SPREUKE 6

6
Die gevaar van ’n skuldbrief
1My seun, as jy borg staan
vir jou vriend
of instaan vir die skuld
van ’n vreemdeling;
2as jy gevang is deur wat jy sê,
vir jouself ’n strik gestel het
deur jou woorde,
3dan moet jy gou iets daaraan doen,
my seun!
Jy het beland in die mag
van jou vriend.
Gaan probeer jouself loskry.
Gaan dring nederig by hom aan
om dit nietig te verklaar.
4Moenie nog slaap nie.
Moenie dit los
vir ’n ander dag nie.
5Red jou uit sy mag
soos ’n wildsbok
wat die jagter afskud.
Kom daaruit soos ’n voëltjie
wat ontsnap
uit die net van ’n voëlvanger.
Om betyds op te tree
6Jou luiaard,
gaan leer by die mier.
Kyk wat hy doen.
Leer wat wysheid is by hom.
7Hy het nie ’n leier,
of ’n opsigter, of iemand
wat agter hom staan nie.
8Hy kry reeds in die somer
sy kosvoorraad reg.
In die oestyd
maak hy kos bymekaar.
9Jou luiaard, hoe lank
gaan jy nog lê en slaap?
Wanneer gaan jy eendag opstaan
uit jou slaap?
10Nog ’n bietjie verder slaap,
nog ’n bietjie lê en sluimer,
nog ’n bietjie hande gevou lê
om uit te rus.
11Skielik oorval die armoede jou
soos ’n struikrower.
’n Tekort aan kos oorrompel jou
soos ’n gewapende dief.
Die nuttelose mens
12’n Nikswerd mens
en ’n mens vol onreg
verkoop altyd leuens.
13Hy knipoog vir sy maats,
hy beduie met sy voet,
hy gee met die vingers tekens
van sy planne.
14Hy kom altyd
met ’n skelmstreek.
Hy maak moeilikheid
so ver hy gaan.
15Maar so ’n mens
se ondergang
kom baie skielik.
Hy stort in duie
en niks kan hom dan red nie.
Wat die Here haat
16Daar is ses dinge
wat die Here haat,
nee, eintlik sewe dinge
waarvan Hy ’n afsku het:
17oë vol hoogmoed,
’n tong wat lieg,
hande wat onskuldiges doodmaak,
18’n hart wat slegte planne beraam,
voete wat agter kwaad aanloop,
19’n vals getuie
wat leuens verkoop,
en iemand
wat rusie veroorsaak
tussen broers.
Wysheid beskerm jou
20My seun,
gehoorsaam wat jou pa jou leer.
Moenie reëls wat jou ma
vir jou gee,
ignoreer nie.
21Bewaar dit altyd in jou hart.
Dra dit om jou nek.
22Waarheen jy ook al op pad is,
dit sal vir jou die koers aandui.
Dit sal jou beskerm
wanneer jy slaap.
Dit sal jou wys wat jy moet doen
sodra jy wakker word.
23My opdragte
is soos ’n lamp vir jou.
My reëls is vir jou ’n lig.
Vir die een
wat hom laat dissiplineer,
is dit die pad na die lewe.
Die gevaarlike vrou
24Hierdie reëls
sal jou beskerm
teen die onsedelike vrou,
teen die vreemde vrou
wat jou wil verlei
met haar gladde tong.
25Moenie opgewonde raak
omdat sy mooi is nie.
Moenie dat sy jou vang
met die gefladder
van haar wimpers nie.
26’n Prostituut
kan jy vir ’n stukkie brood
in die hande kry.
Owerspel
met ’n ander man se vrou
kan jou egter jou hele lewe kos.
27Kan jy kole vuur
in ’n voorskoot dra
sonder dat jou klere
aan die brand raak?
28Kan jy op brandende kole loop
en nie jou voete skroei nie?
29Net so is dit met iemand
wat by ’n ander man se vrou
gaan slaap.
Niemand wat met haar lol,
sal ongedeerd
daarvan afkom nie.
30’n Dief kan verskoon word
wanneer hy steel,
want hy was honger.
31As hy betrap word,
moet hy sewe maal meer
teruggee,
selfs al kos dit hom
alles wat hy besit.
32Maar die man
wat owerspel pleeg,
is heeltemal dwaas.
Iemand wat dit doen,
verwoes sy hele lewe.
33Hy sal slae verduur
en verneder word.
Niks sal ooit weer
sy skande kan uitwis nie.
34Die verontwaardiging
wat die vrou se man ervaar,
sal brand soos vuur.
Daar sal geen einde
aan sy wraak wees nie.
35Hy sal geen vergoeding
aanvaar nie.
Geen geskenk, hoe groot ook al,
is vir hom genoeg nie.

Tans Gekies:

SPREUKE 6: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid