2 Konings 13

13
Joahas, koning van Israel
1Joahas seun van Jehu het in Samaria koning van Israel geword in die drie-en-twintigste jaar nadat Joas seun van Ahasia koning van Juda geword het. 2Joahas het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het dieselfde sondes gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het. Joahas het nie opgehou om hierdie sondes te doen nie. 3Die Here het kwaad geword vir die mense van Israel, en Hy het hulle vyande, koning Gasael van Aram en Ben-Hadad seun van Gasael, gehelp. Israel het die oorloë teen hulle verloor. 4Joahas het vir die Here gevra om hulle sondes te vergewe, en die Here het gedoen wat Joahas gevra het, want die Here het gesien dat die koning van Aram die mense van Israel laat swaarkry. 5Die Here het toe vir Israel 'n redder gegee, en hulle het vry geword van die Arameërs. Die mense van Israel kon toe weer in hulle huise woon, soos voorheen. 6Maar hulle het nog dieselfde sondes gedoen wat die familie van Jerobeam gedoen het en wat hulle die mense van Israel laat doen het. Die gewyde paal het ook nog in Samaria gestaan. 7Joahas het nie genoeg manne gehad om oorlog te maak nie. Daar was net 50 manne wat op perde gery het en tien oorlogkarre en 10 000 ander soldate. Die koning van Aram het die manne van Israel doodgemaak, hy het hulle soos stof getrap.
Joahas sterf
8Al die ander dinge wat Joahas gedoen het, ook die dapper dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 9Joahas het gesterf en sy mense het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joas het koning geword ná hom.
Joas seun van Joahas word koning van Israel
10Joas seun van Joahas het in Samaria koning van Israel geword in die sewe-en-dertigste jaar nadat koning Joas van Juda begin regeer het. Joas seun van Joahas was 16 jaar lank koning in Samaria. 11Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat die mense van Israel laat doen het. 12Al die ander dinge wat Joas gedoen het, ook die dapper dinge toe hy oorlog gemaak het teen koning Amasia van Juda, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 13Joas het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria by die konings van Israel. Jerobeam het daarna koning geword in Joas se plek.
Elisa sê vir Joas hy sal die Arameërs oorwin
14Elisa was baie siek. 'n Kort tyd voordat hy gesterf het, het koning Joas van Israel na hom toe gekom en by hom gehuil en gesê: “My vader, my vader, jy is Israel se oorlogkar en sy soldate op perde!”
15Elisa het vir die koning gesê: “Neem jou pyl en boog.”
Koning Joas het dit gedoen, 16en Elisa het vir hom gesê: “Sit jou hand op die boog.”
Die koning het dit gedoen, en Elisa het sy hande op die koning se hande gesit 17en gesê: “Maak oop die venster na die ooste.”
Joas het dit gedoen, en toe sê Elisa: “Skiet.”
Joas het 'n pyl geskiet, en toe sê Elisa: “Die pyl beteken die Here sal oorwin, die Here sal die land Aram oorwin. Jy sal die Arameërs in die stad Afek oorwin, hulle sal later niks meer kan doen nie.”
18Toe sê Elisa: “Neem die pyle.”
Joas het dit gedoen. Elisa sê toe vir hom: “Slaan daarmee op die grond.”
Koning Joas het drie maal op die grond geslaan en toe het hy opgehou. 19Die man van God het kwaad geword en vir Joas gesê: “Jy moes vyf of ses maal geslaan het, dan sou jy Aram heeltemal oorwin het en hulle sou niks meer kon doen nie. Maar nou sal jy net drie maal vir Aram oorwin.”
Elisa sterf, en sy bene laat iemand weer lewe
20Elisa het gesterf, en sy mense het hom begrawe. Omtrent die einde van daardie jaar het groepe Moabiete in die land gekom en hulle het die mense van Israel aangeval. 21Eendag wou mense iemand gaan begrawe. Hulle sien toe 'n groep Moabiete en hulle gooi die persoon se liggaam in 'n graf, dit was Elisa se graf. Toe die man se liggaam aan Elisa se bene raak, het die man weer begin lewe en hy het regop gaan staan.
Joas oorwin die Arameërs
22Koning Gasael van Aram het die mense van Israel die hele tyd verdruk terwyl Joahas koning was. 23Maar die Here was genadig vir die mense van Israel. Hy was jammer vir hulle en Hy het aan hulle gedink omdat Hy 'n verbond gemaak het met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou nie hê dat die mense van Israel almal moet sterf nie. Hy het toe nog nie besluit om hulle heeltemal te los nie. 24Nadat koning Gasael van Aram gesterf het, het sy seun Ben-Hadad koning geword ná hom. 25Joas seun van Joahas het toe die stede teruggevat van Ben-Hadad. Dit was die stede wat Gasael voorheen in die oorlog gevat het van Joas se pa Joahas. Joas het vir Ben-Hadad drie maal oorwin en hy het die stede van Israel teruggevat.

Tans Gekies:

2 Konings 13: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid