AMOS 2

2
1Verder sê die Here:
“Die mense van Moab
het keer op keer gesondig.
Ek sal hulle nie langer
ongestraf laat nie!
Die bene van Edom se koning
het hulle tot as verbrand.
2Daarom steek Ek ’n vuur aan
in die land Moab
en die vestings van Kerijot
sal verteer word.
Moab sal omkom
onder oorlogsrumoer
en onder die geblaas
van die trompet.
3Ek sal hulle koning uitroei
en al sy leiers
saam met hom
doodmaak.”
So sê die Here.
Die Here se oordeel oor Juda en Israel
4Dit is wat die Here sê:
“Die mense van Juda
sondig keer op keer.
Ek sal hulle nie langer
ongestraf laat nie!
Die gebooie van die Here
het hulle verwerp,
sy voorskrifte nie nagekom nie.
Hulle is mislei
deur dieselfde leuens
as hulle voorouers.
5Daarom sal Ek Juda
aan die brand steek,
al die vestings van Jerusalem
verteer.”
6Die Here sê:
“Die mense van Israel
het keer op keer gesondig.
Ek sal hulle nie langer
ongestraf laat nie!
Hulle het die reg verdraai,
eerlike mense
vir geld verkoop
en armes vir ’n paar sandale.
7Hulle vertrap hulpelose mense
in die stof van die aarde.
Hulle tree onregverdig op
teenoor behoeftige mense.
’n Seun en sy pa
slaap by dieselfde meisie.
So bring hulle my Naam
in die skande.
8By elke altaar lê hulle op klere
wat hulle as pand gevat het.
In die tempel van hulle god
drink hulle wyn
wat met boetegeld gekoop is.
9“Dit is Ek
wat die Amoriete vernietig het
voordat my volk
in die land aangekom het.
Hulle was so lank soos seders,
so sterk soos akkerbome.
Maar Ek het hulle uitgeroei,
met wortel en tak.
10“Dit is Ek wat julle bevry het
uit Egipte.
Ek het julle 40 jaar lank
deur die woestyn gelei
om die land
van die Amoriete
in besit te neem.
11Sommige van julle seuns
het Ek gekies
om profete te wees.
Ander jong mans
het Ek gekies
om nasireërs te wees.”
Die Here vra:
“Is dit nie so nie,
mense van Israel?
12Julle laat nasireërs sondig
deur hulle
wyn te laat drink.
Vir die profete sê julle:
‘Moenie profeteer nie!’
13“Ek sal julle laat kreun
soos ’n wa kreun
wat met graangerwe oorlaai is.
14Julle vinnigste hardlopers
sal nie wegkom nie.
Die sterkes se krag
sal nutteloos wees.
Selfs die dapperste vegters
sal hulleself nie kan red nie.
15Die boogskutters
sal moet terugval.
Die vlugvoetiges
sal dit nie regkry
om te ontsnap nie.
Selfs berede soldate
sal hulle nie kan red nie.
16Op daardie dag
sal selfs julle dapperste vegters
hulle wapens neergooi
en vlug vir hulle lewens.”
Dit is wat die Here sê!

Tans Gekies:

AMOS 2: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid