OPENBARING 8

8
Die groot stilte voor die finale drama
1Toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar stilte in die hemel neergedaal, ongeveer ’n halfuur lank. 2Ek het toe die sewe engele gesien wat voor God stelling inneem. Aan hulle is sewe trompette gegee.
3’n Ander engel het nadergekom en by die altaar gaan staan. Hy het ’n goue wierookbak vasgehou. Baie reukwerk is aan hom gegee om dit te meng met die gebede van almal wat aan God toegewy is#8:3, 4 Of die gebede van al die heiliges., en om dit te offer op die goue altaar wat voor die troon staan. 4Die rookwolk van die reukwerk wat deur die engel geoffer is, is gemeng met die gebede van hulle wat aan God toegewy is#8:3, 4 Of die gebede van al die heiliges., en het opgestyg voor God.
5Toe het die engel die wierookbak geneem, dit vol gemaak met die vuur van die altaar af en dit op die aarde uitgegooi. Donderslae, rammelinge, weerligstrale en ’n aardbewing het toe daarop gevolg.
Vier trompette met vernietigende gevolge
6Die sewe engele wat die sewe trompette vasgehou het, het hulle klaargemaak om daarop te blaas.
7Die eerste engel het op sy trompet geblaas en hael en vuur vermeng met bloed is op die aarde gestort. ’n Derde van die aarde is verskroei. ’n Derde van die bome is verskroei en al die groen gras is verbrand.
8Die tweede engel het op sy trompet geblaas en iets soos ’n hoë berg wat aan die brand is, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword. 9’n Derde van die diere wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe is vernietig.
10Toe het die derde engel op sy trompet geblaas, en ’n reuse ster wat soos ’n fakkel brand, het van die hemel af op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval. 11Die ster word genoem Bitterheid. ’n Derde van die varswater het bitter geword, en ’n menigte mense het doodgegaan van die water omdat dit so bitter gemaak was.
12Die vierde engel het op sy trompet geblaas en ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref sodat ’n derde van hulle verduister is. ’n Derde van die dag het geen lig gehad nie, en só ook die nag.
13Toe het ek gekyk en ’n besondere arend, wat hoog in die lugruim vlieg, met ’n skril stem hoor uitskreeu: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik, hoe vreeslik sal dit nie vir die bewoners van die aarde wees as die oorblywende engele binnekort op hulle trompette blaas nie!”

Tans Gekies:

OPENBARING 8: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid