2 Kronieke 21

21
1Koning Josafat het gesterf, en hulle het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad, en sy seun Joram het koning geword ná hom.
Joram
(Kyk ook 2 Kon 8:16-24)
2Joram het broers gehad, hulle was seuns van Josafat. Hulle name was Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarja, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van koning Josafat van Juda. 3Josafat het vir sy seuns baie presente gegee. Dit was silwer, goud, kosbare goed, en ook stede in Juda wat sterk mure het, maar hy het vir Joram koning laat word, want Joram was die oudste. 4Nadat Joram koning geword het en toe hy seker was dat hy koning sal bly, het hy al sy broers laat doodmaak en ook party van die amptenare van Juda. 5Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was ag jaar lank koning in Jerusalem. 6Hy het verkeerd gelewe soos die konings van Israel, soos die familie van koning Agab, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Joram het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. 7Maar die Here wou nie die koningshuis van Dawid laat ophou regeer nie, want Hy het 'n verbond gemaak met Dawid en Hy het belowe om altyd 'n lamp te laat brand vir Dawid en sy seuns, die Here het belowe dat een van hulle altyd koning sal wees.
8In die tyd toe Joram koning was, het die Edomiete opstandig geword teen Juda en die Edomiete het vir hulleself 'n koning gekies en aangestel. 9Joram het na die land Edom gegaan saam met al sy offisiere en sy oorlogkarre. Hy het in die nag gereedgemaak en hy het die Edomiete oorwin wat rondom hom en sy offisiere was. 10Die Edomiete het opstandig gebly teen Juda tot nou toe. Die mense van die stad Libna het in daardie tyd ook opstandig geword teen Joram. Dit het gebeur omdat hy nie die Here, die God van sy voorvaders, gedien het nie. 11Joram het ook offer-plekke gebou in die berge van Juda. Hy het die mense van Jerusalem ontrou laat word en hy het die mense van Juda weggelei van die Here. 12Daar het 'n brief van die profeet Elia by Joram gekom. Elia het geskryf: “Die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Jy lewe nie soos jou pa Josafat of soos koning Asa van Juda gelewe het nie. 13Jy lewe soos die konings van Israel en jy het die mense van Juda ontrou laat word. Jou eie broers was beter mense as jy, maar jy het ook vir hulle vermoor. 14Daarom sal die Here nou jou volk baie swaar laat kry en ook jou seuns en jou vroue en alles wat jy het. 15En jy sal baie siek word in jou maag en jou derms, jy sal 'n lang tyd siek wees totdat jou derms uitkom.”
16Die Here het die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete woon, laat besluit om oorlog te maak teen Joram. 17Hulle het oorlog gemaak teen die koning van Juda en hulle het hom oorwin. Hulle het al die goed gevat wat hulle in die paleis kon kry, en hulle het sy seuns en sy vroue gevang en saamgevat. Hulle het net sy jongste seun Joahas nie gevang nie. 18En nadat dit alles gebeur het, het die Here vir Joram siek laat word in sy maag en derms. Daar was nie medisyne vir daardie siekte nie. 19Hy het sieker en sieker geword, en ná twee jaar het sy derms uitgekom. Hy het baie pyn gehad en hy het gesterf. Die mense het altyd 'n vuur aangesteek om die konings vóór Joram te eer, maar Joram se mense het nie 'n vuur vir hom aangesteek nie. 20Hy was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was ag jaar lank koning in Jerusalem. Niemand was jammer toe hy gesterf het nie. Hulle het hom begrawe in die Dawidstad, maar nie in die grafte waar hulle die konings begrawe het nie.

Tans Gekies:

2 Kronieke 21: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid