JEREMIA 31

31
Hoop op herstel
1Die Here sê:
“Daardie tyd sal Ek
al die families
van Israel se God wees
en hulle sal my volk wees.”
2Hy sê verder:
“Die oorlewendes
sal in die woestyn genade vind.
Daar sal Hy vir Israel rus gee.”
3Lank gelede reeds
het die Here
dit aan ons bekendgemaak:
“Ek het jou lief met ’n liefde
wat nooit ophou nie.
Ek trek jou
met troue liefde
na My toe.
4Ek sal jou weer herbou
soos jy vroeër was,
jong vrou Israel!
Jy sal weer jou tamboeryne
te voorskyn haal.
Jy sal dans en vrolik wees.
5Jy sal weer wingerde plant
teen die berghange
van Samaria.
Die werkers sal die vrugte geniet
wat hulle self geplant het.
6Daar sal ook ’n dag kom
waarop die wagte
in die heuwels van Efraim
sal uitroep:
‘Kom ons gaan na Jerusalem#31:6 Grondteks Sion.,
na die Here ons God!’”
7Die Here sê:
“Sing van blydskap oor Israel!
Roep uit vir die vernaamste
van al die volke!
Laat hulle julle lofprysing hoor
en sê:
Here, red u volk,
die oorblyfsel van Israel.’
8Kyk, Ek sal hulle uit die noorde
terugbring.
Ek sal hulle uit die uithoeke van
die aarde bymekaarmaak.
Onder hulle sal blindes
en kreupeles wees,
ook verwagtende moeders
en vroue op die punt
om geboorte te gee.
’n Groot getal mense
sal hierheen terugkeer!
9Hulle sal al huilend terugkom,
hulle sal bid
terwyl Ek hulle teruglei.
Ek sal hulle langs strome lei.
Hulle sal op ’n reguit pad loop
sodat hulle nie kan struikel nie.
Ek is Israel se pa.
Efraim is my oudste kind.
10“Nasies,
luister na die woord
van die Here,
vertel dit in veraf kuslande.
Die Here het Israel
uitmekaar laat spat,
Hy sal hulle weer byeenbring.
Soos ’n herder sy skape oppas,
so sal Hy hulle versorg.
11Die Here het Israel#31:11 Grondteks Jakob. vrygemaak,
hulle losgekoop
uit die mag van ’n vyand
sterker as hulle.
12Hulle sal terugkom en vrolik sing
op die hoogtes van Jerusalem.
Hulle sal straal van blydskap
oor die goedheid van die Here.
Hy gee graan,
nuwe wyn, olie,
lammers en beeste.
Hulle lewens sal wees
soos ’n tuin met volop water.
Hulle sal nie meer rede hê
om hartseer te wees nie.
13Dan sal die meisies
van blydskap dans.
Die mans, oud en jonk,
sal deel in die vrolikheid.
Ek sal hulle gehuil in
blydskap verander.
Ek sal hulle troos.
Ek sal hulle vreugde gee
in die plek van hartseer.
14Ek sal aan die priesters
oorvloed gee om te offer.
My volk sal tevrede voel
oor die goeie dinge
wat Ek vir hulle gee,”
sê die Here.
’n Gehuil verander in vreugde
15Die Here sê verder:
“Hoor die geluid
van hartseer
en droewige gehuil uit Rama.
Dit is Ragel wat huil
oor haar kinders.
Sy laat niemand toe
om haar te troos nie,
want haar kinders is dood.”
16Maar die Here sê:
“Hou op huil en
droog af jou trane.
Ek sal jou beloon vir jou moeite,”
sê die Here.
“Jou kinders sal terugkom
uit die land van die vyand.
17Daar is hoop vir die toekoms,”
sê die Here.
“Jou kinders sal terugkom
na hulle land toe.
18“Ek het Israel#31:18 Grondteks Efraim. hoor kla:
‘U het ons swaar gestraf,
maar ons het dit verdien.
Ons was soos wilde kalwers
wat nog moes leer.
Bring ons terug en herstel ons,
want U is die Here ons God.
19Ons het afgedwaal,
maar ons is spyt daaroor.
Ons kon onsself skop
dat ons so dom was.
Nou is ons skaam en verleë
oor wat ons in ons jong dae gedoen het.’”
20Die Here sê:
“Is Israel dan nie meer
my dierbare seun nie?
Is hy nie my lieflingkind nie?
Selfs al moes Ek hom straf,
is hy nie uit my gedagtes nie.
Omdat Ek oor hom besorg is,
sal Ek My oor hom ontferm.
21“Plant vir jou rigtingwysers.
Stel vir jou bakens vas.
Neem kennis van die pad
waarlangs jy gegaan het.
Kom terug, jong vrou Israel!
Kom terug na jou eie dorpe.
22Hoe lank sal jy nog hink op twee gedagtes,
ontroue dogter?
Die Here gaan iets nuuts
op aarde laat gebeur:
’n Vrou sal ’n man beskerm.”
23Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die Here seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’ 24Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly. 25Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”
26Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.
27Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek die mense van Israel en Juda sal vermeerder. Ek sal ook die getalle van die diere vermeerder. 28In die verlede het Ek hulle ontwortel en hulle afgebreek. Ek het hulle skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge op hulle pad gebring. Maar in die toekoms sal Ek hulle weer opbou en hulle plant,” sê die Here.
29“In daardie tyd sal mense nie langer sê nie:
“‘Die ouers het suur druiwe geëet
sodat die kinders se tande
stomp geword het.’
30“Mense sal weens hulle eie sonde doodgaan. Elkeen wat die suur druiwe eet, se tande sal stomp raak.”
31Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit. 32Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die Here.
33“Maar so sal die nuwe verbond wees wat Ek na hierdie tyd met Israel sal sluit,” sê die Here. “Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34Dit sal nie vir hulle nodig wees om vir hulle bure of familie te sê: ‘Ken die Here, leef soos die Here van julle verwag,’ nie. Almal, van die geringste tot die belangrikste, sal My reeds ken,” sê die Here. “Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.”
35Dit is wat die Here sê,
Hy wat die son gemaak het
om in die dag te skyn,
en die maan en die sterre
om in die nag lig te maak.
Dit is Hy wat die see onstuimig laat word
om golwe te maak.
Sy Naam is die Here,
die Almagtige, en Hy sê:
36“So min as wat Ek hierdie
natuurwette sal verwyder,
net so min sal die nageslag
van Israel ooit ophou om my volk te wees!”
37Die Here sê:
“Net soos die hemele
nie gemeet kan word,
of die fondasie van die aarde
ondersoek kan word nie,
net so min sal Ek daaraan dink
om die nageslag van Israel vir altyd
weg te gooi vir die verkeerde
dinge wat hulle gedoen het.”
Dit is wat die Here sê!
38Die Here sê: “Die tyd kom wanneer hulle weer die stad vir My sal herbou van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort. 39’n Maatlyn sal loop vanaf hierdie ingang tot by die Garebheuwel en van daar sal dit wegswaai na Goa toe. 40Hulle sal ’n groot gebied vir die Here afsonder. Dit sluit in die begraafplaas en die ashoop in die vallei asook die terrasse tot so ver as die Kidronspruit. In ’n oostelike rigting sal dit wees tot by die ingang bekend as die Perdepoort. Die stad sal nooit weer ingeneem of verwoes word nie.”

Tans Gekies:

JEREMIA 31: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid