PSALMS 119

119
U gebooie het ek lief
Alef
1Geseënd is hulle
wat opreg lewe,
wat leef volgens die gebooie
van die Here.
2Geseënd is hulle
wat sy waarskuwings
gehoorsaam,
Hom met volle oorgawe dien,
3nie onreg pleeg nie
en op sy paaie wandel.
4U het ons opdrag gegee
om u bevele noukeurig
te onderhou.
5Mag my optrede voortdurend
weerspieël dat ek
u voorskrifte wil nakom.
6Dan sal ek nie tot skande kom
as ek maar net my oë
op al u gebooie hou nie.
7Wanneer ek
u regverdige bepalings
bestudeer,
wil ek U dank
met ’n opregte hart.
8U voorskrifte sal ek nakom;
moet my net nie verlaat nie!
Bet
9Hoe kan ’n jongmens
’n skoon lewe lei?
Deur sy lewe in te rig
volgens u woord.
10Met my hele hart soek ek U;
moenie dat ek afdwaal
van u gebooie nie.
11Ek het u woord
in my hart gebêre
sodat ek nie teen U
sou sondig nie.
12Geseënd is U, o Here;
leer my u voorskrifte.
13Die bepalings van u mond
het ek met my lippe
bekendgemaak.
14In u voorwaardes
het ek my verlustig
soos ’n mens bly is oor rykdom.
15Ek wil oor u bevele nadink
en let op u weë.
16Ek sal my verbly
in u voorskrifte
en u woord
nie vergeet nie.
Gimel
17Wees goed vir u dienaar
sodat ek mag lewe
en u woord gehoorsaam.
18Maak oop my oë
sodat ek die wonders
kan sien
wat opgeskryf is
in u gebooie.
19Al is ek net ’n vreemdeling
op aarde,
moenie u gebooie
van my weghou nie.
20Ek word voortdurend verteer
deur ’n begeerte
na u bepalings.
21U bestraf trotsaards
en vervloektes
wat afdwaal van u gebooie.
22Weer smaad en belediging
van my,
want ek gehoorsaam
u waarskuwings.
23Al sit en praat heersers saam
teen my,
sal ek u voorskrifte oordink.
24U waarskuwings
is beslis my vreugde;
dit gee my goeie raad.
Dalet
25Ek lê in die stof,
op pad na die graf;
laat my herlewe
volgens u woord.
26My optrede
het ek bekendgemaak,
en U het geantwoord.
Leer my nou u voorskrifte.
27Leer my verstaan
die betekenis van u bevele,
sodat ek u wonders
kan oordink.
28Ek huil van droefheid;
versterk my
soos U in u woord beloof.
29Bewaar my
van leuenagtige weë;
leer my in genade
u gebooie.
30Ek het die betroubare pad
gekies;
ek lewe volgens u bepalings.
31Ek hou vas aan u voorwaardes,
Here.
Moenie dat ek
in skande kom nie!
32Ek sal die pad van u gebooie
navolg,
want U sal my begrip verbreed.
He
33Leer my, Here,
hoe om u voorskrifte
uit te voer
sodat ek hulle
tot die einde toe kan nakom.
34Gee vir my insig
dat ek kan leef
volgens u gebooie,
en dit van harte gehoorsaam.
35Laat my wandel
volgens u gebooie,
want dis waarin ek vreugde vind.
36Laat my verlang
na wat U vereis;
verhoed dat ek
materialisties word.
37Weerhou my
van waardelose dinge;
laat my lewe
volgens u voorskrifte.
38Bevestig opnuut aan my
u belofte,
wat bedoel is vir hulle
wat U dien.
39Neem weg die smaad
wat ek vrees,
want u bepalings is goed.
40Ek verlang van harte
na u bevele.
Laat my lewe
deur u geregtigheid.
Waw
41 Here, laat u troue liefde
my oordek,
die redding
wat U my belowe het.
42Dan kan ek my spotters
antwoord,
want ek vertrou op u woord.
43Laat ek tog
altyd die waarheid praat,
want ek hoop
op u geregtigheid.
44Ek sal u gebooie gehoorsaam
so lank as wat ek lewe.
45Ek sal in vryheid kan lewe,
want ek soek u bevele.
46Voor konings sal ek praat
oor u verordeninge,
sonder om skaam te wees.
47Ek verlustig my in u gebooie
wat ek baie liefhet.
48Met eerbied
lig ek my hande op
vir u gebooie wat ek liefhet.
Ek dink na oor u voorskrifte.
Sajin
49Onthou die beloftes
aan u dienaar,
want U het my laat hoop.
50U belofte laat my weer lewe,
dit vertroos my
in al my ellende.
51Die hoogmoediges
minag my op groot skaal;
tog wyk ek nie af
van u gebooie nie.
52Ek onthou u bepalings
van ouds;
dit vertroos my, Here.
53Ek is baie ontsteld
oor die goddeloses,
hulle wat u gebooie verwerp.
54U voorskrifte is vir my ’n lied
tydens my aardse
vreemdelingskap.
55In die nag dink ek aan U,
Here,
en sal u gebooie gehoorsaam.
56Dit is soos ek gedoen het,
want ek het u bepalings
gehoorsaam.
Get
57 Here, ek behoort aan U!
Ek sê ek wil u woord
gehoorsaam.
58Met my hele hart soek ek U.
Wees genadig
soos U beloof het.
59Ek het my lewenspad oordink
en het teruggedraai
om volgens u voorwaardes
te lewe.
60Ek wil gou maak
en sonder versuim
u gebooie gehoorsaam.
61Bande van bose mense
verstrik my,
maar ek vergeet nie u gebooie nie.
62Middernag staan ek op
om U te dank
vir u regverdige bepalings.
63Ek is ’n vriend vir almal
wat U dien,
vir elkeen wat u bevele
gehoorsaam.
64 Here, die aarde is vol
van u trou;
leer my tog u voorskrifte.
Tet
65U het aan my goedgedoen,
Here,
net soos U belowe het.
66Leer my goeie oordeel
en kennis,
want ek vertrou op u gebooie.
67Voor ek gely het,
het ek telkens afgedwaal,
maar nou leef ek
volgens u woord.
68U is goed en doen net
wat goed is;
leer my u voorskrifte.
69Verwaande mense
het leuens oor my verkondig,
maar ek sal u bevele
met my hele hart uitleef.
70Hulle harte is afgestomp
en koud,
maar ek verlustig my
in u gebooie.
71Die lyding was goed vir my,
want toe het ek u voorskrifte geleer.
72Die gebooie uit u mond
is vir my meer waardevol
as baie goud en silwer.
Jod
73U hande
het my gemaak, my gevorm.
Gee my tog insig
om u gebooie te verstaan.
74U dienaars sal my sien
en bly wees,
want op u woord hoop ek.
75Ek weet, Here,
u bepalings is reg;
op grond van u trou bestraf U my.
76Laat u troue liefde
my nou vertroos
soos U aan u dienaar beloof het.
77Laat u medelye my oordek
sodat ek kan lewe,
want u gebooie
is my vreugde.
78Laat die verwaandes
in skande kom
omdat hulle my vals beskuldig;
maar ek sal u bevele oordink.
79Laat u dienaars terugkom
na my toe,
hulle wat u voorskrifte ken.
80Mag ek onberispelik wees
in die uitleef van u gebooie;
dan hoef ek nooit
beskaam te wees nie.
Kaf
81Ek verlang na u redding;
ek vertrou op u woord.
82Ek ooreis my oë om te sien
wanneer u beloftes
waar word, en vra:
“Wanneer sal U my vertroos?”
83Ek het verskrompel
soos ’n wynsak in rook,
maar ek vergeet nie
u voorskrifte nie.
84Hoe lank moet u dienaar wag?
Wanneer straf U
my agtervolgers?
85Hierdie verwaande mense
wat nie leef
volgens u gebooie nie,
het vir my vanggate gegrawe.
86Al u gebooie is betroubaar.
Help my,
want hulle vervolg
my sonder rede.
87Hulle het my byna
van die aarde af laat verdwyn,
maar ek het geweier
om af te sien van u bevele.
88Op grond van u troue liefde,
spaar tog my lewe
sodat ek kan voortgaan
om u waarskuwings
te gehoorsaam.
Lamed
89U woord, Here, is vir altyd,
dit staan vas in die hemel.
90U trou is vir geslag na geslag,
U het die aarde gevestig,
en dit staan nog vas.
91U bepalings
is vandag nog waar,
want al hierdie dinge is u dienaars.
92As u gebooie
nie vir my vreugde was nie,
sou ek gesterf het
van ellende.
93Ek sal u bevele
nooit vergeet nie,
want daardeur
gee U my die lewe.
94Ek behoort aan U;
red my tog!
Want ek vra na u bevele.
95Bose mense wag my in
om my dood te maak,
maar ek neem u waarskuwings
in ag.
96Selfs volmaaktheid
het sy perke,
maar u gebooie
ken geen grense nie.
Mem
97Hoe lief het ek u gebooie!
Ek oordink dit die hele dag.
98U gebooie gee my meer insig
as wat my vyande het,
want dit is gedurig by my.
99Ek het meer insig
as my leermeesters,
want ek oordink
u waarskuwings.
100Ek het meer begrip
as ouer mense,
want ek lewe volgens u bevele.
101Verkeerde paaie het ek vermy,
sodat ek u woord
kan gehoorsaam.
102Ek het nie afgewyk
van u bepalings nie,
want U het my dit geleer.
103Hoe aangenaam is u woorde
vir my;
dis soeter as heuning
in my mond.
104Deur u bevele kry ek insig;
daarom haat ek
elke valse pad.
Nun
105U woord is ’n lamp
vir my voete
en ’n lig op my pad.
106Ek het reeds belowe,
en ek bevestig:
u regverdige bepalings
sal ek gehoorsaam.
107Ek het baie swaargekry,
Here.
Vernuwe my lewe
volgens u woord.
108 Here, aanvaar die offers
van my mond,
en leer my u bepalings.
109My lewe
is gedurig in die weegskaal,
maar u gebooie
sal ek nie vergeet nie.
110Die goddeloses
stel vir my ’n strik;
tog sal ek van u bevele
nie afdwaal nie.
111U verbondsbepalings is my erfdeel
vir altyd;
dit is die vreugde van my hart.
112Ek wil leef
volgens u voorskrifte,
vir altyd, tot die einde toe.
Samek
113Ek haat besluitelose mense,
maar u gebooie het ek lief.
114U is my toevlug
en beskermer;
ek vertrou op u woord.
115Gaan weg van my,
kwaaddoeners,
want ek gehoorsaam
die gebooie van my God.
116Hou my staande
soos U beloof het
sodat ek kan lewe.
Laat my nie beskaam wees
in my hoop nie.
117Ondersteun my
en ek sal gered word;
ek sal u voorskrifte
altyd eerbiedig.
118U verwerp almal
wat van u voorskrifte afwyk.
Hulle ontrou lei tot selfbedrog.
119Al die bose mense
van die aarde
is soos skuim wat U afskep;
daarom het ek u waarskuwings
lief.
120Ek bewe van vrees vir U;
ek vrees u oordeel.
Ajin
121Moenie my oorlaat
aan die genade
van my vyande nie,
ek het gedoen wat reg
en regverdig is.
122Beloof tog
dat dit goed sal gaan
met u dienaar.
Moenie dat verwaande mense
my verdruk nie.
123Ek ooreis my oë
om u redding te sien
en u woord van geregtigheid.
124Behandel u dienaar
volgens u troue liefde,
en leer my u voorskrifte.
125Ek is u dienaar;
gee my die vermoë
om te onderskei
sodat ek u voorwaardes
kan verstaan.
126Dis tyd dat U optree, Here,
want hulle het u gebooie
oortree.
127Daarom is ek lief
vir u opdragte,
meer as goud,
selfs die fynste goud.
128Omdat elkeen van u bevele
reg is,
haat ek elke verkeerde pad.
Pe
129U voorwaardes is wonderlik;
daarom gehoorsaam ek hulle.
130Begrip van u woord bring lig;
dit gee insig
aan die eenvoudige.
131My mond is oop
en ek snak na asem,
want ek verlang
na u gebooie.
132Kyk tog na my in u genade,
soos U doen vir almal
wat u Naam liefhet.
133Rig my treë
deur u woord
sodat boosheid
my nie oorval nie.
134Red my
van menslike verdrukking
sodat ek u bevele
kan gehoorsaam.
135Laat u guns
oor u dienaar skyn;
leer my al u voorskrifte.
136Trane vloei in strome
oor my wange
omdat mense u gebooie minag.
Sade
137 Here, U is regverdig,
en u oordele is reg.
138U vereistes is regverdig;
dit is baie betroubaar.
139My ontsteltenis oorweldig my,
want my vyande
verontagsaam u woorde.
140U beloftes is deeglik beproef;
u dienaar het dit lief.
141Al is ek gering en verag,
ek misken nie u bevele nie.
142U regverdigheid
duur vir altyd,
en u gebooie is betroubaar.
143Angs en benoudheid
sak op my toe,
maar u gebooie is my vreugde.
144U vereistes is altyd regverdig;
gee my insig
sodat ek kan lewe.
Kof
145Ek roep tot U
met my hele hart;
antwoord my tog, Here!
U voorskrifte
sal ek gehoorsaam.
146Ek roep na U:
Red my,
en ek sal u vereistes
gehoorsaam.
147Voor dagbreek
roep ek om hulp,
en plaas my hoop op u woord.
148Die hele nag lê ek wakker
om u woord te oordink.
149Luister na my roepstem,
Here,
op grond van u troue liefde.
Laat my lewe
op grond van u regverdigheid.
150Sluwe vervolgers
kom al nader,
maar lewe ver van u gebooie af.
151Maar U is naby, Here,
en al u gebooie is betroubaar.
152Van lankal af het ek geweet
dat u eise nooit verander nie.
Res
153Kyk tog na my lyding en red my;
u gebooie
het ek tog nie vergeet nie.
154Behartig tog my saak
en bevry my!
Laat ek lewe soos U beloof het.
155Bose mense
is ver van redding,
want hulle steur hulle nie
aan u voorskrifte nie.
156Groot is u barmhartigheid,
Here!
Hou my lewe in stand
volgens u bepalings.
157My vervolgers en vyande
is talryk;
tog wyk ek nie af van u eise nie.
158Ek kyk met afkeer
na die ontroues,
want hulle misken u woord.
159Sien raak dat ek u bevele liefhet,
Here.
Laat my lewe
op grond van u liefde.
160Alles wat U sê, is betroubaar;
u regverdige bepalings is vir altyd.
Sin
161Heersers vervolg my
sonder oorsaak,
maar al wat ek vrees,
is u woord.
162Ek verheug my
in u woord
soos iemand
wat ’n groot skat ontdek.
163Alle valsheid haat
en verafsku ek,
maar u gebooie het ek lief.
164Ek loof U sewe keer per dag
omdat al u bepalings
regverdig is.
165Hulle wat u gebooie liefhet,
het groot sekuriteit
en niks sal hulle laat struikel nie.
166Ek sien uit na u redding,
Here;
daarom voer ek u gebooie uit.
167Ek het u eise gehoorsaam,
en het dit baie lief.
168Ek gehoorsaam u bevele
en eise,
want U weet van alles
wat ek doen.
Taw
169 Here, luister na my geroep;
gee vir my insig
soos U beloof het.
170Luister tog
na my smeekgebed;
red my soos U beloof het.
171Laat my lippe uitbreek
met lof,
want U het my
u voorskrifte geleer.
172Laat my tong sing
oor u woord,
want u bepalings is regverdig.
173Mag U gereed wees
om my te help,
want u bevele
het ek eerste gestel.
174 Here, ek het verlang
na u redding,
en u gebooie is my vreugde.
175Laat my lewe
sodat ek U kan prys,
en mag u bepalings
my ondersteun.
176Soos ’n verlore skaap
het ek gedwaal;
kom en soek my tog,
want u gebooie
het ek nie vergeet nie.

Tans Gekies:

PSALMS 119: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid