Psalms 132

132
Die Here het vir Sion gekies
1'n Lied wanneer mense na die tempel gaan.
Here, U moet dink aan Dawid,
U moet dink aan al sy probleme.
2Dawid het vir die Here iets belowe,
hy het 'n gelofte gemaak
aan die Sterk God van Jakob.
Dawid het gesê:
3“Ek sal nie in my huis ingaan
en op my bed gaan lê nie,
4ek sal nie gaan slaap nie,
5ek sal eers vir die Here 'n plek kry,
ek sal eers vir die Sterk God van Jakob
'n woonplek kry.”
6Ons het in die stad Efrata gehoor van die kis van God,
ons het die kis gekry in die Jaär-veld.
7Ons het gesê:
“Kom ons gaan na die woonplek van die Here,
kom ons gaan buig by sy troon.”
8Here, U moet nou kom, U moet altyd hier wees,
U en die kis wat wys dat U regeer.
9U priesters moet die regte klere dra,
die mense wat aan U behoort, moet sing.
10Dawid was u dienaar,
daarom moet U nie nou die koning, u gesalfde, los nie.
11Die Here het vir Dawid belowe,
en die Here sál doen wat Hy belowe het.
Hy het gesê:
“Ek sal iemand van jou nageslag
op jou troon laat sit.
12As die konings wat ná jou koning sal word,
doen wat my verbond sê,
as hulle gehoorsaam is aan my wette
wat Ek vir hulle geleer het,
dan sal hulle seuns ook
altyd en altyd op jou troon sit.”
13Ja, die Here het vir Sion gekies,
Hy wou hê dit moet sy woonplek wees.
14Hy het gesê:
“Hier wil Ek wees, altyd en altyd,
hier wil Ek woon, want dit is wat Ek wil hê.
15Ek sal vir die mense in die stad
gee wat hulle nodig het,
Ek sal dit altyd meer laat word,
Ek sal vir die mense wat niks het nie
meer as genoeg gee om te eet.
16Die priesters in die stad sal altyd weet
dat Ek hulle sal red,
die mense wat in My glo, sal sing en sing.
17Ek sal daar vir Dawid 'n seun gee,
en die seun sal regeer,
Ek sal 'n lamp laat skyn vir my gesalfde.
18Ek sal sy vyande altyd laat verloor,
maar die kroon sal altyd op sy kop blink.”

Tans Gekies:

Psalms 132: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid