JEREMIA 17

17
Juda se sonde en straf
1Die Here sê:
“My volk tree op
asof hulle bose weë
’n wet is wat ingegraveer is
met ’n ysterpen of
’n diamantpunt
op die tafels van hulle hart
en op die horings
van hulle altare.
2Selfs hulle kinders
gaan aanbid by hulle altare
en die Asjerapale
onder elke groen koelteboom
en op elke hoë heuwel,
3op die berge en in die veld.
Daarom sal Ek al julle rykdom
en julle kosbare besittings
vir die vyand gee as buit,
ook die hoë plekke
waar julle afgode aanbid het.
Dit is die prys
vir die sonde
wat julle oral
deur julle land gedoen het.
4Ek het die land vir julle
as ’n kosbare besitting gegee.
Dit sal uit julle hande glip.
Ek sal julle na ’n land stuur
wat julle nie ken nie,
as slawe vir julle vyande.
Julle het ’n vuur
in my woede aangesteek
en dit sal nie
geblus word nie.”
Vertroue in die Here
5Die Here sê:
“Daar rus ’n vloek op dié
wat hulle vertroue stel
in gewone mense,
en nie op die Here
vertrou nie.
6Hulle is soos bossies
in die woestyn
met geen vooruitsig
vir die toekoms nie.
Hulle sal woon
in ’n verskroeide woestyn,
op soutvlaktes
waar niemand kan oorleef nie.
7“Maar gelukkig is dié mense
wat op die Here vertrou
en hulle verwagting
in Hom stel.
8Hulle is soos bome
wat langs ’n rivier staan.
Hulle wortels reik diep
tot by die water.
Hitte bedreig hulle nie,
en hulle blare bly groen.
Lang maande van droogte
pla hulle ook nie.
Hulle hou nie op
om vrugte te dra nie.
9“Die mens se hart
is deur en deur bedrieglik
en boos.
Wie weet regtig hoe sleg dit is?
10“Maar Ek weet!
Ek, die Here,
deursoek mense se harte
en geheime motiewe.
En Ek gee aan almal
wat hulle toekom,
volgens wat hulle gedoen het.”
Jeremia vertrou die Here
11Mense
wat op ’n oneerlike manier
ryk word,
is net soos ’n voël
wat eiers uitbroei
wat sy nie gelê het nie.
Vroeër of later sal hulle
al hulle rykdom verloor.
Aan die einde van hulle lewens
sal hulle niks anders
as dwase wees nie!
12Maar ons aanbid U
by u glansryke troon,
ewig, hoog en glorieryk.
13O Here, hoop van Israel,
almal wat van U wegdraai,
sal beskaam word.
Hulle sal in die stof
begrawe word,
want hulle het weggedraai
van die Here,
die fontein van lewende water.
14 Here, U alleen
kan my gesond maak.
U alleen kan my red.
U alleen prys ek!
15Die mense vra my:
“Waar is die kamtige boodskap
van die Here?
Laat dit nou ’n bietjie waar word!”
16Here,
ek het nie my taak opgegee
om ’n herder vir u volk te wees nie.
Ek het ook nie by U aangedring
om rampe oor hulle te bring nie.
Dit is u boodskap
wat ek aan hulle gegee het,
nie my eie nie.
17 Here, moenie my nou verlaat nie!
U alleen is my toevlug
as onheil toeslaan.
18Laat dié wat my vervolg
in die skande kom.
Laat húlle vreesbevange word,
maar nie ek nie!
Laat verwoesting
dubbel en dwars oor hulle kom!”
Onderhou die Sabbat
19Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by die poorte van Jerusalem, eers die poort wat die konings van Juda gebruik waardeur hulle in- en uitgaan, en dan by al die ander poorte.
20“Sê vir die mense wat hierdie poorte gebruik: ‘O konings, al julle mense van Juda en ook julle wat in Jerusalem bly, hoor die boodskap van die Here. 21Hy sê: Luister sodat julle kan bly lewe! Hou op om op die Sabbatdag handel te dryf in Jerusalem se poorte. 22Moenie op die Sabbatdag werk nie. Maak van die Sabbat ’n heilige dag soos Ek julle voorouers beveel het om te doen. 23Maar hulle was ongehoorsaam en wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die voorskrifte navolg nie.’
24“Maar die Here sê: ‘As julle My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die Sabbatdag nie en ook nie op dié dag werk nie, maar dit ter wille van My heilig hou, 25sal daar ’n toekoms vir hierdie volk wees. Daar sal altyd ’n koning uit die familielyn van Dawid in Jerusalem regeer. Die konings en amptenare sal by die poorte van Jerusalem ingaan. Hulle sal op strydwaens en perde ry en tussen die mense van Juda wees.
“‘Daar sal ook altyd mense in Jerusalem woon. 26En mense sal uit die dorpe van Juda en die omgewing van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land#17:26a Grondteks Sjefela., van die berge en die woestyngebied in die suide#17:26b Grondteks Negev. na Jerusalem toe kom. Hulle sal brandoffers, graanoffers, wierook en dankoffers na die tempel van die Here bring.
27“‘Julle moet na My luister en die Sabbatdag heilig hou. As julle dit nie doen nie en aanhou om op die Sabbatdag julle handelsware rond te dra deur die poorte van Jerusalem soos op ander dae, sal Ek daardie poorte aan die brand steek. Die vuur sal van die poorte af na die paleise versprei. Niemand sal in staat wees om die vuur te blus nie.’”

Tans Gekies:

JEREMIA 17: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid