Jeremia 15

15
Ek wil nie meer jammer wees vir julle nie
1Die Here het vir my gesê: “As Moses en Samuel self vir My kom soebat, dan sal Ek nog nie tevrede voel met hierdie volk nie. Stuur die volk weg, Ek wil hulle nie sien nie. 2En wanneer hulle vir jou vra: ‘Waarnatoe moet ons gaan?’ dan moet jy vir hulle sê:
“ ‘Party van julle sal sterf van pes,
die vyande sal party van julle doodmaak,
party van julle sal sterf omdat daar nie kos
is om te eet nie,
en die vyande sal party van julle vang en wegvat.
3“ ‘Ek sal julle straf op vier maniere: Die vyande sal party van julle doodmaak met swaarde, die honde sal julle dooie liggame wegsleep, die voëls sal julle vleis eet, die wilde diere sal julle opvreet. 4Al die volke van die aarde sal skrik wanneer hulle sien wat met julle gebeur. Ek sal dit doen oor wat Manasse, seun van koning Hiskia van Juda, gedoen het.
5“ ‘Mense van Jerusalem,
niemand sal jammer wees vir julle nie,
niemand sal bekommerd wees oor julle nie,
niemand sal afgaan van sy pad
en kom vra hoe dit met julle gaan nie.
6Julle het My gelos en weggegaan.
Daarom het Ek my hand uitgesteek
en julle plat geslaan,
Ek wil nie meer jammer wees vir julle nie.
7Ek het my volk soos kaf
laat wegwaai van die dorsvloere
by die poorte van die stede.
Ek het my volk se kinders weggevat
en hulle laat sterf.
Maar my volk het nie hulle lewe verander nie.
8Ek het hulle weduwees meer gemaak
as die sand van die see,
Ek het in die middel van die dag
mense laat kom wat die ma's van jongmanne
aangeval het.
Hulle het skielik geskrik en bang geword.
9Ma's wat sewe kinders gehad het, het bleek geword
en kon nie asem kry nie.
Hulle son het ondergegaan toe dit nog dag was,
hulle het gesterf voordat hulle oud was.
Hulle het al hulle kinders verloor
en hulle het nie geweet wat om te doen nie.
En Ek sal vyande laat kom
om almal dood te maak wat nog lewe.’ ”
Almal wens ek sterf
10Ek, Jeremia, het gesê:
“Ma, dit gaan sleg met my.
Ek, jou kind, moet al die mense in die land beskuldig
en vir hulle sê hulle het verkeerd gedoen.
Ek het vir niemand geld geleen nie,
en ek het by niemand geld geleen nie,
maar almal wil hê ek moet sterf.”
11Die Here het vir my gesê:
“Dit is waar,
maar Ek het jou hardkoppig gemaak,
en dit was goed vir jou.
Dit is waar,
maar Ek het jou beskerm teen jou vyande
toe dit sleg gegaan het met jou
en toe jy swaargekry het.”
Ek gee julle goed verniet weg
12Die Here het vir die mense van Juda gesê:
“Julle is soos yster,
maar die vyande uit die noorde
is soos yster en brons,
julle kan hulle nie breek nie.
13Julle almal in julle hele land het sonde gedoen.
Daarom gee Ek julle baie en duur goed
verniet weg, die vyande kan dit vat.
14Julle vyande sal julle wegvat na 'n land
wat julle nie ken nie.
Ek sal dit laat gebeur, want Ek is kwaad vir julle
en Ek wil julle straf.
Dit sal wees soos 'n vuur wat brand.”
Dit help my nie dat ek aan U behoort nie
15Ek, Jeremia, het vir die Here gesê:
“U weet hoe die mense my verneder
omdat ek aan U behoort.
Dink aan my en beskerm my
en straf die mense wat my wil vang
en doodmaak.
Moenie aanhou kwaad wees vir my
en my laat sterf nie.
16Toe U met my gepraat het,
was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet.
Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer,
U het gesê ek behoort aan U.
17Maar ek kon nie saam met ander mense sit
en gesels en lag
en dit geniet nie, ek het alleen gesit
omdat ek aan U behoort.
U was kwaad en U het my ook kwaad laat word.
18Hoekom moet ek aanhou swaarkry en seerkry?
Hoekom verander dit nie?
Dit help my nie dat ek aan U behoort nie,
U is soos 'n rivier waar ek water wil drink,
maar as ek daar kom, dan is dit droog.”
Ek sal jou red en jou vrymaak
19Die Here het toe vir my gesê:
“As jy ophou om so te praat,
dan kan jy terugkom na My toe
en jy kan my dienaar wees.
As jy sê wat jy moet sê en nie terugpraat teen My nie,
dan mag jy my profeet wees.
Daardie mense wat sit en lag,
moet word soos jy,
jy moenie soos hulle word nie.
20Ek maak jou soos 'n sterk muur,
'n muur van brons.
Hulle sal met jou baklei, maar hulle sal jou nie wen nie,
want Ek is by jou en Ek sal jou red en jou vrymaak.
21Ek sal jou vrymaak van die slegte mense,
die mense wat jou wil seermaak.”
Dit sê die Here.

Tans Gekies:

Jeremia 15: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid