1 Konings 11

11
Salomo dien ander gode
1Koning Salomo was lief vir baie vroue van ander lande. Hy het getrou met die dogter van die farao en ook met Moabitiese vroue, Ammonitiese vroue, Edomitiese vroue, Sidoniese vroue en Hetitiese vroue. 2Die Here het vir die Israeliete gesê: “Julle moenie by daardie volke kom nie, en hulle moenie by julle kom nie, want hulle sal julle verlei om ander gode te dien.”
Dit was die vroue vir wie Salomo lief was. 3Hy het getrou met 700 vroue wat dogters van konings was en met 300 byvroue, en sy vroue het hom verlei. 4Toe Salomo oud geword het, het sy vroue hom verlei om ander gode te dien. Hy het toe nie meer sy God die Here met sy hele hart gedien soos sy pa Dawid gedoen het nie. 5Salomo het begin om vir Astarte te aanbid. Astarte was die godin van die Sidoniërs. Salomo het ook vir Milkom, die afgod van die Ammoniete, aanbid. 6Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het nie aangehou om die Here te dien soos sy pa Dawid nie. 7Hy het op die berg naby Jerusalem 'n offer-plek gebou vir Kemos, die afgod van die Moabiete, en vir Molek, die afgod van die Ammoniete. 8Hy het dit gedoen vir al sy vroue wat van ander lande gekom het, sodat hulle wierook kon brand en kon offer vir al hulle gode. 9Die Here het kwaad geword vir Salomo, want Salomo het opgehou om die Here te dien, Salomo het nie meer die God van Israel gedien nie, die God wat twee maal aan hom verskyn het. 10Die Here het vir Salomo gesê hy moenie ander gode begin dien nie, maar Salomo het nie gedoen wat die Here gesê het nie. 11Die Here het vir Salomo gesê: “Jy het verkeerd gedoen, jy is ongehoorsaam aan my verbond en jy het nie gedoen wat Ek in my wette vir jou gesê het nie. Daarom sal Ek jou land wegvat en Ek sal dit gee vir een van jou amptenare. Ek sal dit doen, dit is seker. 12Maar Ek was lief vir jou pa Dawid, en daarom sal Ek dit nie doen terwyl jy lewe nie. 13Ek sal die land wegvat van jou seun. Ek sal ook nie die hele land wegvat nie. Ek sal vir jou seun een stam laat oorbly omdat Ek lief was vir my dienaar Dawid en omdat Ek lief is vir Jerusalem, die stad wat Ek gekies het.”
Vyande van Salomo
14Die Here het iets laat gebeur sodat Hadad 'n vyand van Salomo geword het. Hadad was 'n Edomiet. Hy was van die koningsfamilie van die land Edom. 15In die tyd toe Dawid gelewe het, het die Israeliete oorlog gemaak teen die Edomiete. Joab, die hoof van die leër, het die manne gaan begrawe wat in die oorlog gesterf het. Joab het al die mans en die seuns in die land Edom doodgemaak. 16Joab en al die manne van Israel het ses maande lank daar gebly, en hulle het al die mans en die seuns doodgemaak. 17Maar Hadad en 'n paar manne van Edom het na Egipte gevlug. Die manne was amptenare van Hadad se pa. Hadad was 'n jong seun. 18Hadad en die manne het uit die land Midian gegaan en hulle het in die land Paran gekom. Hulle het manne van Paran saamgeneem en hulle het in Egipte gekom by die farao, die koning van Egipte. Die koning het vir Hadad 'n huis gegee en hy het gesê hoeveel kos Hadad moet kry. Hy het ook vir Hadad grond gegee. 19Die farao het baie gehou van Hadad en hy het vir hom 'n vrou gegee. Sy was die suster van koningin Tagpenes, die farao se vrou. 20Die suster van Tagpenes het 'n seun gekry. Die seun se naam was Genubat. Tagpenes het die seun, Genubat, in die paleis grootgemaak. Genubat was in die paleis tussen die farao se kinders. 21Hadad het daar in Egipte gehoor dat Dawid en Joab, die hoof van die leër, gesterf het. Hadad sê toe vir die farao: “Jy moet my laat gaan, ek wil teruggaan na my land.”
22Die farao het vir Hadad gesê: “Hoekom wil jy teruggaan na jou land? Ek het vir jou alles gegee wat jy moet hê.”
Hadad het gesê: “Nee, jy moet my asseblief laat gaan.”
23Daar was nog iemand wat 'n vyand van Salomo geword het. Dit was Reson seun van Eljada. Die Here het dit so laat gebeur: Reson het weggevlug van sy koning, koning Hadad-Eser van die land Soba. 24Reson het 'n groep manne bymekaargemaak en hy was hulle leier. Toe Dawid die Arameërs begin doodmaak, het Reson na Damaskus gegaan en hy het daar gaan woon. Die mense van Damaskus het gesê hy moet hulle koning wees. 25Reson was 'n vyand van Israel terwyl Salomo gelewe het en hy het baie slegte dinge gedoen, soos Hadad. Reson was die koning van die Arameërs en hy het Israel gehaat.
Jerobeam vlug na Egipte
26Jerobeam seun van Nebat was 'n amptenaar van koning Salomo. Jerobeam het van Efrat in Sereda gekom en hy was die seun van Serua, 'n weduwee. Jerobeam het opstandig geword teen die koning. 27Dit is hoe dit gebeur het: Salomo het die terras laat bou en hy het ook die stukkende muur van die Dawidstad laat regmaak. 28Die jongman Jerobeam was 'n belangrike man, en Salomo het gesien die jongman kan goed werk. Toe kies Salomo hom om die hoof te wees van al die mense van die Josef-stamme wat vir die koning moes werk. 29Eendag het Jerobeam uit die stad Jerusalem gegaan, en die profeet Agija van Silo het hom langs die pad gekry. Agija het 'n nuwe bo-kleed aangehad en hulle twee was alleen in die veld. 30Agija vat toe sy bo-kleed en skeur dit in twaalf stukke 31en hy sê vir Jerobeam: “Neem vir jou tien stukke, want die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek sal die land wegvat van Salomo en Ek sal vir jou tien stamme gee. 32Salomo sal een stam hou omdat Ek lief was vir Dawid en omdat Ek lief is vir Jerusalem, die stad wat Ek gekies het van al die stede van die stamme van Israel. 33Ek vat die land weg van Salomo en sy familie omdat hulle weggegaan het van My en gebuig het voor Astarte, die godin van die Sidoniërs, en voor Kemos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die Ammoniete. Salomo het nie gelewe soos Ek wou hê nie en hy het nie die regte dinge gedoen waarvan Ek hou nie, die dinge wat Ek in my wette gesê het. Sy pa Dawid het dit gedoen, hy het reg gelewe. 34Maar Ek sal nie die hele land wegvat van Salomo nie, hy sal aanhou regeer terwyl hy lewe. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Dawid wat Ek gekies het, hy het gedoen wat Ek in my wette gesê het. 35Ek sal die land wegvat in die tyd wanneer Salomo se seun regeer en Ek sal die tien stamme vir jou gee. 36Ek sal een stam vir sy seun gee sodat hy hulle koning kan bly, en sodat die lamp van die nageslag van my dienaar Dawid kan aanhou brand in Jerusalem, die stad wat Ek vir My gekies het om aan My te behoort. 37Jerobeam, Ek sal jou neem, en jy sal koning wees oor alles wat jy graag wil hê, jy sal koning wees oor Israel. 38Ek sal dit vir jou doen as jy gehoorsaam is en alles doen wat Ek vir jou sê, en as jy lewe soos Ek wil hê en die regte dinge doen waarvan Ek hou. As jy doen wat Ek in my wette gesê het, soos my dienaar Dawid gedoen het, dan sal Ek by jou wees en Ek sal vir jou 'n nageslag gee wat konings sal wees, soos Ek vir Dawid gegee het, en Ek sal Israel vir jou gee. 39Ek sal die nageslag van Dawid verneder omdat hulle ongehoorsaam was, maar Ek sal nie vir altyd kwaad wees vir hulle nie.’ ”
40Salomo wou vir Jerobeam laat doodmaak. Jerobeam het toe weggegaan en hy het na Egipte gevlug. Hy het na koning Sisak van Egipte gegaan en hy het daar gebly totdat Salomo gesterf het.
Salomo sterf
(Ook 2 Kron 9:29-31)
41Al die ander dinge wat Salomo gedoen het, en sy wysheid, is geskryf in die dagboek van Salomo. 42Salomo was 40 jaar lank koning in Jerusalem oor die hele Israel. 43Salomo het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy pa Dawid. Salomo se seun Rehabeam het koning geword ná Salomo.

Tans Gekies:

1 Konings 11: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid