Romeine 16

16
Paulus stuur groete
1Febe is een van die gelowiges en sy is 'n diaken van die kerk in die stad Kenchreë. Julle kan haar vertrou. 2Sy behoort aan die Here en daarom moet julle haar welkom laat voel soos julle almal welkom laat voel wat aan die Here behoort. Julle moet ook vir haar help en vir haar alles gee wat sy nodig het, want sy het vir baie ander mense gehelp. Sy het ook vir my gehelp.
3Ek stuur groete vir Priska en Akwila. Hulle werk saam met my vir Christus Jesus. 4Hulle het my lewe gered, maar hulle het toe amper self gesterf. Ek en die gemeentes van die heidene sê dankie dat hulle my lewe gered het. 5Ek stuur ook groete vir die gemeente wat bymekaarkom in die huis van Priska en Akwila.
Ek stuur groete vir my goeie vriend Epenetus. Hy was die eerste persoon in Asië wat in Christus begin glo het.
6Ek stuur groete vir Maria. Sy het baie hard vir julle gewerk.
7Ek stuur groete vir Andronikus en Junias. Hulle is ook Jode soos ek en hulle was saam met my in die tronk. Hulle is belangrike apostels en hulle het in Christus geglo voordat ek in Hom geglo het.
8Ek stuur groete vir my liewe Ampliatus. Hy behoort ook aan die Here.
9Ek stuur groete vir Urbanus. Hy het saam met ons gewerk vir Christus.
Ek stuur groete vir my liewe Stagis.
10Ek stuur groete vir Apelles. Hy behoort aan Christus en hy het gewys 'n mens kan glo dat hy sal doen wat hy sê.
Ek stuur groete vir almal in die huis van Aristobulus.
11Ek stuur groete vir Herodion. Hy is ook 'n Jood soos ek.
Ek stuur groete vir almal in die huis van Narsissus wat aan die Here behoort.
12Ek stuur groete vir Trifena en Trifosa. Hulle werk hard vir die Here.
Ek stuur groete vir my liewe Persis. Sy het baie hard gewerk vir die Here.
13Ek stuur groete vir Rufus. Die Here het hom ook gekies om aan Hom te behoort. Ek stuur ook groete vir Rufus se ma. Sy is vir my ook 'n ma.
14Ek stuur groete vir Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en die ander gelowiges wat by hulle is.
15Ek stuur groete vir Filologus en Julias, Nereus en sy suster, en Olimpas en al die ander gelowiges by hulle.
16Julle moet mekaar groet met 'n soen. Dit sal wys dat julle almal aan Christus behoort.
Al die gemeentes van Christus stuur groete vir julle.
17Vriende, ek vra mooi vir julle: Julle moet oppas vir die mense wat julle laat stry en sonde laat doen. Dit is nie wat julle geleer het nie. Julle moet hulle los. 18Hulle dien nie vir Christus die Here nie, hulle dink net aan dit wat hulle self wil hê. Hulle sê baie mooi dinge, en so verlei hulle die mense wat min weet. 19Almal weet julle is gehoorsaam aan Christus, en ek is bly dat julle gehoorsaam is. Ek wil hê julle moet verstandig wees en julle moet weet wat goed is. En ek wil hê julle moet niks verkeerd doen nie.
20God wat vrede gee, sal gou die Satan oorwin, en julle sal oor die Satan regeer.
Ek bid dat ons Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle.
21Timoteus, wat saam met my werk, stuur groete vir julle. Ook Lucius, Jason en Sosipater. Hulle is Jode soos ek.
22Ek, Tertius, het hierdie brief geskryf. Ek behoort ook aan die Here en ek stuur groete vir julle.
23Ek bly by Gaius. Hy stuur groete vir julle. Die hele gemeente wat in sy huis bymekaarkom, stuur ook groete vir julle.
Erastus werk met die stad se geld. Hy en ons vriend Kwartus stuur groete vir julle. 24
Paulus prys God
25God kan julle geloof sterk maak. Dit is die goeie boodskap wat ek bring, die goeie boodskap oor Jesus Christus. Die mense het voorheen nooit geweet van die boodskap oor Christus nie, 26maar nou het God vir almal die boodskap oor Christus laat verstaan. Hulle lees dit in die boeke van die profete. God, wat altyd lewe, het gesê al die heidene moet ook die boodskap hoor sodat hulle in Christus kan glo en gehoorsaam kan wees. 27Kom ons prys altyd vir Jesus Christus en vir God, net Hy het wysheid. Amen.

Tans Gekies:

Romeine 16: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid