1 Konings 4

4
Salomo se amptenare
1Salomo was die koning van die hele Israel. 2Hier is die name van sy amptenare:
Asarja seun van Sadok was 'n priester,
3Eligoref en Agija seuns van Sisa was die sekretarisse,
Josafat seun van Agilud was die hoof van die amptenare,
4Benaja seun van Jojada was die hoof van die leër,
Sadok en Abjatar was die priesters,
5Asarja seun van Natan was die hoof van die distrikshoofde,
Sabud seun van Natan was 'n priester en 'n raadgewer van die koning,
6Agisar was die hoof van die paleis-personeel
en Adoniram seun van Abda was die hoof van die werkers.
7Salomo het twaalf distrikshoofde in die land Israel gehad. Hulle moes sorg dat daar kos is vir die koning en vir die mense in sy paleis, elkeen moes elke jaar een maand lank kos bring. 8Die name van hierdie distrikshoofde was:
Ben-Gur in die Efraim-berge,
9Ben-Deker in die stede Makas en Saälbim en Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan,
10Ben-Gesed in die stede Arubbot, Soko en die hele Gefer-distrik,
11Ben-Abinadab in die hele distrik Nafat-Dor. Ben-Abinadab was getroud met Salomo se dogter Tafat.
12Baäna seun van Agilud was in die stede Taänak en Megiddo en die hele Bet-San oorkant Saretan suid van Jisreël. Dit is al die plekke van Bet-San tot by die stad Abel-Megola en tot oorkant die stad Jokmoam.
13Ben-Geber was in die stad Ramot-Gilead. Hy was die hoof van die kampe van Jaïr seun van Manasse. Die kampe was in Gilead. Hy was ook die hoof van die Argob-distrik wat in Basan is. Daar was 60 groot stede met sterk mure. Die poorte het sluitbalke van brons gehad.
14Aginadab seun van Iddo was in die stad Maganajim,
15Agimaäs was in die distrik Naftali. Hy was getroud met 'n ander dogter van Salomo, met Basmat.
16Baäna seun van Gusai was in die distrik Aser en Bealot,
17Josafat seun van Paruag was in die distrik Issaskar,
18Simeï seun van Ela was in die distrik Benjamin,
19Geber seun van Uri was in die land Gilead, in die deel van die land waar Sihon koning van die Amoriete was en waar Og koning van Basan was. Daar was net een distrikshoof in hierdie deel van die land.
Dit gaan goed met Salomo en sy mense
20Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand langs die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en hulle was gelukkig. 21Salomo het regeer oor al die lande van die Eufraat-rivier tot by Filistyne-land en die grens van die land Egipte. Die mense van hierdie lande het vir Salomo presente gebring en hulle het vir hom gewerk totdat hy gesterf het. 22Die kos wat hulle elke dag moes bring vir die mense in Salomo se paleis, was 30 kor fynmeel en 60 kor broodmeel, 23tien beeste wat hulle in die stalle kos gegee het en 20 beeste wat in die veld gewei het, 100 skape en bokke, en ook nog takbokke, gaselle, gemsbokke en ribbokke, en hoenders en ganse wat hulle in hokke vetgemaak het. 24Salomo het regeer oor al die lande wes van die Eufraat-rivier, dit was van die stad Tifsag tot by die stad Gasa. Hy het regeer oor al die konings wes van die Eufraat-rivier. Daar was vrede tussen hom en al die konings rondom hom. 25Die mense van Juda en Israel, van die stad Dan in die noorde tot by die stad Berseba in die suide, het veilig gewoon terwyl Salomo gelewe het. Elkeen kon rustig onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom sit.
26Salomo het 40 000 perde in sy stalle gehad vir sy oorlogkarre en hy het 12 000 ryperde gehad. 27Die distrikshoofde het elkeen een maand lank kos gebring vir koning Salomo en vir almal wat by sy tafel geëet het. Daar was genoeg kos vir almal. 28Die distrikshoofde het ook vir die perde genoeg gars en strooi gebring na die plekke waar die perde was.
Die wysheid van Salomo
29God het vir Salomo baie wysheid en verstand gegee, hy het geweet van baie dinge, so baie soos die sand op die strand by die see. 30Hy het meer wysheid gehad as die Oosmense en die mense van Egipte, 31meer wysheid as al die ander mense, meer wysheid as Etan die Esragiet en meer wysheid as Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Almal in die lande rondom Israel het geweet van Salomo. 32Hy het 3 000 spreuke en 1 005 liedere geskryf. 33In die spreuke en liedere het hy gepraat van bome en plante, van die sederbome op die Libanon-berg tot by die hisop-bossies wat uit die mure gegroei het. Hy het ook gepraat van diere en voëls en die klein diertjies wat op die aarde kruip, en oor die visse. 34Mense van al die volke het kom luister na die wysheid van Salomo. Die konings van die aarde wat gehoor het van Salomo se wysheid, het die mense gestuur om na hom te gaan luister.

Tans Gekies:

1 Konings 4: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid