2 Kronieke 19

19
Die siener Jehu bring 'n boodskap
1Koning Josafat het veilig teruggekom by sy huis in Jerusalem. Hy het niks makeer nie. 2En toe kom die siener Jehu seun van Ganani na hom toe en hy sê vir Josafat: “Jy het 'n man gaan help wat verkeerd gedoen het en jy hou van mense wat nie lief is vir die Here nie. Daarom is die Here nou kwaad vir jou. 3Maar jy het ook goeie dinge gedoen, want jy het die gewyde pale wat in die land was, laat verbrand en jy het regtig probeer om die Here te dien.”
Josafat kies regters en stel hulle aan
4Josafat het in Jerusalem gewoon, maar hy het weer na die mense toe gegaan, van die stad Berseba in die suide tot by die Efraim-berge in die noorde, en hy het die mense laat terugkom na die Here, die God van hulle voorvaders. 5Hy het regters gekies en aangestel in al die stede van Juda wat sterk mure gehad het. Hy het regters gekies in elke stad, 6en hy het vir hulle gesê: “Julle moet goed dink wat julle doen, want dit is nie ménse wat vir julle gekies het en regters gemaak het nie, dit is die Hére. Hy is by julle wanneer julle moet besluit wat is reg en wat is verkeerd. 7Daarom moet julle bang wees vir die Here, julle moet oppas wat julle doen, want ons God die Here sal nie daarvan hou dat julle mense onregverdig oordeel nie, of dat julle goed is vir party mense en nie goed is vir ander mense nie. Hy sal ook nie daarvan hou dat julle geld neem van party mense en dan verkeerd oordeel nie.”
8Josafat het ook in Jerusalem party Leviete en priesters en familiehoofde van die Israeliete gekies en aangestel om te besluit wat is reg en wat is verkeerd wanneer mense moet doen wat die Here wil hê, hulle moes ook besluit wat is reg en wat is verkeerd wanneer mense mekaar beskuldig. Hierdie regters het in Jerusalem gewoon. 9Josafat het vir hulle gesê: “Julle moet die Here respekteer, julle moet julle werk doen soos Hy wil hê en julle moet dit doen met julle hele hart. 10Die Israeliete wat in die stede woon, sal na julle toe kom en hulle sal vra dat julle moet sê wie het reg gedoen en wie het verkeerd gedoen. Miskien het iemand 'n ander mens doodgemaak of hy het nie gedoen wat die wette van die Here sê nie. Julle moet hulle waarsku om nie verkeerd te doen teen die Here nie, sodat die Here nie vir hulle én vir julle kwaad word nie. Julle moet só werk dat julle nie self skuldig word nie. 11En onthou, die hoëpriester Amarja is julle hoof wanneer julle moet oordeel oor die dinge van die Here, en Sebadja, die stamhoof van Juda, is julle hoof wanneer julle moet oordeel oor die dinge van die koning. Sebadja is die seun van Ismael. Die Leviete is die mense wat vir julle moet help. Julle moet sterk wees. Die Here sal by mense wees wat goed doen.”

Tans Gekies:

2 Kronieke 19: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid