Habakuk 3

3
Die gebed van die profeet Habakuk
1Die gebed van die profeet Habakuk. Die mense moet dit sing soos hulle die lied Sigjonot sing.
2Here, ek het gehoor
die mense praat oor U,
en ek eer U oor alles
wat U gedoen het.
Maar ek vra vir U:
Doen dit nou weer,
wys nou weer vir ons
wat U gedoen het.
U is nou kwaad,
maar U moet asseblief weer
goed wees vir ons.
3God kom van die land Teman,
die heilige God kom van Paran-berg.
Sela
Alles in die hemel eer Hom,
Hy is die Koning.
Al die mense op die aarde
prys Hom.
4Dit is lig rondom Hom,
so lig soos die son,
en uit sy hand kom die weerlig.
Dan sien die mense hoe sterk Hy is.
5Waar Hy kom, word mense siek,
en wanneer Hy weggaan, dan sterf hulle.
6Die aarde bewe waar Hy staan,
die volke bewe waar Hy kyk.
Die berge en die heuwels is baie oud,
maar hulle breek en val.
Die Here loop oor hulle
soos Hy altyd gedoen het.
7Ek sien hoe die Here
die Midianiete straf,
die mense wat in tente woon
in die land Kusan.
Ek sien hoe bewe die mense
in hulle tente
in die land Midian.
8Here, dit lyk of U kwaad is
vir die riviere en die see,
want U kom op u perde
en u oorlogkarre, die wolke.
U kom om u vyande te oorwin.
9U haal u boog uit
en U skiet u pyle, die weerlig.
Die weerlig slaan waar
U gesê het dit moet slaan.
Sela
Dan val die reën
en die riviere sny die aarde.
10Die berge sien U
en hulle bewe.
Die strome water gaan verby.
Die see raas,
en sy branders is groot.
11Die weerlig is u pyle en u spiese.
Wanneer die weerlig slaan,
dan staan die son
en die maan stil.
12U is kwaad, U kom na die aarde.
U is kwaad, U kom die volke straf.
13U kom om u volk te red,
en ook die koning wat U gesalf het.
U maak die leier
van die slegte mense dood
en U breek hulle huise
heeltemal af.
Sela
14Die vyande se soldate
hardloop na ons toe
om ons weg te jaag
na al die kante toe,
maar U maak hulle leier dood
met sy eie spies.
Hulle het gedink u volk is swak,
hulle het gedink hulle sal ons maklik vang
en doodmaak
waar niemand dit sien nie.
Hulle het al klaar bly geword daaroor.
15Wanneer U oor die see ry
met u perde,
dan raas die water.
Die wolke is u perde.
16Ek hoor dit en ek skrik.
My lippe bewe,
my hele liggaam word lam,
my bene ruk.
Ek bly stil en ek wag
dat die dag moet kom.
Ek wag vir die dag
wanneer daardie volk
ook swaar sal kry,
die volk wat teen ons
oorlog gemaak het.
17Die vyeboom kry nie blare nie,
en daar is nie druiwe
aan die wingerdstok nie.
Daar is niks olywe nie,
en ons het nie koring
in ons koringlande nie.
Die vyande het ons skape en bokke
uit ons kampe weggevat,
en daar is nie beeste in die kraal nie.
18Maar ek is bly.
Ek juig oor alles wat die Here doen,
Hy is die God wat my red.
19Die Here maak my sterk.
Hy help my om veilig te loop
oor hoë berge,
so maklik soos 'n ribbok daar loop.
Julle moet op die lier speel en hierdie lied sing.

Tans Gekies:

Habakuk 3: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid