Matteus 9

9
Jesus maak 'n verlamde man gesond
(Ook Mark 2:1-12; Luk 5:17-26)
1Jesus het in die boot geklim en Hy het na die ander kant van die See van Galilea gegaan, na die stad waar Hy gewoon het. 2Die mense het 'n verlamde man wat op 'n slaapmat lê, na Jesus toe gebring. Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak. Toe sê Hy vir die verlamde man: “My vriend, moenie moedeloos wees nie, Ek vergewe jou sondes.”
3Party van die skrifgeleerdes het gehoor wat Jesus gesê het, en hulle sê toe vir mekaar: “Hierdie man maak of hy self God is.”
4Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê toe vir hulle: “Hoekom dink julle hierdie slegte dinge? 5Is dit die maklikste om vir hierdie verlamde man te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of is dit die maklikste om te sê: ‘Staan op en loop’? 6Maar Ek wil vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.”
Jesus sê toe vir die verlamde man: “Staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.”
7Die man het opgestaan en hy het huis toe gegaan. 8Daar was baie mense, en almal het dit gesien. Hulle het bang geword en hulle het God geprys omdat Hy vir mense die krag gee om dit te kan doen.
Jesus roep vir Matteus
(Ook Mark 2:13-17; Luk 5:27-32)
9Jesus het verder geloop. Hy sien toe 'n man by 'n tolhek sit. Die man se naam was Matteus. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My!”
Matteus het opgestaan en hy het saam met Jesus gegaan. 10Jesus het in Matteus se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars het ook saam met Jesus en sy dissipels kom eet. 11Die Fariseërs het dit gesien en hulle vra toe vir Jesus se dissipels: “Hoekom eet julle meneer saam met tollenaars en sondaars?”
12Jesus het gehoor wat die Fariseërs sê, en Hy het vir hulle gesê: “Gesonde mense gaan nie dokter toe nie, net mense wat siek is, gaan dokter toe. 13Julle moet leer wat beteken hierdie woorde:
“Die Here sê: Ek wil nie
offers hê nie,
maar Ek wil hê julle moet
goed wees vir mense.
“Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie. Ek het gekom om sondaars te roep.”
Hoekom Jesus se dissipels nie vas nie
(Ook Mark 2:18-22; Luk 5:33-39; Joh 3:29)
14Johannes se dissipels het na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Ons vas en die Fariseërs vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?”
15Jesus sê toe vir hulle: “Die vriende van die bruidegom kan nie rou wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom weg sal wees, dan sal hulle vas. 16Niemand maak ou klere reg met 'n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word. 17Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, 'n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi, dan sal hy nie die sakke of die wyn verloor nie.”
Jesus maak 'n dogtertjie en 'n vrou gesond
(Ook Mark 5:21-28,34,38-43; Luk 8:40-44,48,52-56)
18Jesus was besig om met hulle te praat, toe kom daar een van die leiers van daardie stad na Hom toe. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesê: “My dogter het nou gesterf. Maar as U kom en u hand op haar sit, dan sal sy weer lewe.”
19Jesus het opgestaan en Hy het saam met die man gegaan, en sy dissipels het saamgegaan. 20Terwyl hulle loop, het daar 'n vrou van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy was siek, sy het twaalf jaar lank aangehou bloei. 21Sy het gedink: As ek net aan Jesus se klere kan raak, dan sal ek gesond word.
22Jesus het omgedraai en haar gesien. Toe sê Hy vir haar: “Mevrou, moenie bekommerd wees nie. Jy het nou gesond geword, want jy het geglo.”
Die vrou het toe dadelik gesond geword.
23Jesus het by die huis van die Joodse leier gekom. Hy sien toe die mense wat altyd op fluite speel by begrafnisse, en baie mense wat hard huil en treur. 24Hy sê toe vir hulle: “Gaan weg. Die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”
Maar die mense het gelag omdat Jesus gesê het sy slaap. 25Jesus het eers al die mense uitgejaag, en toe het Hy in die dogtertjie se kamer ingegaan. Hy het haar hand geneem, en sy het opgestaan. 26Die mense het vir almal in daardie deel van die land vertel wat gebeur het.
Jesus maak twee blinde mense gesond
(Ook Matt 20:29-34; Mark 10:46-52; Luk 18:35-43)
27Jesus het verder gegaan. Twee blindes het agter Hom geloop. Hulle het aangehou om hard te sê: “ Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en help ons!” 28Toe Jesus by die huis kom, het die blindes nader gekom na Hom toe. Hy het vir hulle gevra: “Glo julle dat Ek julle gesond kan maak?”
Hulle het vir Jesus gesê: “Ja, Here.”
29Toe raak Jesus aan hulle oë en Hy sê: “Julle glo dat Ek julle gesond kan maak. Daarom sal dit nou gebeur.”
30Hulle oë het gesond geword, en hulle kon sien. Jesus het ernstig met hulle gepraat en gesê: “Julle moenie vir iemand hiervan vertel nie.”
31Maar toe hulle weggaan van Jesus, het hulle vir almal in daardie deel van die land vertel wat gebeur het.
Jesus laat 'n stom man praat
(Ook Matt 12:22-24; Mark 3:22; Luk 11:14-15; Joh 8:48)
32Die twee mans het weggegaan, en toe bring die mense iemand na Jesus toe. Die man kon nie praat nie, hy was stom. Daar was 'n duiwel in hom. 33Jesus het die duiwel uitgejaag, en toe kon die man praat. Al die mense was baie verbaas en hulle het gesê: “So iets het nog nooit hier by ons, die volk Israel, gebeur nie.”
34Maar die Fariseërs het gesê: “Dit is die leier van die duiwels wat vir Jesus help om die duiwels uit te jaag.”
Die dissipels moet bid dat die Here werkers sal stuur
(Ook Mark 6:34; Luk 10:2)
35Jesus het al die stede en dorpe besoek. Hy het aangehou om vir die mense in hulle sinagoges te leer. Hy het vir hulle vertel van die goeie boodskap dat God Koning is oor almal. Hy het ook al die siek mense gesond gemaak. 36Baie mense het na Jesus toe gekom, en toe Hy al die mense sien, het Hy baie jammer gevoel vir hulle. Hulle het gelyk soos mense wat swaarkry, maar daar was niemand wat hulle kon help nie. Hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. 37Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daar is baie ryp koring om af te sny, maar daar is baie min werkers wat kan help om dit te doen. 38Die ryp koring is die mense wat aan die Here behoort. Julle moet bid tot die Here aan wie die ryp koring behoort en julle moet vra dat Hy werkers sal stuur om sy ryp koring af te sny.”

Tans Gekies:

Matteus 9: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid