GALASIËRS 4

4
1Ek bedoel: Solank ’n erfgenaam minderjarig is, verskil sy posisie nie eintlik van dié van ’n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. 2Tot op die dag wat die pa bepaal het, staan die erfgenaam onder toesig en bestuur.
3Toe ons nog geestelik minderjarig#4:3 Of babatjies. was, het ons die magte van die wêreld soos slawe gedien. 4Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore, onder die wet, 5sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word#4:5 Grondteks die kindskap kan ontvang.. 6En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe#4:6 Grondteks in ons harte gestuur.. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”. 7Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind. En as sy kind het God jou sy erfgenaam gemaak!
Paulus is bekommerd oor die Galasiërs
8Toe julle God nog nie geken het nie, was julle slawe van gode wat nie regtig gode is nie. 9Nou ken julle egter vir God, of eerder: God ken julle. Hoe is dit dan moontlik dat julle weer na die patetiese en armsalige magte van die wêreld wil terugkeer om hulle soos slawe te dien? 10Julle hou aan om spesiale dae, maande, seisoene en jare te vier! 11Ek is bekommerd oor julle.#4:11 Of Julle maak my bang. Al my harde werk onder julle was dalk verniet.
12Broers en susters#4:12 Grondteks Broers., ek pleit by julle: Word soos ek, want ek is ook soos julle.
Julle het my nooit enige kwaad aangedoen nie. 13Julle onthou mos nog die eerste keer toe ek die Goeie Nuus#4:13 Of evangelie. aan julle verkondig het. Ek het na julle gekom terwyl ek siek was. 14Hoewel my siekte vir julle ’n beproewing was, het julle nie vir my gegril of my vermy#4:14 Grondteks uitgespoeg. nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek ’n engel, ja, asof ek Christus Jesus self was.
15Julle het julleself destyds as bevoorreg beskou. Wat het dan nou gebeur? Ek kan regtig daarvan getuig dat julle, as dit moontlik was, selfs julle oë sou uitgeruk het om hulle vir my te gee. 16Het ek nou vir julle ’n vyand geword omdat ek julle eerlik die waarheid vertel?
17Die ander mense wat skynbaar so baie ywer vir julle het, het nie goeie bedoelings nie. Hulle wil ’n wig tussen ons indryf sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. 18Dit is goed om jou vir ’n goeie saak te beywer. Maar doen dit dan altyd, en nie net as ek daar by julle is nie.
19Ag, my kinders, totdat Christus in julle lewens vorm aanneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle. 20Ek wens dat ek op hierdie oomblik by julle kan wees en op ’n ander trant met julle kan praat, want ek is regtig bekommerd oor julle.
Abraham se twee seuns as voorbeeld
21Sê vir my, julle wat so graag aan die wet onderwerp wil wees: Hoor julle nie wat die wet sê nie? 22Daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by ’n vrou wat ’n slaaf was en een by ’n vrou wat vry was.#4:22 Gen 16:15; 21:2-3.
23Die seun van die slavin het sy geboorte te danke aan die mens se eie planne, en die seun van die vrou wat vry was, aan God se belofte.
24Hierdie dinge moet figuurlik verstaan word. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Hagar staan vir die verbond wat by Sinaiberg gesluit is. Dié verbond bring slawerny voort. 25Hagar, wat vir Sinaiberg in Arabië staan, is ook ’n beeld vir die huidige Jerusalem. Jerusalem en haar inwoners#4:25 Of kinders. leef in slawerny. 26Maar die hemelse Jerusalem is vry en sý is ons moeder! 27Daar staan geskryf:
“Wees baie bly,
onvrugbare vrou,
jy wat nie kinders kon hê nie!
Jubel en juig,
jy wat nooit
ma kon word nie.
Want die vrou
wat deur haar man verlaat is,
het meer kinders as die vrou
wie se man by haar is.”#4:27 Jes 54:1.
28Broers en susters#4:28, 31 Grondteks Broers., soos Isak is julle beloftekinders. 29Maar, soos destyds, toe die seun wat sy geboorte aan die mens se planne te danke het, die seun wat sy geboorte aan die Gees te danke het, vervolg het, so is dit ook vandag die geval.
30Maar wat sê die Skrif? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die vrou wat vry is, mag nie saam met die seun van die slavin erf nie.”#4:30 Gen 21:10.
31Met ander woorde, broers en susters#4:28, 31 Grondteks Broers., ons is nie kinders van ’n slavin nie, maar van die vrou wat vry is.

Tans Gekies:

GALASIËRS 4: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid