Jeremia 17

17
Julle sal weggaan
1Die Here sê:
“Niemand kan die sonde
van die mense van Juda uitvee nie.
Dit is geskryf op hulle harde hart
en op die horings van hulle altare
soos 'n mens letters op klip uitkrap
met 'n ysterpen wat 'n diamant-punt het.
2Dit moet hulle laat dink aan hulle seuns,
aan hulle altare en aan hulle gewyde pale
by die groen bome en op die hoë heuwels,
op die berge van die land.
3Ek sal alles wat julle besit,
vir julle vyande gee om te vat,
al julle mooi goed,
want julle het offer-plekke oral in julle land gebou
en julle het sonde gedoen.
4Julle sal moet weggaan uit die land
wat Ek vir julle gegee het,
en Ek sal julle vir julle vyande laat werk
in 'n land wat julle nie geken het nie,
want Ek is kwaad vir julle.
Dit is soos 'n vuur wat altyd sal aanhou brand.”
Die Here vervloek en die Here seën
5Die Here sê:
“Ek vervloek die man wat weggaan van My,
die man wat dink dat 'n mens wat kan sterf,
hom kan help en hom sterk kan maak.
6So iemand sal word soos 'n bossie
in 'n plek waar dit nie reën nie,
'n bossie wat altyd in die warm son staan
en in 'n klip-woestyn groei,
in sout-grond waar niks lewe nie.”
7Die Here sal die man seën wat glo
dat die Here hom sal help en hom sal beskerm.
8So iemand sal wees soos 'n boom
wat naby die water staan.
Sy wortels kom tot by die waterstroom,
en hy voel nie wanneer dit warm word nie.
Sy blare is altyd groen,
en wanneer dit nie reën nie,
dan is hy nie bekommerd nie,
hy hou aan om vrugte te dra.
Mense wat ander mense bedrieg, sal alles verloor wat hulle het
9Mense bedrieg hulleself en ander mense,
hulle kan nie ophou om dit te doen nie,
hulle verstaan hulleself nie.
10Maar Ek, die Here, sien wat mense dink
en wat hulle wil doen,
en Ek straf hulle oor wat hulle doen.
11'n Mens wat ryk word
omdat hy ander mense bedrieg,
is soos 'n fisant wat op ander fisante
se eiers broei.
So 'n mens sal alles verloor wat hy het,
hy sal dit verloor voordat hy oud is,
en hy sal sterf soos 'n dwaas.
Dit sal sleg gaan met die mense wat weggaan van die Here
12Die plek waar ons tempel staan,
was nog altyd hoog,
die Here is daar,
soos 'n koning wat op sy troon sit.
13Here, U is God, Israel hoop op U.
Dit sal sleg gaan met die mense
wat weggaan van U.
U skryf hulle name op, hulle sal sterf,
want hulle het weggegaan van U
wat lewe gee.
U is soos 'n fontein wat altyd water het
en wat mense laat lewe.
Jeremia bid en vra dat die Here sy vyande moet straf
14Here, wanneer U my gesond maak,
dan sal ek gesond wees,
wanneer U my red,
dan sal dit goed gaan met my.
Ja, Ek sal U prys.
15U hoor wat die mense sê.
Hulle vra vir my:
“As die Here jou gestuur het om te praat,
wanneer sal die dinge gebeur wat jy sê?”
16Here, ek het aangehou
om 'n herder te wees vir u volk
en ek het nie gewens dat die dag gou moet kom nie,
die dag wanneer U hulle sal straf.
U weet wat ek gesê het, U het dit gehoor.
17U moenie my laat bang word vir U nie,
want ek wil na U toe kom en veilig wees by U
wanneer U begin om die mense te straf.
18U moet dit sleg laat gaan met my vyande,
U moenie dit met mý sleg laat gaan nie.
U moet húlle bang laat word,
U moenie my bang laat word nie.
U moet nou begin om hulle te straf,
U moet hulle baie swaar laat kry.
Die Sabbatdag
19Die Here het vir my, Jeremia, gesê: “Jy moet in die Volkspoort gaan staan waar die konings van Juda ingaan en uitgaan. Jy moet ook in al die ander poorte van Jerusalem gaan staan, 20en jy moet vir die mense sê: Konings van Juda en al die mense van Juda, en almal wat in Jerusalem woon en wat deur hierdie poorte gaan, julle moet luister na wat die Here sê. 21Die Here sê: Julle moet oppas. As julle wil aanhou lewe, dan moet julle nie op die Sabbatdag iets dra en dit deur die poorte van Jerusalem bring nie. 22Julle moenie op die Sabbatdag iets uit julle huise bring of enige werk doen nie. Die Sabbatdag moet vir julle 'n gewyde dag wees, soos Ek vir julle voorvaders gesê het. 23Julle voorvaders was ongehoorsaam, hulle het nie geluister nie, hulle was hardkoppig en hulle het nie gedoen wat Ek vir hulle gesê het nie. 24Julle moet nou goed luister. Julle moenie op die Sabbatdag iets dra deur die poorte van hierdie stad nie en julle moenie op die Sabbatdag werk nie. Dit moet 'n gewyde dag vir julle wees. 25As julle gehoorsaam is, dan sal daar deur hierdie poorte konings en prinse kom wat sal regeer op die troon van Dawid. Hulle sal op oorlogkarre en perde ry, hulle en hulle amptenare en die mense van Juda en die mense wat in Jerusalem woon. Daar sal altyd mense in hierdie stad woon. 26Hulle sal kom uit die stede van Juda, uit die plekke naby Jerusalem, uit die land Benjamin, uit die Laeveld, uit die Bergland en uit die Suid-land. Hulle sal offers na die tempel bring: brand-offers en koring-offers en wierook-offers, en hulle sal sing en vir die Here dankie sê. 27Maar as hulle nie gehoorsaam is aan My nie en as hulle op die Sabbatdag iets dra deur die poorte van Jerusalem, dan sal Ek die stad aan die brand steek. Die mooi huise van Jerusalem sal verbrand, en die vuur sal aanhou brand.”

Tans Gekies:

Jeremia 17: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid