OPENBARING 12

12
Die draak bedreig die geboorte van die Christuskind
1’n Groot teken het in die hemel sigbaar geword: ’n vrou wat met die son omklee is, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon met twaalf sterre. 2Sy was verwagtend en het geskreeu van die geboortepyne en die benoudheid.
3Daar het ook ’n ander teken in die hemel sigbaar geword: Kyk net – ’n groot rooi draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe was daar sewe koningskrone. 4Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel meegesleur en hulle op die aarde neergegooi. Die draak het reg voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om wanneer sy geboorte skenk, haar kind op te vreet.
5Sy het geboorte geskenk aan ’n manlike kind, wat al die nasies met ’n ysterstaf sal beheer. Haar kind is weggeruk van die draak af, na God en na sy troon toe. 6Die vrou het na die woestyn toe gevlug, waar sy ’n plek gehad het wat deur God vir haar voorberei is sodat hulle haar daar 1 260 dae lank kan versorg.
7Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem, 8maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie. 9Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom.
10Toe het ek ’n kragtige stem in die hemel hoor sê:
“Nou het die verlossing en die krag
en die koninklike heerskappy
van ons God aangebreek,
asook die mag van sy Christus.
Die aanklaer van ons
medegelowiges#12:10 Grondteks broers.
is neergegooi,
hy wat hulle dag en nag
voor ons God aangekla het.
11En hulle het hom self oorwin
op grond van die bloed
van die Lam
en die boodskap
waaroor hulle getuig het.
Hulle het hulle lewens
nie so liefgehad
dat hulle onwillig was
om vir Hom te sterf nie.
12Daarom, juig daaroor, hemele
en dié wat daarin ’n woonplek het!
Hoe vreeslik tog
vir die land en die see,
omdat die duiwel
na julle afgekom het
met fel woede
en met die besef
dat hy net ’n kort tydjie het.”
13Toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou wat geboorte gegee het aan die manlike kind agtervolg. 14Aan die vrou is egter twee groot arendsvlerke gegee sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg. Dáár word sy versorg vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd#12:14 Dit verwys na die simboliese drie en ’n half jaar van vervolging. Vgl 42 maande (11:2; 13:5) en 1 260 dae (11:3; 12:6)., heeltemal buite bereik van die slang.
15Die slang het toe uit sy bek ’n boog water soos ’n rivier agter die vrou aan uitgespoeg sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16maar die aarde het die vrou te hulp gesnel. Die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier wat die draak uit sy bek uitgespoeg het, ingesluk. 17Die draak het toe woedend geword vir die vrou en vertrek om oorlog te gaan maak teen die res van haar afstammelinge wat die gebooie van God gehoorsaam en vashou aan die getuienis wat Jesus gegee het. 18Die draak#12:18 Sommige manuskripte het Ek in plaas van Die draak. het toe op die sand van die see gaan staan.

Tans Gekies:

OPENBARING 12: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid