Leesplan inligting

Amen Voorbeeld

Amen

DAG 6 VAN 6

GELOOF SOOS AARTAPPELS


Op hierdie heel laaste dag bring Angus vir ons die boodskap dat wat met geloof in Christus begin, moet voortgaan met geloof in Christus. 


Geloof lyk dalk vir die wêreld dwaas, maar rustige vertroue in God sal uiteindelik die ongelowige wêreld verstom laat. Ons geloof is so nodig, maar wat God doen, maak waarlik die verskil. 


Die wêreld bewonder gesonde verstand, wysheid wat die toets van die tyd deurstaan het. In Angus Buchan se gemeenskap verstaan die boere die seisoene deur jare lange ervaring en wat hulle by mekaar leer. Hulle weet wanneer dit ’n goeie tyd is om te plant en wanneer dit nie ’n goeie tyd is nie. Hulle ken die tekens van ’n droogte en beplan daarvolgens. 


Net soos met finansiële beleggings, is ervaring en prestasies van die verlede egter nie ’n waarborg vir toekomstige sukses nie. Gesonde verstand bied gewoonlik vir ons ’n veilige stel riglyne om te volg, maar mense wat God en Sy leiding volg, ontvang die bykomende voordeel van Sy insig. 


Die storie van Angus en sy aartappeloes is ’n inspirerende voorbeeld van een man se bereidheid om sy geloof in God te plaas en teen al die logiese gebruike van sy gemeenskap in te gaan om God só te volg en te verheerlik. 


‘n Lewensles van Angus 


Dit is so goed om te weet God sorg vir ons. Galasiërs 6:9 sê ons moenie moeg word om goed te doen nie, want as ons volhard, sal ons op die regte tyd ’n goeie oes insamel. 


Die heel eerste gewas wat ons hier op Shalom geplant het, was aartappels. Die mense in hierdie omgewing was so bekommerd oor ons. Ons het geen besproeiing gehad nie, en in hierdie deel van Afrika moet jy die landerye besproei as jy aartappels geplant het. Jy plant nie aartappels in droë grond nie. 


My buurman het na my toe gekom en my gevra om asseblief weer te dink oor my plan om aartappels te plant, want hierdie gebied beleef gewoonlik ’n droogte in die middel van die groeiseisoen. Hy was bang ek sou nie ’n oes hê nie, maar God het baie spesifiek vir my gesê ek moet glo en my nie steur aan die El Niño-verskynsel nie. ’n Intense droogte is voorspel, maar ek het geweier om my daaraan te steur. Ek het gesê ek is ’n kind van God, ek gaan aartappels in droë grond plant en ek gaan op God vertrou vir ’n wonderwerk. 


Wel, jy weet wat gebeur het. Ons het ’n rekordoes gehad wat alle verwagtings oortref het. Ek dink die mense was meer opgewonde oor daardie aartappeloes as oor enigiets anders. Almal het immers gehoor van die waansinnige planne wat ons hier op Shalom gehad het. Maar toe ons die oes insamel, het ons groot aartappels uit die grond gehaal. God is goed. Hy voorsien in ons behoeftes. 


Ek sê glad nie ons moet dwaas optree of nie die raad van ervare mense aanvaar nie, veral nie vir jongmense nie. Maar wanneer God vir jou sê: “Ek sal in jou behoeftes voorsien” en jy ervaar vrede oor jou planne en voel dat jy in geloof moet optree, moet jy dit doen. Dit is presies wat ons gedoen het. 


Vraag om oor na te dink: Galasiërs 6:9 | Wag op die oes 


Wanneer laas het jy gevaar geloop om moeg te word om goed te doen? Hoe kan jy hierdie soort moegheid voorkom?


Vers om te memoriseer - Galasiërs 6:9 


Hemelse Vader, ek juig vandag oor U getrouheid. Mag my lewe U tevrede stel. Gee vir my ore wat luister en ’n hart wat ontvanklik is. Mag ek die moed hê om te reageer op U uitnodiging om te glo. Gee aan my die krag om te volhard sodat ek die pad waartoe U my geroep het enduit sal stap. Mag Jesus se Naam deur my lewe verheerlik word en gee dat ek my bydrae lewer om U koninkryk uit te brei. In Jesus se kosbare Naam bid ek dit. Amen. 


‘n Woord van pastoor Jackson 


Dit is my uitnodiging aan jou aan die einde van hierdie Bybelstudie: Kies om in God te glo. Sit die helm van verlossing op, trek die borsharnas van vryspraak aan en tel die skild van geloof op. Gaan uit en vertrou op God. Jy kan ’n familie, ’n gemeenskap, ’n kantoor, ’n buurt verander. Jy kan vir Jesus ’n impak in jou land maak. God is lief vir jou. Jy kan op Hom vertrou. 


Die inhoud vir hierdie studie is geneem uit AMEN BYBELSTUDIE deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Amen

Hierdie Bybelstudie bied aan jou ’n baie unieke geleentheid om die passie wat Angus vir Jesus het self te ervaar. As jy luister en jou hart oopmaak, sal jy vind dit is aansteeklik. Wanneer ek ook al by Angus is, groei my...

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.cumbooks.co.za/ en https://www.amazon.com/author/angusbuchan1​​​​​​​

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid