DANIËL 1

1
Daniël in diens van Nebukadnesar
1In die derde jaar wat koning Jojakim oor Juda regeer het#1:1 Dit is in die jaar 605 vC., het Nebukadnesar teen Jerusalem opgetrek. Hy was die koning van Babel. Hy het die stad beleër. 2Die Here het Jojakim, die koning van Juda, in sy mag gegee. Toe hy terugkeer na Babel#1:2 Of land van Sinear. Dit verwys na Gen 11:1-9. het hy van die voorwerpe wat hy uit God se tempel geplunder het saam met hom gevat en dit in die voorraadkamers van sy god se tempel gaan sit.
3Die koning het vir Aspenas, wat aan die hoof was van die paleisamptenare, opdrag gegee. Hy moes jong manne uit die koninklike families en vooraanstaandes van die Israeliete wat gevange geneem is na hom toe bring. 4Hulle moes gesond en aantreklik wees, intelligent, goed ingelig en vinnig van begrip, geskik om in die koning se paleis diens te doen. Hulle moes ook verder onderrig word in die taal en letterkunde van die Babiloniërs#1:4 Grondteks Galdeërs.. 5Die koning het opdrag gegee dat hulle elke dag kos en drank uit die paleis moes kry. Hulle moes drie jaar lank opgelei word sodat hulle aan die einde daarvan as adviseurs in sy diens kon staan.
6Daniël, Gananja, Misael en Asarja was onder hierdie jong manne uit Juda. 7Die hoofamptenaar het vir hulle nuwe name gegee. Daniël het Beltsasar geword, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego.
8Daniël het egter besluit dat hy nie homself met die koning se kos en drank gaan verontreinig nie. Hy het die hoofamptenaar versoek om nie daarvan te eet nie. 9God het gemaak dat die hoofamptenaar van Daniël hou en hom goedgesind is. 10Hy het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal dat julle hierdie kos en drank moet gebruik. As hy sien dat julle nie so goed lyk soos die ander van julle ouderdom nie, gaan julle my kop laat rol by die koning.”
11Daniël het toe vir die persoon onder wie se sorg die hoofamptenaar Daniël, Gananja, Misael en Asarja geplaas het, gesê: 12“Toets tog u dienaars vir tien dae. Gee vir ons net groente om te eet en water om te drink. 13Kyk dan ná tien dae hoe ons voorkoms vergelyk met die jong manne wat wel die koning se kos eet. U kan dan besluit om met u dienaars te maak soos u goeddink.” 14Hy het met Daniël ooreengekom en hulle tien dae lank op die proef gestel.
15Aan die einde van die tien dae het Daniël-hulle beter en gesonder gelyk as die jong manne wat die koning se kos geëet het. 16Daarom het die amptenaar hulle vrygestel van die koning se kos en drank. Hy het vir hulle groente gegee om te eet. 17God het vir hierdie vier jong manne kennis gegee, insig in dinge wat neergeskryf is en ook wysheid. Vir Daniël het Hy die vermoë gegee om gesigte en drome te verstaan.
18Toe die tyd om was wat die koning bepaal het, het die hoof van die amptenare al die jong manne voor Nebukadnesar gebring. 19Die koning het ’n onderhoud met elkeen van hulle gevoer. Hy het niemand onder hulle gekry wat die gelyke van Daniël, Gananja, Misael en Asarja was nie. Hulle is toe in die diens van die koning aangestel. 20Hy het gevind dat hulle in sake wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk.
21Daniël het daar gebly tot die eerste jaar waarin koning Kores regeer het.#1:21 Dit is die jaar 538 vC.

Tans Gekies:

DANIËL 1: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid