LUKAS 13

13
Kom tot inkeer of dra die gevolge
1Omtrent hierdie tyd is Jesus meegedeel dat Pilatus ’n aantal mense van Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het by die tempel in Jerusalem. 2“Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as die ander mense van Galilea?” het Hy gevra. “Is dit waarom hulle geboet het? 3Glad nie! En julle sal ook omkom tensy julle tot inkeer kom. 4En wat van die agtien mans wat gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Was hulle die ergste sondaars in Jerusalem? 5Nee, en Ek sê weer vir julle, as julle nie tot inkeer kom nie, sal julle almal ook net so omkom.”
Die onvrugbare vyeboom kry ’n laaste kans
6Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ’n vyeboom in sy tuin geplant en telkens gekom om te kyk of daar al vye aan was, maar hy was altyd teleurgesteld. 7Uiteindelik het hy vir sy tuinier gesê: ‘Kyk, ek kom soek nou al drie jaar lank vrugte aan hierdie boom en kry niks nie. Haal hom uit! Hoekom moet hy die grond nog langer uitput?’
8“Die tuinier het geantwoord: ‘Meneer, gee hom nog een kans. Los hom nog ’n jaar, en ek sal besondere aandag aan hom gee en baie bemesting. 9As ons volgende jaar vye kry, goed. So nie kan u hom uithaal.’”
’n Kromgetrekte vrou kan weer regop staan
10Een Sabbatdag, terwyl Jesus in die sinagoge onderrig gegee het, 11het Hy ’n vrou gesien wat deur ’n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. 12Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: “Vrou, jy is van jou kwaal genees!” 13Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy God nie geloof en gedank nie!
14Maar die hoof van die sinagoge was verontwaardig dat Jesus haar op die Sabbatdag genees het. “Daar is ses dae van die week om te werk,” het hy vir die skare gesê. “Kom op daardie dae om genees te word, nie op die Sabbat nie.”
15Maar die Here antwoord hom: “Julle huigelaars! Julle werk op die Sabbatdag! Wie van julle maak nie op die Sabbat julle os of donkie los in die stal en lei hom uit om te drink nie? 16Was dit nie vir My nodig, selfs op die Sabbatdag, om hierdie arme vrou te bevry van die gevangenskap waarin Satan haar vir agtien jaar gehou het nie?” 17Dit het sy vyande laat skaam kry. En al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het.
Die kleinste saadjie is tot groot dinge in staat
18Toe het Jesus gesê: “Hoe lyk die koningsheerskappy van God? Hoe kan Ek dit illustreer?
19“Dit is soos ’n klein mosterdsaadjie wat in ’n tuin geplant is; dit groei en word ’n boom, en die voëls kom en vind skuiling in sy takke.”
’n Bietjie suurdeeg kan baie meel insuur
20Hy het ook gevra: “Soos wat is die koningsheerskappy van God nog? 21Dis soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik om brood te bak. Alhoewel sy ’n groot klomp meel gebruik, het die suurdeeg elke deel van die deeg deurtrek.”
Die deur na die koninkryk is smal
22Jesus het deur die dorpe en kleiner plekkies beweeg en terselfdertyd mense geleer terwyl Hy steeds na Jerusalem reis. 23Iemand het Hom gevra: “Here, sal net ’n paar mense verlos word?”
Hy het geantwoord: 24“Die deur na die koninkryk van God is nou. Werk hard om in te gaan, want baie sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie. 25Wanneer die eienaar die deur gesluit het, sal julle buite staan en aan die deur klop en smeek: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ 26Julle sal sê: ‘Maar ons het dan saam met U geëet en gedrink, en U het in ons strate onderrig.’ 27En Hy sal antwoord: ‘Ek sê vir julle, Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg, julle almal wat kwaad doen.’
28“En daar sal groot gehuil en gekners van tande wees, want julle sal vir Abraham, Isak, Jakob en al die profete in die koninkryk van God sien, maar julle sal uitgegooi word. 29Dan sal mense van oral oor die wêreld kom om hulle feesplekke in te neem in die koninkryk van God. 30En onthou: party wat nou verag word, sal dan grootliks vereer word; en party wat nou grootliks vereer word, sal dan verag word.#13:30 Grondteks Sommige wat laaste is, sal eerste wees, en sommige wat eerste is, sal laaste wees.
Jesus treur oor sy geliefde Jerusalem
31’n Paar minute later het sommige Fariseërs vir Hom gesê: “Gee pad hier as jy wil lewe, want Herodes Antipas wil jou doodmaak!”
32Jesus het geantwoord: “Gaan sê vir daardie jakkals dat Ek sal aanhou om vandag en môre bose geeste uit te dryf en genesingswonders te doen, en op die derde dag sal Ek my doel bereik. 33Ja, vandag, môre, en die volgende dag moet Ek voortgaan op my reis. Want dit sal ondenkbaar wees dat ’n profeet van God op ’n ander plek as in Jerusalem doodgemaak word!
34“O Jerusalem, Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm, maar julle wou My nie toelaat nie. 35En kyk, nou word julle huis vir julle leeg agtergelaat. En julle sal My nie weer sien nie totdat julle sal sê: ‘Geseënd is die een wat kom in die Naam van die Here!’#13:35 Ps 118:26.

Tans Gekies:

LUKAS 13: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid