Spreuke 24

24
Jy moenie soos slegte mense wil wees nie
1Jy moenie soos slegte mense wil wees nie,
jy moenie verlang om saam met hulle te wees nie.
2Hulle dink altyd oor hoe hulle mense kan seermaak
en doodmaak,
hulle praat altyd oor hoe hulle ander mense
kan laat swaarkry.
3Iemand wat wysheid het, kan 'n huis bou.
As hy verstandig is,
dan kan hy die huis sterk bou
sodat dit vas staan.
4As hy weet hoe om dit te doen,
dan kan hy die kamers volmaak
met baie kosbare en mooi goed.
5Wanneer iemand wysheid het, dan is hy sterk,
en wanneer hy weet hoe om te lewe,
dan word hy nog sterker.
6Ja, jy moet eers jou planne gereedmaak,
dan kan jy oorlog maak,
en jy sal die oorlog wen as jy baie raadgewers het.
7'n Dwaas verstaan niks van wysheid nie,
wanneer leiers praat,
dan kan hy nie saam met hulle praat nie.
8Wanneer iemand planne maak om verkeerde dinge te doen,
dan sê die mense hy is 'n man wat skelm dinge wil doen.
9Wanneer 'n dwaas skelm dinge wil doen,
dan kry hy dit nie reg nie,
want mense haat 'n persoon wat altyd wil spot.
10As jy nie weet wat om te doen wanneer dit gevaarlik is nie,
dan is jy nie sterk genoeg nie.
11Wanneer jy sien dat mense
gevangenes wegsleep om hulle dood te maak,
wanneer jy weet dat hulle sal sterf as jy nie help nie,
dan móét jy hulle red.
12Jy mag nie sê: “Ons het dit nie gesien nie,”
want daar is Iemand wat in jou hart kyk,
Hy weet wat gebeur en Hy kyk wat jy doen,
Hy weet en Hy sal dieselfde aan jou doen
wat jy aan ander mense doen.
13My seun, heuning is lekker om te eet,
stroop is soet in jou mond.
14Die wysheid is ook so,
om te weet wat om te doen, is ook so.
As jy wysheid kry, dan sal dit goed gaan met jou,
en jy sal aanhou lewe.
15Jy moenie wag by die huis van die mens
wat reg lewe nie,
jy moenie planne maak om sy huis
te verwoes nie.
Mense wat verkeerd lewe, doen daardie dinge.
16'n Mens wat reg lewe, kan baie maal val,
maar hy staan elke maal weer op.
Maar wanneer die mense wat verkeerd doen, val,
dan gaan dit sleg met hulle.
17Jy moenie bly wees wanneer jou vyand val nie,
jy moenie juig wanneer hy sterf nie.
18Want die Here sal sien wat jy doen,
en Hy sal nie daarvan hou nie,
Hy sal dan ophou om kwaad te wees vir jou vyand.
19Jy moenie kwaad en ontsteld word oor mense
wat slegte dinge doen nie,
jy moenie probeer wees soos die mense
wat verkeerd doen nie.
20Want dit sal nie goed gaan met iemand
wat verkeerde dinge doen nie,
mense wat verkeerd doen, se lamp gaan dood,
hulle sterf.
21Jy moet die Here én die koning respekteer
en dien,
jy moenie dinge doen saam met mense
wat opstandig is nie,
22want dit gaan gou sleg met daardie mense,
niemand weet wat alles met hulle kan gebeur nie.
23Die volgende spreuke is ook spreuke van mense wat wysheid het.
Wanneer jy moet oordeel
Wanneer jy moet oordeel,
dan is dit verkeerd om téén een persoon te wees
en vír 'n ander persoon te wees.
24Wanneer jy sê iemand wat skuldig is, is onskuldig,
dan sal al die mense jou vervloek,
almal sal wens dat dit sleg moet gaan met jou.
25Maar wanneer jy reg oordeel,
dan sal dit goed gaan met jou,
die Here sal jou seën.
26'n Goeie vriend gee eerlike antwoorde.
27Jy moet eers jou werk buite klaarmaak
en jou koringland ploeg en saai,
daarna kan jy jou huis begin bou.
28Jy moenie 'n getuie teen jou naaste word
as hy niks verkeerd gedoen het nie,
jy moenie dinge sê wat mense verkeerd laat doen nie.
29Jy moenie sê: “Ek sal aan hom doen wat hy
aan my gedoen het,
ek sal hom laat swaarkry oor wat hy gedoen het.”
'n Lui mens word arm
30Ek het verby 'n lui mens se grond geloop,
verby die wingerd van 'n onverstandige mens,
31en ek het gesien dat die hele land vol dorings is,
dit is vol bossies, en die klipmuur het omgeval.
32Toe ek dit sien, het ek daaroor gedink,
ek het gesien wat kan gebeur, en toe het ek dít geleer:
33Wanneer jy elke maal nog 'n bietjie wil slaap,
nog 'n bietjie jou oë wil toemaak,
nog 'n bietjie jou hande wil vou en bly lê,
34dan sal jy arm word soos iemand wat net rondloop
en nie werk nie,
jy sal honger word soos 'n bedelaar.

Tans Gekies:

Spreuke 24: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid