nie God se wette nie, maar hulle lewe dan soos mense wat God se wette het. 15Hulle doen dinge wat wys dat hulle God se wette in hulle harte het. Hulle weet self wat is reg en wat is verkeerd, en hulle kan vir hulleself sê dat hulle reg doen of dat hulle verkeerd doen. 16Dit sal gebeur op daardie dag wanneer God vir Christus Jesus sê dat Hy moet kyk na al die slegte dinge wat mense gedink het, en dat Hy hulle moet oordeel. Dit is wat die goeie boodskap sê, die boodskap wat ek preek.
Die Jode en God se wette
17Jy sê jy is 'n Jood, jy sê God se wette is vir jou baie belangrik en jy spog en sê God is jou God. 18Jy weet wat God wil hê jy moet doen, jy weet wat is die regte dinge om te doen, want mense leer vir jou wat die wette sê. 19Jy dink jy kan ander mense help soos 'n mens iemand help wat blind is of soos 'n mens lig maak vir mense wat in die donker is. 20Jy dink jy is soos iemand wat vir mense leer, mense wat niks verstaan nie. Jy dink jy is soos 'n onderwyser wat vir kindertjies leer. Jy dink dat alles wat 'n mens moet weet in God se wette is en dat al die waarheid in die wette is, en jy hét daardie wette.
21Maar jy dink verkeerd. Jy leer vir ander mense, maar jy leer nie vir jouself nie. Jy sê vir ander mense hulle mag nie steel nie, maar jy self steel. 22Jy sê vir ander mense hulle mag nie egbreuk pleeg nie, maar jy self pleeg egbreuk. Jy sê jy haat afgode, maar jy steel goed uit die afgode se tempels. 23Jy spog omdat jy God se wette het, maar jy doen nie wat die wette sê nie en so wys jy dat jy nie vir God respekteer nie. 24Daarom gebeur wat in die Ou Testament geskryf is. Daar is geskryf:
Julle doen verkeerde dinge,
en daarom praat die heidene
sleg van God.
25As jy doen wat God se wette sê, dan is dit goed dat jy besny is. Maar as jy nie doen wat God se wette sê nie, dan beteken dit niks dat jy besny is nie, dan is jy soos die mense wat nie besny is nie. 26As mense nie besny is nie en hulle doen wat God se wette sê, dan sal God sê dit maak nie saak dat hulle nie besny is nie. Hulle is dan vir God dieselfde soos die mense wat besny is. 27Die mense wat nie besny is nie en wat doen wat God se wette sê, sal wys dat jy verkeerd is. Jy het die wette van God en jy is besny, maar jy doen nie wat die wette sê nie.
28-29Wie is die ware Jode? Dit is nie die mense wat vir ander mense lyk soos Jode nie. Nee, hulle moet in hulle hárte Jode wees. As mense se liggame besny is, dan is hulle nog nie regtig besny nie. Hulle hárte moet besny wees. Dit beteken: Dit is nie belangrik dat mense se liggame besny is nie, dit is belangrik dat die Heilige Gees in hulle harte is. Dán sal Gód hulle prys, nie ander mense nie.

Tans Gekies:

Romeine 2: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid