SPREUKE 4

4
’n Pa gee raad
1Kinders, luister na my!
Gee aandag
aan julle pa se vermaning.
Slaan ag daarop
sodat julle insig kan kry.
2Die opvoeding wat ek julle gee,
is van hoë gehalte.
Moenie my onderrig
ignoreer nie.
3Ek was self ook ’n kind
van my pa,
die enigste oogappel
van my ma.
4My pa het toe ook vir my gesê:
“Hou vas aan wat ek jou leer.
Hou by my voorskrifte
dat jy kan lewe.
5Soek na wysheid
en goeie oordeel.
Moenie my woorde vergeet nie.
Moenie dit laat los nie.
6Moet nooit afstand doen
van die wysheid nie.
Dit sal jou beskerm.
As jy wysheid liefhet,
sal dit jou beveilig.
7Die verstandigste ding
om te doen,
is om eers wysheid te bekom.
Wy jou daaraan toe
om veral onderskeidingsvermoë
te verkry.
8Stel wysheid voorop,
dan sal dit vir jou aansien gee.
Stel dit hoog op prys
en dit sal aan jou eer gee.
9Dit sal jou kroon met voorspoed.
Dit sal vir jou ’n pragtige kroon gee.”
10My seun, luister na my!
Neem my woorde ernstig op.
Dit sal jou lank laat lewe.
11Ek sal jou leer
hoe wysheid werk.
Ek sal jou
op die regte pad lei.
12As jy op jou lewenspad loop,
sal daar nie struikelblokke
op jou pad wees nie.
As jy hardloop,
sal jy nie oor iets val nie.
13Hou vas aan die reëls
wat ek jou leer.
Moet dit nie laat los nie.
Bewaar dit,
want dit verryk jou lewe.
Die kwaaddoeners
14Moenie dieselfde pad loop
as goddelose mense nie.
Bly weg van die pad
van boosdoeners.
15Los hulle pad uit,
moenie daarop gaan nie.
Draai daarvan weg
en kies
’n ander koers.
16Hulle kan nie gaan slaap
as hulle nie kwaad
gedoen het nie.
Hulle kan nie
tot rus kom
as hulle nie iemand anders
ook laat struikel het nie.
17Misdaad is hulle kos.
Geweld is hulle drank.
18Die pad van die regverdiges
is soos die lig met dagbreek.
Dit word al helderder
totdat die volle dag aanbreek.
19Die pad van die goddeloses
is soos stikdonkerte.
Hulle weet nie eers
waaroor hulle
gestruikel het nie.
Hou vas aan wat ek jou leer
20My seun, luister baie goed
na wat ek vir jou sê.
Spits jou ore vir my woorde!
21Moet dit nooit
uit die oog verloor nie.
Hou dit altyd
in gedagte.
22My woorde beteken lewe
vir dié wat daarna luister;
gesondheid vir die hele liggaam.
23Bo alles, wees versigtig
met wat in jou hart aangaan.
Wat jy dink,
bepaal alles wat jy doen.
24Moenie lelike dinge sê nie.
Bly ver weg
van lawwe praatjies.
25Kyk reguit vorentoe;
bly gefokus
op wat voor jou is.
26Merk jou pad
vir jou duidelik af,
dan sal jy seker wees
waarheen jy gaan.
27Moenie links of regs
van jou koers afwyk nie.
Bly weg van wat verkeerd is.

Tans Gekies:

SPREUKE 4: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid