EKSODUS 15

15
’n Lied van Bevryding
1Moses en die Israeliete het toe hierdie lied vir die Here gesing:
Ek wil oor die Here sing,
want Hy is geweldig groot;
Hy het perd en oorlogwa
in die see gesmyt.
2My krag en my sterkte
kom van die Here.
Hy gee my die oorwinning.
Hy is my God.
Ek wil Hom loof.
Hy was my voorouers se God.
Ek wil sy Naam verhoog.
3Die Here is ’n vegter;
sy Naam is “Here”.
4Die farao se oorlogwaens
en weermag
het Hy in die see gegooi.
Die dapperste van die farao se
offisiere
het in die Rietsee verdrink.
5Massas water
het oor hulle toegevou;
hulle het soos ’n klip
in die dieptes weggesink.
6U regterhand, Here, is sterk.
U regterhand, Here,
verbrysel die vyand.
7U is geweldig hoog.
U verpletter hulle
wat U probeer teenstaan.
U woede bars los, U verwoes hulle
soos vuur wat gras verbrand.
8U het op die water geblaas
en dit het opgedam!
Die water het opgestapel
soos ’n muur;
waters in die middel van die see
het soos ys gestol.
9Die vyand het gesê:
Ek sal hulle agternasit;
ek sal hulle inhaal en vernietig,
ek sal hulle plunder;
ek sal my op hulle wreek,
ek sal my swaard uitpluk;
ek sal hulle
met geweld verwoes.
10Toe U op die see geblaas het,
het die see oor hulle gespoel.
Hulle het soos lood gesink
in die massas water.
11Wie van die gode
kan met U vergelyk word,
Here?
Wie is so hoog en heerlik
soos U?
Wie is so vreesaanjaend groot?
Wie kan sulke wondere doen
soos wat U laat gebeur?
12U het u regterhand uitgesteek,
die aarde het u vyand
ingesluk.
13Hierdie volk wat U gered het,
lei U met liefde.
U sal hulle lei met u krag
na die plek
waar u Naam heers.
14Die volke sal daarvan hoor
en begin bewe;
die kele van die inwoners
van die land van die Filistyne
gaan toetrek.
15Die leiers van Edom
raak lam van die skrik;
die sterk manne van Moab
se knieë klap teen mekaar;
dié wat in Kanaän woon
se moed sak in hulle skoene;
16verskrikking en vrees
oorval hulle
omdat U so sterk is.
Hulle sal tjoepstil wees, Here,
as u volk by hulle verbytrek,
u volk
wat U vir Uself gekoop het.
17U sal hulle inbring
en laat woon
op die berg wat aan U behoort,
die plek wat U gekies het
as woonplek, Here,
die heiligdom wat U gemaak het
met u eie hande, Here.
18Die Here sal regeer
vir altyd, ja, altyd!
19Werklikwaar! Toe die perde van die farao, sy oorlogwaens en hulle bemanning deur die see wou gaan, het die Here die water van die see op hulle laat instort. Die Israeliete was reeds droogvoets deur die see toe dit gebeur het.
Die Lied van Mirjam
20Mirjam was ’n vroulike profeet. Sy was Aäron se suster. Sy het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het agter haar aan gedans terwyl hulle op tamboeryne slaan.
21Mirjam het vir hulle voorgesing:
“Sing vir die Here,
want Hy is geweldig hoog.
Perd en ruiter
het Hy in die see gegooi.”
Bitter water word soet
22Moses het die volk toe weggelei van die Rietsee af. Hulle het na die Surwoestyn getrek. Drie dae lank het hulle deur die woestyn getrek en geen water gekry nie. 23Toe hulle by die plek Mara kom, was daar uiteindelik water. Die water was egter brak en hulle kon dit nie drink nie. Dit is hoekom die plek Mara genoem is.
24Die volk het toe by Moses gaan kla: “Wat moet ons dan drink?” 25Moses het hulp by die Here gaan soek. Die Here het vir hom ’n stuk hout uitgewys. Hy het dit gevat en in die water gegooi. Dit het die water drinkbaar gemaak.
Dit was hier by Mara waar die Here die volgende reëling getref het om hulle te toets: 26“As julle goed luister na die Here julle God en doen wat vir Hom reg is, gehoorsaam is aan sy wette en reëls, dan sal Ek julle nie dieselfde dinge laat oorkom as die Egiptenaars nie. Ek is die Here wat julle gesond sal hou.”
27Toe hulle van Mara af weg is, het hulle by Elim gekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar kamp opgeslaan.

Tans Gekies:

EKSODUS 15: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid