2 Kronieke 26

26
Ussia
(Kyk ook 2 Kon 14:21-22; 15:1-7)
1Al die mense van Juda het vir Ussia geneem en hulle het hom koning gemaak ná sy pa Amasia. Ussia was toe 16 jaar oud. 2Dit is hý wat die stad Elot weer gebou het en wat die stad teruggevat het vir Juda. Ussia het dit gedoen nadat die koning van Edom gesterf het. 3Ussia was 16 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 52 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jekolja, sy was van Jerusalem. 4Ussia het dinge gedoen waarvan die Here hou, hy het gedoen soos sy pa Amasia. 5Ussia het probeer om God te dien terwyl Sagaria gelewe het. Sagaria het vir Ussia geleer om te verstaan wat God vir hom wys, en terwyl Ussia die Here gedien het, het God dit goed laat gaan met hom. 6Ussia het oorlog gaan maak teen die Filistyne. Hy het die mure van die stede Gat, Jabne en Asdod afgebreek en hy het ander stede gebou by Asdod en in die land van die Filistyne. 7God het hom gehelp teen die Filistyne en teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het en teen die Meüniete. 8Die Ammoniete het belasting betaal aan Ussia, en al die mense tot by die grens van Egipte het geweet van hom, want sy leër het baie sterk geword. 9Ussia het sterk torings gebou in Jerusalem by die poort op die hoek en by die poort in die vallei, en by die plek waar die muur draai. 10Hy het ook in die woestyn torings gebou en hy het baie watergate uitgekap, want hy het baie diere gehad, in die Laeveld en op die Hoëveld. Hy het daarvan gehou om te boer, hy het mense gehad wat in sy grond en sy wingerde gewerk het in die berge en in die valleie.
11Ussia het 'n leër gehad van manne wat goed oorlog kon maak, die soldate was in groepe. Die sekretaris Jeüel en die voorman Maäseja het die manne getel en in groepe ingedeel. Gananja was hulle leier, Gananja was een van die amptenare van die koning, hy het gekyk dat hulle alles reg doen. 12Die familiehoofde van die soldate was almal saam 2 600. 13Hulle was die offisiere van 'n leër van 307 500 manne wat goed oorlog kon maak. Hierdie manne kon die koning help teen die vyand. 14Ussia het wapens gegee vir al die manne in die leër. Hy het vir hulle skilde, spiese, helms, harnasse, pyl en boë, en klippe vir die slingervelle gegee. 15Ussia het in Jerusalem groot wapens gehad wat sy slim mense uitgevind en gemaak het. Die groot wapens het op die torings en die hoeke van die stad gestaan en hulle kon pyle en groot klippe skiet.
Ussia word hoogmoedig en toe word hy melaats
Die Here het vir Ussia wonderlik gehelp, en Ussia se leër het sterk geword. Al die mense het geweet van hom. 16Maar toe hy so sterk en belangrik word, het hy hoogmoedig geword, en daarom het dit later sleg gegaan met hom. Hy het ontrou geword aan sy God die Here. Hy het in die tempel ingegaan om wierook te brand op die wierook-altaar. 17 Die priester Asarja het hom gevolg, en saam met Asarja was daar 80 belangrike priesters van die Here. 18Hulle het by koning Ussia kom staan en vir hom gesê: “Ussia, jy mag nie wierook brand vir die Here nie, net die priesters van die nageslag van Aäron is gewy om wierook te brand. Jy moet uitgaan uit die tempel, want jy het 'n verkeerde ding gedoen. God die Here sal sê jy mag dit nie doen nie.”
19Ussia was kwaad. Hy het die wierook-pan in sy hand gehad om die wierook te brand. En terwyl hy kwaad geword het vir die priesters, het hy melaats geword op sy voorkop. Dit het daar by die priesters in die tempel gebeur, by die wierook-altaar. 20Die hoëpriester Asarja en al die priesters het na Ussia gekyk, en hulle het gesien dat Ussia melaats is op sy voorkop. Hulle het hom vinnig uit die tempel geneem, en hy was self haastig om uit te gaan. Die Here het hom gestraf. 21Koning Ussia was melaats tot die dag toe hy gesterf het. Hy het apart in 'n huis gewoon, hy kon nie naby die tempel kom nie omdat hy melaats was. Sy seun Jotam was die hoof van die paleis en hy het regeer oor die mense in die land.
Ussia sterf
(Kyk ook 2 Kon 15:6-7)
22Die profeet Jesaja seun van Amos het die ander dinge wat voorheen en later met Ussia gebeur het, opgeskryf in 'n boek. 23Ussia het gesterf, en hulle het hom begrawe by sy voorvaders. Hulle het hom begrawe in die grond by die begraafplaas van die konings, maar nie in die graf van die konings se familie nie, want hulle het gesê Ussia was melaats. Sy seun Jotam het koning geword ná hom.

Tans Gekies:

2 Kronieke 26: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid