1 Tessalonisense 5

5
Die Here sal skielik weer kom
1Vriende, dit is nie nodig dat ons vir julle moet skryf en sê presies wanneer en hoe die Here sal kom nie. 2Julle weet baie goed dat die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag kom. 3Die mense sal sê: “Daar is nou vrede en ons is veilig,” en dan sal dit skielik baie baie sleg gaan met daardie mense. Dit sal wees soos wanneer 'n vrou 'n baba moet kry, haar pyn kom skielik. Die mense sal glad nie kan wegvlug nie. 4Maar vriende, julle lewe nie in die donker nie, julle weet hoe julle moet lewe. Julle sal gereed wees wanneer die dag van die Here kom. Dit sal nie soos 'n dief na julle toe kom nie. 5Julle almal hou van die lig en van die dag. Ons lewe nie soos mense wat hou van die nag en van die donker nie. 6Daarom moet ons nie slaap soos die mense wat nie in Christus glo nie. Ons moet wees soos mense wat wakker is en nie dronk is nie. 7Mense wat slaap, slaap in die nag, en mense wat dronk word, word in die nag dronk. 8Maar ons wat hou van die dag, ons moenie soos dronk mense wees nie. Ons moet die oorlogklere aantrek wat God vir ons gee: Hierdie klere is 'n harnas en 'n helm. Die harnas help ons om aan te hou glo en om lief te wees vir ander mense. Die helm help ons om aan te hou hoop dat God ons sal red wanneer die Here Jesus Christus weer kom. 9God wil ons nie straf wanneer die Here Jesus Christus weer kom nie. God wil iets anders vir ons gee, Hy wil hê dat die Here Jesus Christus ons moet red. 10Dit maak nie saak of ons nog lewe en of ons al klaar dood is wanneer Hy weer kom nie. Hy het gesterf om ons te red, daarom sal ons ook saam met Hom lewe. 11Daarom moet julle mekaar help om nie moedeloos te word nie en om sterk te wees, soos julle al klaar doen.
Paulus sê 'n paar laaste dinge vir die gemeente in Tessalonika
12Vriende, ons vra vir julle dat julle die leiers moet respekteer wat hard werk daar by julle. Want hulle lei julle soos die Here wil hê, en hulle leer vir julle van Hom. 13Julle moet julle leiers respekteer en baie lief wees vir hulle, want hulle doen belangrike werk. Julle moet só lewe dat daar vrede is tussen julle. 14Vriende, ons vra vir julle baie mooi, julle moet ernstig praat met die mense wat lui is. Julle moet die mense wat maklik moedeloos word, help en bemoedig. Julle moet die mense help wat nie sterk glo nie. Julle moet geduldig wees met almal. 15As iemand slegte dinge gedoen het aan jou, dan moet jy nie ook slegte dinge doen aan hom nie. Julle moet keer sodat niemand dit doen nie. Julle moet altyd goeie dinge probeer doen vir mekaar en vir al die mense. 16Julle moet altyd bly wees. 17Julle moenie ophou bid nie. 18Julle moet altyd dankbaar wees, dit maak nie saak wat gebeur nie. Dit is wat God wil hê julle moet doen omdat julle in Christus Jesus glo.
19Julle moenie keer wanneer die Heilige Gees werk nie. 20Dit beteken julle moenie 'n profeet stilmaak nie. 21Maar julle moet ook nie alles glo wat mense sê nie. Julle moet toets wat mense sê en kyk of dit regtig is wat God wil hê. Dan sal julle weet wat goed is. 22Bly weg van alles wat sleg is.
23Ons bid dat God wat vrede gee, julle aan Hom sal wy sodat julle sal doen wat Hy wil hê. Ons bid ook dat wanneer ons Here Jesus Christus kom, julle heeltemal skoon sal wees, julle gees, julle hart en julle liggaam. Dan sal niemand julle kan beskuldig nie. 24God sal doen wat Hy belowe het, Hy het julle gekies en Hy sal dit doen. 25Vriende, julle moet asseblief ook vir ons bid. 26Groet al die gelowiges met 'n soen wat wys dat julle almal aan Christus behoort. 27Julle moet vir my belowe en die Here moet die getuie wees dat julle hierdie brief vir al die gelowiges sal lees sodat hulle dit kan hoor. 28Ek bid dat die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid