1 KONINGS 14

14
Jerobeam verwerp
1In hierdie tyd het Jerobeam se seun Abia baie siek geword. 2Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Vermom jouself sodat niemand jou as Jerobeam se vrou kan herken nie. Gaan dan na die profeet Agija in Silo, die man wat gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou word. 3Vat vir hom tien brode, koeke en ’n kruik vol heuning saam. Hy sal vir jou sê wat met die seun sal gebeur.”
4Jerobeam se vrou het toe na Agija se huis in Silo gegaan. Teen hierdie tyd kon hy nie meer sien nie omdat die ouderdom sy oë ingehaal het. 5Maar die Here het reeds vir Agija ingelig: “Jerobeam se vrou kom hiernatoe en sal haar voordoen as iemand anders. Sy sal navraag doen oor haar seun, want hy is baie siek. Antwoord haar soos Ek vir jou sê.”
6Toe Agija haar voetstappe by die deur hoor, roep hy: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Hoekom gee jy voor dat jy iemand anders is? Ek het slegte nuus vir jou. 7Gaan sê vir Jerobeam: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel sê: Ek het jou uit die gewone mense geneem en jou heerser van Israel gemaak. 8Ek het die koningskap afgeskeur van die Dawidshuis en dit vir jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat my bevele gehoorsaam het, My ten volle gedien het en volgens my eise gelewe het nie. 9Jy het meer kwaad gedoen as almal voor jou. Jy het ander gode gemaak en My met jou goue kalwers uitgetart. Omdat jy jou rug op My gedraai het, 10sal Ek rampe oor jou koningshuis laat kom. Ek sal elke man uit die nageslag van Jerobeam uitroei uit Israel, of dit slawe of vry mense is. Ek sal jou koningshuis verbrand soos ’n mens rommel verbrand totdat daar niks oor is nie. 11Die honde sal elkeen wat aan Jerobeam behoort en wat in die stad sterf, opvreet, en dié wat in die veld sterf, sal die roofvoëls verslind. Dit sal gebeur, want die Here het dit gesê.’
12“Jy kan nou maar huis toe gaan. Wanneer jy die stad binnekom, sal die kind sterf. 13Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy is die enigste van die familie van Jerobeam wat begrawe sal word, want hierdie kind is die enigste een in die familie van Jerobeam in wie die Here, die God van Israel, iets goeds gekry het. 14Die Here sal vir Hom ’n koning oor Israel aanstel wat die hele familie van Jerobeam sal uitwis. Dit sal binnekort, sonder versuim, gebeur! 15Dan sal die Here Israel tref soos vloedwater ’n riet tref. Hy sal die mense van Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle verstrooi tot anderkant die Eufraatrivier, want hulle het die Here uitgetart met pale wat aan Asjera gewy was. 16Hy sal Israel prysgee oor die sonde van Jerobeam, en omdat hy die hele Israel laat sondig het.”
17Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Toe sy oor die paleis se drumpel stap, het die kind gesterf. 18Hulle het hom begrawe en die hele Israel het oor hom gerou soos die Here deur Agija die profeet gesê het.
19Die ander gebeurtenisse tydens Jerobeam se regering, al sy oorloë en hoe hy regeer het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 20Jerobeam het twintig jaar lank in Israel regeer. Toe Jerobeam later sterf, het sy seun Nadab hom as koning opgevolg.
Rehabeam regeer in Juda
21Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.
22Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die Here. Met hulle sondes het hulle die Here meer getart as wat hulle voorouers gedoen het. 23Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig. 24Daar was ook manlike tempelprostitute in die land. Die Judeërs het dieselfde afskuwelike praktyke beoefen as die heidennasies wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land verdryf het.
Sisak val Jerusalem aan
25In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam het koning Sisak van Egipte gekom en Jerusalem aangeval. 26Hy het die tempel van die Here en die koninklike paleis geplunder. Hy het alles gevat, selfs die goue skilde wat Salomo laat maak het. 27Daarna het Rehabeam skilde van brons gemaak om dit te vervang, en het dit in die sorg van die hoof van die lyfwagte by die ingang van die paleis geplaas. 28Elke keer wanneer die koning na die tempel van die Here gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra en dit daarna weer in die wagte se kamer gebêre.
Rehabeam kom te sterwe
29Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. 30Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. 31Toe Rehabeam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.

Tans Gekies:

1 KONINGS 14: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid