2 KONINGS 17

17
Hosea regeer in Israel
1In die twaalfde jaar van koning Agas se bewind in Juda het Hosea seun van Ela koning geword oor Israel. Hy het nege jaar in Samaria regeer. 2Hy het gedoen wat vir die Here verkeerd was, maar dit was nie so erg soos die konings wat sy voorgangers in Israel was nie.
3Toe koning Salmaneser van Assirië teen hom optrek, het koning Hosea hom aan die koning van Assirië onderwerp en jaarliks belasting aan hom betaal. 4Maar Hosea het teen die koning van Assirië saamgesweer deur koning So van Egipte te vra vir hulp. Hy het ook geweier om die jaarlikse belasting aan die koning van Assirië te betaal. Daarom het koning Salmaneser vir Hosea gevang en in die tronk gesit.
Die verowering van Samaria
5Die koning van Assirië het die hele land binnegeval, Samaria aangeval en drie jaar lank beleër. 6In die negende jaar van koning Hosea se bewind het die koning van Assirië Samaria ingeneem en die inwoners in ballingskap na Assirië toe weggevoer. Hulle is in kolonies in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië hervestig.
7Hierdie ramp het oor die Israeliete gekom omdat hulle ander gode vereer het. Sodoende het hulle gesondig teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte bevry het uit die mag van Farao, die koning van Egipte. Hulle het ander gode gedien. 8Hulle het geleef soos die ander nasies wat die Here uit die land verdryf het sodat die Israeliete daar kon woon. Hulle het ook opgetree volgens die gebruike wat die konings van Israel ingestel het. 9Die Israeliete het verder in die geheim dinge gedoen#17:9 Of van die Here hulle God dinge gesê wat nie waar is nie. wat teen die wil van die Here was. In elke plek waar hulle gewoon het, van wagtorings tot vestingstede, het hulle afgodshoogtes gebou. 10Hulle het bo-op elke heuwel en onder elke groen boom klippilare opgerig wat gewy is aan Asjera. 11Hulle het op al die hoogtes wierook gebrand net soos die nasies wat die Here voor hulle uit verjaag het. Hulle het bose dinge gedoen wat die Here uitgetart het. 12Hulle het afstootlike beelde aanbid ten spyte van die Here se uitdruklike waarskuwings. 13Die Here het al sy profete en sieners gestuur om sowel Israel as Juda te waarsku: “Bekeer julle van julle bose lewenswyses. Luister na my opdragte en voorskrifte volgens al die gebooie wat Ek julle voorvaders beveel het en wat Ek deur my dienaars die profete aan julle bekendgemaak het.”
14Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle was net so koppig soos hulle voorvaders wat nie op die Here hulle God vertrou het nie. 15Hulle het sy voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het, verwerp en die rug gedraai op al sy waarskuwings. Hulle het waardelose afgode aanbid en het self waardeloos geword. Hulle het gelewe net soos die nasies rondom hulle hoewel die Here gesê het: “Moenie soos hulle maak nie!” 16Hulle het al die gebooie van die Here hulle God geïgnoreer en vir hulle twee kalwerbeelde gegiet. Hulle het ook ’n Asjerabeeld gemaak, voor die hemelliggame gebuig en vir Baäl gedien. 17Hulle het hulle eie seuns en dogters as offers laat verbrand#17:17 Of Hulle het selfs hulle seuns en dogters deur die vuur laat gaan. en waarsêers en toekomsvoorspellers geraadpleeg. Hulle het hulleself oorgegee aan dinge wat vir die Here verkeerd is, en Hom so uitgetart.
18Die Here was so ontevrede met Israel dat Hy hulle van Hom verstoot het. Net die stam Juda het oorgebly. 19Maar ook Juda het geweier om die gebooie van die Here hulle God te gehoorsaam. Hulle het volgens die voorbeeld van Israel gelewe. 20Die Here het toe die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan die plunderaars totdat Hy Israel van Hom af verwyder het. 21Want toe Hy Israel van die koninkryk van Dawid afgeskeur het, het hulle Jerobeam seun van Nebat koning oor hulle gemaak. Maar Jerobeam het Israel weggelok van die Here af en hulle baie laat sondig. 22Die Israeliete het volgehou met al die sondes van Jerobeam en dit nie gestaak nie. 23Uiteindelik het die Here hulle finaal verwyder, net soos Hy deur al sy dienaars die profete gewaarsku het. Israel is uit hulle land weggevoer na Assirië toe, waar hulle vandag nog is.
Vreemdelinge kom woon in Israel
24Die koning van Assirië het mense uit Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim verskuif en in die dorpe van Samaria in die plek van die Israeliete laat vestig. Hulle het Samaria oorgeneem en in die stede gaan woon. 25Omdat hierdie vreemdelinge nie die Here vereer het toe hulle daar aangekom het nie, het die Here leeus gestuur wat sommige van hulle doodgemaak het.
26Daarom stuur hulle toe ’n boodskap na die koning van Assirië: “Die nasies wat u in die dorpe van Samaria hervestig het, weet nie hoe om die God van die land te aanbid nie. Hy het leeus onder hulle losgelaat wat hulle doodmaak omdat hulle nie weet hoe hulle Hom moet vereer nie.”
27Die koning van Assirië beveel toe: “Stuur een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is daarheen terug. Hy moet daar gaan woon en die nuwe inwoners leer aangaande die godsdienstige gebruike ter ere van die God van die land.” 28Een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, het toe teruggekom. Hy het in Bet-El gaan woon en die nuwe inwoners geleer hoe om die Here te aanbid.
29Maar elkeen van die nasies het tog voortgegaan om ook hulle eie afgode te maak in die stede en dorpe waar hulle gewoon het. Hulle het dit neergesit in die tempels op die hoogtes wat die mense van Samaria destyds opgerig het. 30Die mense uit Babel het Sukkot-Benot gemaak, dié uit Kuta vir Nergal, dié uit Hamat vir Asima, 31en die Awwiete vir Nibgas en Tartak. Die Sefarwajiete het selfs hulle kinders ter ere van hulle gode Adrammelek en Anammelek verbrand.
32Hierdie inwoners het wel die Here vereer, maar het tog uit eie geledere priesters aangestel om in die heiligdomme op die hoogtes diens te doen. 33Hoewel hulle die Here vereer het, het hulle voortgegaan om ook die godsdienstige gebruike van die nasies waaruit hulle gekom het, te beoefen. 34Tot vandag toe nog beoefen hulle hulle vorige praktyke en is hulle nie gehoorsaam aan die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat die Here gegee het vir die afstammelinge van Jakob wie se naam Hy na Israel verander het nie. 35Want dis met die afstammelinge van Jakob dat die Here ’n verbond gemaak en hulle beveel het: “Moenie enige ander gode vereer, voor hulle buig, hulle dien, of aan hulle offers bring nie. 36Julle moet net die Here vereer, Hy wat julle met wonderwerke en groot mag en krag uit Egipte gebring het. Hom moet julle vereer, voor Hom buig, en aan Hom offers bring. 37Sorg dat julle al die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat Hy vir julle neergeskryf het, gehoorsaam. Julle moenie ander gode dien nie. 38Moenie die verbond wat Ek met julle gesluit het, vergeet nie en moenie ander gode dien nie. 39Net die Here julle God moet julle aanbid. Hy sal julle uit die mag van al julle vyande verlos.”
40Maar die mense wou nie luister nie en het met hulle ou gebruike voortgegaan. 41Hierdie nasies het nie net die Here vereer nie, maar het ook hulle afgodsbeelde vereer. Tot vandag toe maak hulle afstammelinge nog soos hulle voorvaders.

Tans Gekies:

2 KONINGS 17: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid