DEUTERONOMIUM 6

6
Oproep tot ’n heelhartige verbintenis
1“Dit is die bevele, voorskrifte en bepalings wat die Here julle God aan my meegedeel het om vir julle te leer. Die bedoeling hiervan is dat julle Hom gehoorsaam kan wees in die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem.
2“Jy, jou kinders en jou kleinkinders moet die Here dien so lank as wat jy lewe. As jy al sy voorskrifte en bevele gehoorsaam, sal jy ’n lang lewe geniet. 3Luister noukeurig daarna, Israel, dat jy dit kan doen sodat dit met jou goed kan gaan en jy baie kinders kan hê. Die Here God het aan jou voorouers ’n baie vrugbare land beloof.
4“Luister, Israel! Die Here ons God is die enigste Here.#6:4 Of Die Here ons God is een Here; of Die Here ons God, die Here is een; of Die Here is ons God, die Here is een. 5Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag. 6Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee. 7Skerp hierdie woorde by jou kinders in en praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 8Bind dit aan jou hande vas as ’n herinnering en dra dit op jou voorkop. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en teen jou stadspoorte.
10“Die Here jou God bring jou binnekort in die land wat Hy aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het. Dit is ’n land met groot en mooi stede, stede waaraan jy nie gebou het nie. 11Die huise is vol met goeie goed waarvoor jy nie gewerk het nie. Jy sal water skep uit putte wat jy nie self gegrawe het nie. Jy sal van wingerde en olyfbome eet wat jy nie self geplant het nie. Wanneer jy jou in die land versadig geëet het, 12sorg dan dat jy nie die Here vergeet nie. Dit is Hy wat jou van die slawerny in Egipte gered het. 13Betoon eerbied aan die Here jou God en dien Hom. Wanneer jy ’n eed sweer, mag jy net sy Naam gebruik.
14“Jy mag geeneen van die gode van die naburige nasies aanbid nie, 15want die Here jou God wat naby jou is, is ’n God wat onverdeelde lojaliteit vereis. As jy ander gode aanbid, sal sy woede teen jou opvlam en Hy sal jou van die aarde af wegvee.
16“Moenie die Here julle God beproef soos julle by Massa gedoen het nie. 17Julle moet al die bevele van die Here julle God, al die vereistes en voorskrifte wat Hy vir julle gegee het, noukeurig gehoorsaam. 18Doen wat reg en goed is vir die Here sodat dit met jou goed mag gaan en jy die land in besit kan neem wat die Here plegtig aan jou voorouers beloof het. 19Jy sal al die vyande uitdryf wat nou in jou land bly, net soos die Here gesê het.
20“As jou kinders jou in die toekoms vra: ‘Wat beteken al hierdie vereistes, voorskrifte en bepalings wat die Here ons God vir ons gegee het om na te kom?’ 21dan moet jy vir hulle vertel: ‘Ons was slawe van die farao in Egipte, maar die Here het ons met sy krag uit Egipte gered. 22Voor ons oë het die Here tekens en wonders gedoen – onheilspellende dinge het met die farao en Egipte gebeur. 23Hy het ons uit Egipte gered sodat Hy ons die land kan gee wat Hy plegtig aan ons voorouers beloof het. 24Die Here ons God het ons beveel om al die voorskrifte te gehoorsaam, om die Here ons God te eerbiedig sodat ons voorspoedig kan wees en bly lewe soos dit tans is. 25Wanneer ons al die bepalings gehoorsaam wat die Here ons God gee, sal ons regverdig wees.’”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid