Matteus 6:25-33

Matteus 6:25-33 ABA

“Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, oor wat julle sal eet en drink nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam nie, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die voëls. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, hulle pluk nie vrugte nie en hulle maak nie kos bymekaar in 'n stoorkamer nie. Maar julle Vader in die hemel gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. En hoekom is julle bekommerd oor die klere wat julle moet aantrek? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand die plante in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter sorg vir julle as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. “Daarom moet julle nie bekommerd wees nie. Julle moenie vra: ‘Wat moet ons eet?’ of ‘Wat moet ons drink?’ of ‘Wat moet ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge is belangrik vir die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader in die hemel weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God julle Koning is. Julle moet gehoorsaam wees aan Hom en doen wat Hy wil hê. Dan sal Hy al hierdie ander dinge ook vir julle gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid