SPREUKE 1

1
Die doel van wysheid
1Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel.
2Die doel van hierdie spreuke
is om mense wysheid te leer
en hulle te onderrig.
Dit sal hulle help
om wyse woorde te verstaan.
3Deur hierdie woorde
sal hulle dissipline leer
en weet hoe om regverdig,
reg en billik op te tree.
4Iemand wat nog onervare is,
sal verstandig word.
Die spreuke sal jongmense
kennis gee
en onderskeidingsvermoë.
5Laat selfs hulle wat wys is,
luister na die spreuke
sodat hulle
tot dieper insig kan kom.
Wie reeds die nodige kennis het,
kan die lewenskuns aanleer
6om die spreuke en sinspelings,
die woorde en raaisels
van wyse mense te begryp.
7Kennis begin met eerbied
vir die Here,
net dwase verag wysheid
en dissipline.
Kry wysheid in die hande
8My seun, luister
na wat jou pa jou leer.
Moenie wat jou ma vir jou sê
in die wind slaan nie.
9Wat jy by hulle leer,
sal jou lewe
met goedheid kroon
en ’n versiering wees
om jou nek.
10My seun, as goddelose mense
jou wil ompraat,
moenie na hulle luister nie.
11Hulle sal miskien vir jou sê:
“Kom saam met ons!
Kom ons gaan lê iemand voor
en vermoor hom.
Kom ons oorval iemand,
al het hy niks
aan ons gedoen nie.
12Ons wil hulle
lewendig laat verdwyn,
net soos in ’n graf,
soos gesonde mense
wat in die dood wegsink.
13Ons wil baie waardevolle dinge
bekom,
ons huise vol maak
met alles wat ons buit.
14Word een van ons!
Dan deel ons in die buit.”
15My seun, met hulle
moet jy nie saamgaan nie.
Bly ver van die pad
waarop hulle loop.
16Hulle loop agter kwaad aan.
Hulle kan skaars wag
om iemand te vermoor.
17Wanneer ’n voël sien
daar is vir hom ’n wip gestel,
dan vlieg hy mos weg.
18Maar hierdie mense
stel vir hulleself ’n hinderlaag op.
Hulle soek self na hulle dood.
19So gaan dit met elkeen
wat met geweld ryk wil word:
sulke rykdom verwoes die lewe
van die een wat dit verkry.
Wysheid se uitnodiging
20Wysheid staan
en roep op die straat.
Op die stadspleine roep sy hardop.
21Sy roep by die plekke
waar mense bymekaarkom.
Sy praat by die ingange
van die stadspoorte.
Haar boodskap is:
22“Hoe lank
gaan julle domkoppe
nog bly klou
aan julle domheid?
Hoe lank gaan die spotters
aanhou met hulle gepratery?
Hoe lank gaan die swape
kennis bly verwerp?
23“As julle reageer
op my berisping,
sal ek my gees
op julle uitstort.
Ek sal my woorde
aan julle bekendmaak.
24Ek het na julle geroep,
maar julle wou nie luister nie.
Ek het my hand uitgesteek
na julle,
maar julle het dit nie gevat nie.
25My raad het julle
geïgnoreer.
Julle wou nie toelaat
dat julle reggehelp word nie.
26Daarom gaan ek lag
wanneer ongeluk julle tref.
Ek gaan met julle spot
wanneer angs julle oorval.
27Ek gaan vir julle lag
wanneer angs
soos ’n storm oor julle losbreek,
wanneer benoudheid julle tref
soos ’n stormwind
en julle in swaarmoedigheid
verval.
28Dan sal hulle
na my begin roep om hulp,
maar ek sal my nie
daaraan steur nie.
Hulle sal desperaat na my soek,
maar hulle sal my nie vind nie.
29Van my kennis
wou hulle mos niks weet nie.
Respek vir die Here
wou hulle mos nie betoon nie.
30Hulle het my raad geïgnoreer.
Omdat ek hulle wou reghelp,
het hulle my mos verag.
31Hulle sal moet sluk
aan die gevolge
van hulle optrede.
Hulle sal maar moet saamleef
met die gevolge
van hulle eie dade.
32“Dwase draai van my af weg
na die dood toe.
Die gekke se dwaling
kos hulle die dood.
Deur hulle selfvoldaanheid
word die dwase vernietig.
33Elkeen wat na my luister,
sal veilig wees.
Vir rampe
hoef hy nie bang te wees nie.”

Tans Gekies:

SPREUKE 1: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid