1 Kronieke 22

22
1Dawid het gesê: “Die tempel van God die Here moet hier wees en die brandoffer-altaar van Israel moet hier wees.”
Dawid maak gereed om die tempel te bou
2Daarna het Dawid gesê die vreemdelinge wat in die land is, moet bymekaarkom, en hy het party van hulle gekies en aangestel om klippe reg te kap om die tempel te bou. 3Dawid het baie yster laat gereedmaak vir penne en skarniere vir die deure en die poorte. Die koper was so baie dat hulle dit nie kon weeg nie. 4Daar was ook baie sederhout, dit was te veel om te tel, want die mense van die stede Sidon en Tirus het baie sederhout vir Dawid gebring. 5Dawid het gesê: “My seun Salomo is jonk en swak. Die tempel wat hy moet laat bou, moet baie groot wees. Mense van al die lande moet praat oor hoe mooi hierdie tempel is. Daarom wil ek alles gereedmaak vir hom.”
Dawid het toe baie dinge gereedgemaak voordat hy gesterf het. 6Hy het sy seun Salomo geroep en vir hom gesê hoe hy die tempel van die Here, die God van Israel, moet bou. 7Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Ek wou 'n tempel bou vir my God die Here, 8maar Hy het vir my gesê: ‘Dawid, jy het baie mense doodgemaak en jy het baie oorlog gemaak. Jy mag nie 'n tempel bou vir My nie, want Ek het gesien hoe baie mense jy doodgemaak het op die aarde. 9Kyk, jy sal 'n seun kry, en hy sal lief wees vir vrede. Ek sal hom laat rus, vyande sal nie oorlog maak teen hom nie. Ja, sy naam sal Salomo wees, en in die tyd wanneer hy koning is, sal Ek dit goed laat gaan in die land Israel, alles sal stil wees. 10Dit is hý wat die tempel sal bou waar Ek kan woon. Hý sal vir my 'n seun wees en Ek sal vir hom 'n vader wees. Ek sal hom baie lank oor Israel laat regeer.’ 11Daarom, my seun, ek bid dat die Here by jou sal wees en dat dit goed sal gaan met jou, sodat jy die tempel van jou God die Here sal bou, Hy het gesê jý sal dit bou. 12Ek bid dat die Here jou sal help om dinge te ken en te verstaan, en dat Hy vir jou sal sê hoe jy oor Israel moet regeer. Ek bid dat jy sal doen wat die wette van jou God die Here sê. 13Dit sal goed gaan met jou as jy kyk dat die Israeliete doen wat die Here gesê het en as hulle doen wat Hy besluit het. Die Here het dit alles vir Moses gesê. My seun, jy moet sterk en dapper wees, jy moenie bang wees nie, jy moenie skrik nie. 14Kyk, ek het hard gewerk. Ek het 100 000 talente goud en een miljoen talente silwer bymekaargemaak vir die tempel, en ook so baie brons en yster dat 'n mens dit nie kan weeg nie. Ek het ook hout en klip bymekaargemaak, en jy kan nog meer daarby sit. 15Daar is ook baie werkers wat jy kan gebruik: mense wat klippe kan regkap, ambagsmanne wat met klip en hout kan werk, en mense wat vaardig is om enige werk te doen. 16Daar is so baie goud en silwer en brons en yster dat 'n mens dit nie kan tel nie. Jy moet nou begin en jy moet die werk laat doen. Ek bid dat die Here by jou sal wees.”
17Dawid het vir al die amptenare van Israel gesê hulle moet sy seun Salomo help. 18Dawid het gesê: “Julle God die Here was by julle, Hy het julle laat wen teen al julle vyande. Hy het my laat wen teen die mense wat in die land gewoon het. Die Here en sy volk kon oor almal in die land regeer. 19Nou moet julle hard probeer om te doen wat julle God die Here wil hê, julle moet begin om die tempel van God die Here te bou sodat julle die verbondskis van die Here en die gewyde gereedskap van God kan inbring in die tempel wat julle bou waar die Here kan woon.”

Tans Gekies:

1 Kronieke 22: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid