Jesaja 58

58
Julle moet vas soos die Here dit wil hê
1Die Here sê:
“Jy moet hard skree,
so hard soos wanneer iemand
'n ramshoring blaas.
Jy moet vir my volk,
die nageslag van Jakob, sê
hulle is opstandig,
hulle doen sonde.
2Hulle vra elke dag
wat Ek wil hê hulle moet doen,
hulle wil graag weet
wat Ek vir hulle wil leer.
Hulle doen dit soos mense
wat reg wil doen
en gehoorsaam wil wees
aan hulle God.
Hulle vra Ek moet
reg oordeel oor hulle,
hulle wil graag hê
Ek moet by hulle wees.
3Maar nou wil hulle weet
hoekom Ek nie sien
wanneer hulle vas nie,
hulle sê hulle verneder hulle
voor My maar Ek sien dit nie.
Sê vir hulle: Julle vas,
maar julle dink net aan julleself
op daardie dag,
en julle laat werk die mense
wat vir julle werk, nog harder.
4Julle vas,
maar julle beskuldig julle werkers
en julle baklei met hulle.
Hulle doen niks verkeerd nie,
maar julle slaan hulle
met die vuis.
Wanneer julle vas
en julle doen hierdie dinge,
dan sal niemand in die hemel luister
wat julle bid nie.
5Julle dink Ek wil hê
julle moet julle verneder
wanneer julle vas.
Julle dink Ek wil hê elkeen moet sy kop laat hang
soos 'n biesie
en elkeen moet rouklere dra
en op die ashoop sit.
Julle sê dit is hoe 'n mens
moet vas,
julle sê dit is waarvan die Here
sal hou.
6Maar as julle wil vas
soos Ek wil hê,
dan moet julle die mense vrymaak
wat gevangenes en slawe is
maar wat niks verkeerd
gedoen het nie.
Julle moet die toue breek
wat hulle vashou
en julle moet die jukke
afhaal van hulle nekke.
7Julle moet vir honger mense
van julle kos gee
en julle moet mense
wat hulleself nie kan help nie
en wat nie huise het nie,
inbring in julle huise.
Julle moet klere gee
vir mense wat nie
klere het nie.
En julle moenie maak
of julle nie sien
dat dit julle eie mense is nie.
8Dan sal dit ook lig word in julle lewens,
so lig soos wanneer die son opkom,
en dit sal gou beter gaan met julle.
Almal sal sien julle doen reg,
en die Here self sal julle beskerm.
9Wanneer julle dit doen en dan roep,
dan sal die Here antwoord.
Wanneer julle vra Hy moet help,
dan sal Hy sê: ‘Hier is Ek.’
As julle ophou
om mense te laat swaarkry
en om ander mense te beskuldig
en oor hulle te lieg,
10en as julle jammer is
vir 'n mens wat honger is
en swaarkry,
en julle gee vir hom
genoeg kos om te eet,
dan sal julle lig hê in die donker.
Julle nag sal soos die helder dag wees.
11Die Here sal julle altyd lei
en Hy sal vir julle genoeg gee,
ook op plekke
waar daar nie plante groei nie.
Hy sal julle sterk maak.
Julle sal wees soos tuine
waar daar baie water is,
soos fonteine
wat altyd water het.
12Julle sal die hope klippe vat
wat baie lank hier lê,
en julle sal weer vir julle huise bou,
en mure vir die stad.
Almal sal sê julle is die mense
wat stukkende mure weer bou
en wat paaie regmaak
sodat julle in die land kan woon.”
'n Fees om die Here te dien
13“Julle moet niks verkeerd doen
op die Sabbatdag nie,
julle moenie op my gewyde dag
doen wat julle wil nie.
Die Sabbatdag moet vir julle
'n feesdag wees,
julle moet die gewyde dag
van die Here respekteer.
Julle moet die dag respekteer
en nie doen wat julle
op ander dae doen nie,
julle moenie doen en praat
wat julle wil nie.
14Dan sal dit vir julle 'n fees wees
om die Here te dien.
Hy sal julle oor die hoogste plekke
laat ry.
Hy sal julle laat eet van die koring
en die vrugte van die land
van julle voorvader Jakob.”
Ja, dit het die Here gesê.

Tans Gekies:

Jesaja 58: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid