Hosea 2

2
Die Israeliete het My vergeet
1Die Here het gesê:
“Julle ma is Israel.
Julle moet vir julle ma sê
sy het verkeerd gedoen,
want sy is nie meer my vrou nie,
en Ek is nie meer haar man nie.
Sy moet ophou
om ontrou te wees
en om egbreuk te pleeg.
2As sy nie ophou
om dit te doen nie,
dan sal Ek al haar klere uittrek,
dan sal sy so kaal wees
soos toe sy gebore is.
Ek sal haar maak
soos 'n woestyn
waar nie water is nie.
Sy sal sterf,
want sy sal nie water hê
om te drink nie.
3Ek sal ook nie
vir haar kinders goed wees nie,
want hulle is ontrou kinders.
4Hulle ma was ontrou,
sy het slegte dinge gedoen,
sy het gesê:
‘Ek is lief vir my gode,
ek sal hulle dien.
Hulle gee vir my brood en water,
wol en vlas, olyf-olie en wyn.’
5Daarom sal Ek nou doringtakke
in haar pad gooi,
en Ek, die Here,
sal 'n klipmuur om haar bou.
Ek sal haar pad toemaak,
sy sal nie kan rondloop nie.
6Sy sal probeer
om by haar afgode te kom,
maar sy sal dit nie regkry nie.
Sy sal hulle soek,
maar sy sal hulle nie kry nie.
Dan sal sy sê:
‘Ek wil teruggaan na my God,
want toe ek Hom gedien het,
was dit beter as nou.’
7“Ja, sy wou nie glo
dat dit Ek is wat vir haar
koring en wyn en olyf-olie gee nie,
en ook baie silwer en goud.
Sy het 'n beeld gemaak van die silwer en goud,
'n beeld van die afgod Baäl.
8“Daarom sal Ek nou
my koring en my wyn terugvat,
daar sal nie koring wees
om af te sny
of druiwe om wyn te maak nie.
Ek sal ook my wol en my vlas wegvat
wat Ek vir haar gegee het
om haar kaal lyf toe te maak.
9Nou sal Ek haar klere uittrek,
en haar afgode sal sien sy is kaal,
maar hulle sal haar
nie kan red nie.
10Sy sal nie meer bly kan wees
oor iets nie.
Daar sal nie meer Hutte-feeste,
Nuwemaan-feeste, Sabbatdae
of ander feeste wees nie.
11Ek sal haar wingerde
en haar vyebome verwoes.
Hulle sal soos die bosse word,
die wilde diere sal hulle vreet.
Sy het gesê:
‘Dit is presente
wat my afgode vir my gegee het.’
12“Ek sal haar straf,
want sy het baie maal
offers gebring vir die Baäls.
Die mense van Israel
is soos slegte vroue
wat hulleself mooi maak
met ringe en juwele
en wat rondloop
en ander mans soek.
Maar vir My het hulle vergeet.”
Dit sê die Here.
Ek sal weer goed wees vir my volk
13Die Here het gesê:
“Maar Ek sal aanhou mooi praat
met die mense van Israel
totdat hulle weer
my volk wil word.
Ek sal hulle terugneem
na die woestyn
en Ek sal mooi dinge vir hulle sê.
14Ek sal weer vir hulle
wingerde gee,
en hulle sal daar
in die Akor-vallei wag
om in die land in te gaan.
Hulle sal daar weer praat
soos in die tyd
toe hulle 'n jong volk was,
toe hulle uit Egipte gekom het.”
15Die Here het ook gesê:
“Daardie dag
sal die mense van Israel sê:
‘U is ons God.’
Hulle sal nie meer sê:
‘U is ons Baäl’ nie.
16Ek sal die Baäls se name wegvat
uit die mense van Israel
se mond,
hulle sal nie meer
oor die Baäls praat nie.
17Daardie dag sal Ek hulle help
om 'n ooreenkoms te maak,
'n ooreenkoms tussen hulle
en die diere en die voëls
en al die klein diertjies
wat op die grond kruip.
Daar sal nie meer oorlog wees
in die land nie,
Ek sal hulle veilig laat woon.”
18Die Here sê vir die mense van Israel:
“Ek sal julle my volk maak,
julle sal altyd my volk wees.
Ek sal dit doen
soos 'n man 'n bruid neem,
dan is die bruid altyd sy vrou.
Ek sal reg doen aan julle.
Ek sal lief wees vir julle
en goed wees vir julle.
19Ek sal julle my volk maak,
julle sal My altyd wil dien.
Julle sal altyd naby
die Here wil wees.”
20Die Here sê:
“Daardie dag sal Ek praat.
Ek sal praat met die lug,
en die lug sal met die aarde praat,
21en die aarde sal praat
met die koring en die wyn en die olyf-olie,
en hulle almal sal praat met die mense
van Jisreël.
22Ek sal die mense van Jisreël
soos saad maak,
Ek sal hulle op die aarde saai.
Ek sal weer goed wees
vir Nie-Weer-Goed-Wees-Nie.
Ek sal vir Nie-My-Volk-Nie sê:
‘Julle is my volk,’
en hulle sal sê:
‘U is ons God.’ ”

Tans Gekies:

Hosea 2: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid