Deuteronomium 7

7
Die Israeliete is die gewyde volk van die Here
1Moses het gesê: “Julle God die Here sal julle bring na die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat. Hy sal baie volke wegjaag om plek te maak vir julle, sewe volke wat meer is as julle en wat sterker is. Dit is die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 2Julle God die Here sal daardie volke oorwin en vir julle gee. Julle moet hulle dan almal doodmaak. Julle moenie 'n ooreenkoms maak met hulle en jammer wees vir hulle nie. 3Julle moet ook nie met hulle trou nie. Julle moenie julle dogters vir hulle seuns gee en hulle dogters vir julle seuns neem om te trou nie. 4As julle dit doen, dan sal julle kinders ophou om die Here te dien en hulle sal ander gode dien. En dan sal die Here kwaad word vir julle en Hy sal julle almal vinnig laat sterf. 5Maar wat julle moet doen, is dít: Julle moet hulle altare afbreek, julle moet hulle klip-pale stukkend breek, hulle gewyde pale afkap en hulle beelde verbrand. 6Hoekom? Julle moet dit doen omdat julle die gewyde volk van julle God die Here is. Dit is vir júlle wat julle God die Here gekies het uit die al die volke op die aarde, Hy het júlle gekies om sy eie volk te wees. 7Die Here het lief geword vir julle en Hy het julle gekies, nie omdat julle 'n groter volk as ander volke was nie, julle was kleiner as al die ander volke. 8Nee, die Here het julle gekies omdat Hy lief was vir julle en omdat Hy wou doen wat Hy vir julle voorvaders belowe het. Dit is hoekom die Here julle met sy groot krag gebring het uit die land waar julle slawe was, Hy het julle losgekoop van die farao, die koning van Egipte. 9Daarom moet julle onthou dat julle God die Here die enigste God is. Hy is die God wat doen wat Hy belowe, die God wat sal doen wat Hy in sy verbond belowe het. Hy sal dit doen vir die mense wat lief is vir Hom en wat doen wat sy gebooie sê, Hy sal dit 1 000 geslagte lank doen. 10Maar Hy sal al die mense straf en laat sterf wat nie lief is vir Hom nie, Hy sal nie vergeet nie, Hy sal hulle straf. 11Daarom moet julle doen wat die wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee. 12As julle gehoorsaam is aan hierdie wette en doen wat die wette sê, dan sal julle God die Here doen wat Hy in sy verbond belowe het vir julle voorvaders. 13Hy sal lief wees vir julle en Hy sal julle seën. Hy sal julle baie laat word, julle sal baie kinders kry. Hy sal vir julle groot koring-oeste, baie wyn en olyf-olie gee, en ook baie kalwers en baie lammers. Hy sal dit alles vir julle doen in die land wat Hy vir julle voorvaders belowe het om vir julle te gee. 14Die Here sal vir julle meer seën as vir ander volke, elke man en vrou sal kinders kan kry, elke koei sal kalwers kan kry en elke skaap-ooi en bok-ooi sal lammers kan kry. 15Die Here sal keer sodat julle nie siek word nie, julle sal nie een van die slegte siektes van Egipte kry nie. Die Here sal daardie siektes nie by julle bring nie, Hy sal dit bring by die mense wat vir julle haat. 16Julle sal al die volke oorwin en doodmaak wat julle God die Here vir julle gee, julle sal nie jammer wees vir hulle nie. Julle moenie hulle gode dien nie, want dan sal julle in 'n vangstrik val. 17Julle sal miskien dink dat daardie volke meer is as julle en julle sal nie weet hoe julle hulle sal kan wegjaag en hulle land vir julleself kan vat nie, 18maar dan moet julle nie bang wees vir hulle nie. Julle moenie vergeet nie, julle moet onthou wat julle God die Here gedoen het aan die farao en aan al die Egiptenaars. 19Julle het self gesien hoe julle God die Here daardie mense laat swaarkry het. Julle het die tekens en die wonderwerke en sy groot krag gesien, Hy het dit gebruik om julle uit Egipte te bring. Julle God die Here sal dieselfde doen met al die volke vir wie julle bang is. 20Ja, julle God die Here sal perdebye stuur teen daardie mense, nie een van hulle sal kan wegkruip en aanhou lewe nie. 21Julle moenie bang wees vir daardie mense nie, want julle God die Here is by julle, en Hy is 'n groot God, almal is bang vir Hom. 22Julle God die Here sal daardie mense wegjaag voor julle, maar julle sal hulle nie almal op dieselfde tyd doodmaak nie, want dan sal die wilde diere in die land te veel word vir julle. 23Maar julle God die Here sal julle laat wen teen daardie mense, en hulle sal baie bang word. Hulle sal nie weet wat om te doen nie, totdat julle hulle almal doodgemaak het. 24Die Here sal julle laat wen teen hulle konings, en niemand op die aarde sal die name van daardie konings onthou nie. Niemand sal kan aanhou om teen julle oorlog te maak nie, julle sal hulle almal doodmaak. 25Maar julle moet hulle gode se beelde verbrand, julle moenie die silwer en die goud wat aan die beelde is, vir julleself wil hê en dit vat nie, want dan sal julle in 'n vangstrik val. Julle God die Here haat daardie beelde. 26Daar is dinge wat die Here haat, julle moenie dit in julle huise bring nie, want dan sal julle ook sterf. Julle moet daardie dinge haat en los, julle moet daardie dinge verwoes.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid