1 Korintiërs 12:12-26

1 Korintiërs 12:12-26 ABA

'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele. Ja, daar is baie dele, maar die baie dele is saam één liggaam. Christus is ook so. Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom. 'n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele. Die voet sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die hand nie,” maar dan is die voet nog altyd 'n deel van die liggaam. Die oor sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die oog nie,” maar dan is die oor nog altyd 'n deel van die liggaam. As die hele liggaam 'n oog was, dink julle die liggaam sou dan kon hoor? As die hele liggaam 'n oor was, dink julle die liggaam sou dan kon ruik? Nee. Maar nou het God vir die liggaam verskillende dele gegee. Hy het elke deel gegee soos Hy wou. As die hele liggaam net een deel was, dan was daar nie 'n liggaam nie. Nou is daar baie dele, maar daar is net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan ook nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Nee, party dele van die liggaam lyk miskien vir ons swakker as ander dele, maar die liggaam het hulle baie nodig. Ons wil nie hê dat mense party dele van die liggaam sien nie, ons is skaam daarvoor, daarom maak ons dit toe met mooi klere. Maar daar is dele waarvoor ons nie skaam is nie, ons maak dit nie toe met mooi klere nie. Daar is dele van die liggaam wat vir ons minder belangrik lyk, maar God het die liggaam so gemaak dat daardie dele belangriker is. En daarom baklei die liggaam nie met homself nie, want die dele sorg vir mekaar. Wanneer een deel swaarkry, dan kry al die dele saam swaar. En wanneer die mense een deel prys, dan is al die dele saam bly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid