JOHANNES 10

10
Skape wat die stem van die Goeie Herder ken, volg Hom
1“Ek verseker julle, iemand wat nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie, maar van die ander kant af oorklim, is ’n dief en ’n rower. 2Iemand wat egter deur die hek toegang verkry, is die herder van die skape. 3Vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. 4Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken. 5’n Vreemdeling sal hulle glad nie volg nie, maar van hom af wegvlug omdat hulle nie die vreemdeling se stem herken nie.”
6Hierdie beeld het Jesus vir hulle vertel. Hulle kon egter nie insien wat Hy vir hulle wou sê nie.
7Toe het Jesus weer ’n keer gesê: “Ek verseker julle, Ek is die deur vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie op hulle reageer nie. 9Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry. 10Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.
“Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.
11“Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape. 12’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle. 13Hy is ’n tipiese kontrakwerker en gee niks vir die skape om nie. 14Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My, 15net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape. 16Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder.
17“Om hierdie rede het die Vader My lief omdat Ek my lewe gee om dit weer op te neem. 18Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit my eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.”
19Daar het toe nog meer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde van Jesus. 20Baie uit hulle geledere het gesê: “Hy is in die mag van ’n bose gees#10:20 Of Hy het ’n demoon. en hy is mal. Waarom luister julle nog na hom?”
21Ander het gesê: “Hierdie woorde is nie dié van iemand wat in die mag van ’n bose gees#10:21a Of in die mag van ’n demoon. is nie. ’n Bose gees#10:21b Of ’n Demoon. kan tog nie blindes se oë oopmaak nie?”
Jesus verduidelik dat Hy en sy Vader één is
22Op daardie tydstip was dit die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem. Dit was winter. 23Jesus het rondgestap in die tempelgebied, in die pilaargang van Salomo. 24Die Joodse leiers het toe ’n kring om Jesus gevorm en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan jy ons nog aan ’n lyntjie hou? As jy die Messias is, sê dit vir ons padlangs.”
25Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. 26Maar julle glo nie omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My. 28Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie. 29My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie. 30Ek en die Vader is één.”
31Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig. 32Jesus het hulle geantwoord: “Ek het julle soveel goeie werke gewys wat van die Vader af kom. Op grond van watter een van hulle wil julle My nou stenig?” 33Die Jode het Hom geantwoord: “Dis nie oor die een of ander besondere daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor laster. Jy wat ’n mens is, doen jouself voor as God.”
34Jesus het hulle nog ’n keer geantwoord: “Is dit nie in julle wet opgeteken dat God gesê het: ‘Julle is gode’#10:34 Ps 82:6. nie? 35As daardie mense wat God se boodskap ontvang het, gode genoem word – en die Skrif kan nie verbreek word nie – 36hoe sê julle dan dat Hy wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is, laster omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? 37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle ophou om in My te glo. 38Maar as Ek dit doen en julle sou nie in Mý glo nie, glo dan die werke sodat julle kan begryp en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”
39Hulle het weer ’n nuwe poging aangewend om Je-sus te arresteer, maar Hy het hulle ontduik.
40Hy het weer teruggegaan na die omgewing oorkant die Jordaan waar Johannes aanvanklik gedoop het, en daar oorgebly. 41Baie mense het na Jesus toe gekom en gesê: “Johannes het geen wonderteken gedoen nie, maar al die dinge wat Johannes oor hierdie man gesê het, was die waarheid.” 42En baie mense het op daardie plek in Jesus begin glo.

Tans Gekies:

JOHANNES 10: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid