Spreuke 29

29
Wanneer mense doen wat die Here wil hê, dan sal dit goed gaan met hulle
1As jy aanhou om vir iemand te sê hoe hy moet lewe,
maar hy bly hardkoppig,
dan sal dit gou sleg gaan met hom,
en niemand sal hom kan help nie.
2'n Volk is bly wanneer die mense wat regeer,
mense is wat reg doen,
maar 'n volk kla en sug wanneer die mense wat regeer,
mense is wat verkeerd doen.
3'n Pa is bly wanneer sy seun lief is vir wysheid,
maar 'n seun wat altyd na prostitute toe gaan,
verloor alles wat hy het.
4'n Koning wat reg doen,
laat dit goed gaan met sy land,
maar 'n koning wat meer en meer belasting wil hê,
verwoes sy land.
5'n Persoon wat dinge sê
net om iemand anders gelukkig te laat voel,
wil hom in 'n vangnet vang.
6Die slegte mens wat verkeerd doen,
wil iemand in 'n vangstrik laat trap,
maar die mens wat reg lewe, sing vrolik.
7Iemand wat reg lewe,
weet hoe om reg te doen aan arm mense,
maar iemand wat verkeerd doen, wil dit nie weet nie.
8Persone wat altyd wil spot,
maak die mense in 'n stad kwaad,
wyse mense laat daar weer vrede kom.
9Wanneer 'n wyse mens 'n dwaas beskuldig,
dan hou die dwaas aan om te raas
en om die wyse mens te beledig.
10Moordenaars haat iemand
wat heeltemal reg lewe,
maar eerlike mense probeer om so 'n persoon
se lewe te red.
11Wanneer 'n dwaas kwaad is,
dan sê hy alles wat hy dink,
'n wyse mens bly kalm.
12Wanneer 'n koning luister na leuens,
dan sal almal wat vir hom werk,
mense wees wat verkeerd doen.
13'n Arm mens en die persoon wat hom verdruk,
is saam in die wêreld,
die Here laat hulle altwee lewe.
14'n Koning wat regverdig is
wanneer hy arm mense oordeel,
sal lank koning bly.
15Wanneer jy jou kind straf en vir hom sê
hoe hy moet lewe, dan kry hy wysheid,
maar wanneer jy hom los,
dan sal sy ma skaam wees oor hom.
16Wanneer mense wat verkeerd doen,
baie word, dan word die sonde baie,
maar die mense wat reg lewe,
sal sien hoe sleg dit gaan met daardie mense.
17As jy vir jou seun reg geleer het,
dan sal jy tevrede wees met hom,
hy sal jou gelukkig laat voel.
18Wanneer die Here nie vir die profete wys
wat die mense moet doen nie,
dan doen die mense alles wat hulle wil.
Wanneer die mense doen wat die Here wil hê,
dan sal dit goed gaan met hulle.
19Dit help nie om net te praat met 'n slaaf nie,
hy verstaan wat jy sê, maar hy doen nie wat jy wil hê nie.
20Wanneer jy iemand sien wat praat
voordat hy goed gedink het,
dan moet jy dit weet: Dit sal beter gaan
met 'n dwaas as met daardie persoon.
21As jy 'n slaaf bederf het vandat hy klein was,
dan is hy opstandig wanneer hy groot is.
22'n Persoon wat gou kwaad word, laat mense twis,
hy laat mense baie sonde doen.
23Mense sal iemand verneder wat hoogmoedig is,
maar hulle sal 'n nederige mens respekteer.
24Iemand wat nie lief is vir sy eie lewe nie,
neem ook van die goed wat diewe gesteel het.
Hy hoor dat 'n persoon die diewe vervloek
wat sy goed gesteel het, maar hy sê niks.
25Wanneer jy bang is vir mense,
dan kan jy in 'n vangstrik trap,
maar wanneer jy in die Here glo,
dan sal Hy jou beskerm.
26Baie mense doen dinge
sodat die koning van hulle moet hou,
maar dit is die Here wat reg doen aan 'n mens.
27Mense wat reg lewe,
haat iemand wat verkeerde dinge doen,
maar iemand wat verkeerd doen,
haat 'n persoon wat eerlik lewe.

Tans Gekies:

Spreuke 29: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid