MALEAGI 2

2
’n Waarskuwing aan die priesters
1“Luister, priesters, hierdie opdrag is vir julle!”
2Die Here, die Almagtige, sê:
“Luister na My,
maak groot erns daarmee.
Julle moet my Naam eer!
As julle dit nie doen nie,
sal Ek ’n vloek oor julle bring.
Selfs julle voorspoed
sal Ek verander in ’n vloek.
Trouens, Ek het dit alreeds vervloek,
want aan my waarskuwing
steur julle julle nie.
3Ook julle nageslag sal Ek straf.
Ek gaan die mis
van die offerdiere
by julle feeste
oor julle gesigte smeer.
Julle sal op die mishoop beland.
4Dan sal julle besef dat dit Ek is
wat hierdie opdrag gestuur het
sodat my verbond met die Leviete
kan voortbestaan,”
sê die Here, die Almagtige.
5“Die doel van my verbond met die
Leviete was om lewe en vrede
te bring.
Dit is wat Ek vir die Leviete gegee het.
Hulle moes My eer en respekteer
en dis presies wat hulle gedoen het.
Hulle het My met diep ontsag bejeën,
6mense in my waarheid onderrig
en nie leuens vertel nie.
In vrede en opregtheid
het hulle saam met My geloop.
Hulle het ook baie mense gehelp
om weg te draai van die sonde.
7“Die priester moet waak
oor die kennis wat hy meedeel.
Hy moet die volk kan leer
wat my wil is,
want hy is die boodskapper
van die Here, die Almagtige.
8Maar dit was nie so met julle nie!”
Die Here, die Almagtige, sê:
“Julle het van my pad afgedwaal.
Julle sogenaamde onderrig
het baie mense laat struikel.
Julle het skade aangerig
aan my verbond met die Leviete.
9“Julle het nie gelewe soos
Ek vereis nie
en was partydig
in julle toepassing van my voorskrifte.
Daarom het Ek veroorsaak
dat julle by die hele volk
verag en verneder word.”
’n Oproep om getrouheid
10Is ons nie kinders van dieselfde
Vader nie?
En is ons nie almal deur een God
geskep nie?
Hoekom bedrieg julle mekaar dan,
verbreek julle die verbond
wat God met ons voorouers
gemaak het?
11In Israel en Jerusalem
het iets afstootliks gebeur:
Juda was ontrou!
Die Here het die tempel baie lief,
maar die mans van Juda
het dit ontheilig
deur te trou met vroue
wat vreemde gode aanbid.
12Mag die Here alle mense
wat so iets doen
uit die gemeenskap van
Israel verwyder,
selfs al bring hulle gereeld offers
aan die Here, die Almagtige.
13Daar is nog iets wat julle doen.
Julle stort trane by die Here se altaar.
Julle huil en kerm,
maar Hy aanvaar nie julle offers
met goeie guns nie.
14Julle roep uit: “Hoekom nie?”
Dis omdat die Here ’n getuie was
toe jy en jou vrou
julle beloftes aan mekaar gemaak het.
Maar jy was ontrou aan haar
ten spyte daarvan dat sy
getrou as jou metgesel gebly het,
die vrou aan wie jy jou
huweliksbeloftes gemaak het.
15Het die Here dan nie man en vrou
een gemaak nie,
een in liggaam en gees?
Hoekom het Hy hulle een gemaak?
Omdat God wou hê daar moet
kinders vir Hom voortspruit.
Wees op julle hoede.
Moenie ontrou wees
aan die vrou van jou jeug nie.
16Die Here, die God van Israel, sê:
“Ek haat egskeiding!
Om te skei is net so gewelddadig
soos om ’n slagoffer
se bebloede baadjie aan te trek.”
Die Here, die Almagtige, sê:
“Wees verantwoordelik
en moenie ontrou wees nie!”
17Julle het die Here moeg gemaak
met julle baie gepraat
en dan vra julle:
“Hoe het ons Hom moeg gemaak?”
Julle het Hom vermoei
deur te sê
dat almal wat kwaad doen
eintlik vir die Here aanvaarbaar is
en dat Hy met hulle tevrede is.
Julle het Hom vermoei deur te vra:
“Waar is die God
wat reg moet laat geskied?”

Tans Gekies:

MALEAGI 2: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid