Leesplan inligting

Amen Voorbeeld

Amen

DAG 5 VAN 6

GEBED OM REËN


In hierdie voorlaaste dag van hierdie studie gaan ons gesels oor hoe belangrik wonderwerke is. Angus beskryf ’n wonderwerk as “’n buitengewone en welkome gebeurtenis wat nie deur natuurwette verduidelik kan word nie en aan Goddelike ingrype toegeskryf word”. 


Dit is amper soos om vir reën te bid terwyl ’n brand op jou plaas woed. Angus sê vir ons: “As jy wonderwerke wil sien, moet jy die Wonderwerker leer ken ... jy moet glo in die lewende God.” 


’n Lewensles van Angus 


Ek glo in wonderwerke. Het jy al gesien die hoofrede hoekom mense geglo het Jesus is die Seun van God is omdat Hy wonderwerke gedoen het? Toe Johannes die Doper en die dissipels vir Jesus gevra het: “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?” (Matt. 11:3), het Hy geantwoord: “Blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek” (Luk. 7:22). 


Ons het ’n plantasie wat aan ons plaas grens. Baie jare gelede het ek gedink ons gaan hierdie plantasie verloor. 


 Ek het daardie jaar voorbrande voor die winterseisoen gemaak. Dit was net nadat ek my lewe aan Jesus oorgegee het. Ek en my voorman, Simeon, het die voorbrande beheer. Skielik het ’n vonk in droë kreupelhout beland. Binne minute was die brand buite beheer. Die wind het sterker begin waai en die vuur aangejaag na die grens waar hierdie plantasie geleë was. Die plantasie, wat in besit van ’n groot, internasionale maatskappy was, strek oor kilometers heen. 


Ek was ’n jong man en het toe maar onlangs uit Zambië in Suid-Afrika aangekom. Ek het bitter min toerusting gehad om brande mee te bestry. Al wat ek besit het, was ’n 200 liter-drom agter op my bakkie, waaraan ’n tuinslang gekoppel was. Jill het die bure gebel en hulle almal het kom help. Jy weet hoe boere is – ons almal staan saam en help mekaar in krisistye. Ons het probeer keer dat die veldbrand versprei, maar ons kon dit nie blus nie. Die brand het nie eens ’n bietjie bedaar nie, maar net al hoe erger geraak. 


Ek het vir een van my trekkerbestuurders gesê: “Ek gaan bid dat Jesus Christus vir ons ’n wonderwerk sal stuur. Hy sal vir ons reën stuur.” Die man het geantwoord: “Nee, Meneer. Jy sal nie vandag reën kry nie. Die reënseisoen is verby en die noordewind waai. Daar is nie eens wolke in die lug nie.”


Ek het maar net ’n paar weke vroeër my lewe vir die Here gegee, maar ek het onthou dat die Here in Sy Woord sê: “Vra My, en Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel oor wat hier gaan gebeur, waarvan jy niks weet nie” (Jer. 33:3). Dit is God se telefoonnommer. Ek het voor almal op my knieë neergesak en tot God gebid. 


Ek het gebid: “Here, stuur asseblief reën om die brand te blus. Here, ek het my lewe aan U gegee en ek is nie skaam vir U evangelie nie. Ek staan vandag voor al hierdie mense. Help ons, asseblief. Amen.” 


En weet jy wat? Binne ’n paar minute, uit die bloute, het ’n weerligstraal deur die lug geklief en toe het die donderslag opgeklink. Die noordewind het gaan lê en ’n suidewind het opgekom. Wolke het begin opsteek en kort voor lank het dit begin reën. Die reën het die brand geblus. 


Die trekkerbestuurder met wie ek gepraat het, het bleek geword en begin bewe. Die ander boere het na my toe gekom en gesê: “Angus, jy is baie gelukkig. Ons gaan nou huis toe.” 


Toe hulle daar weg is, het ek in my bakkie geklim en gekyk hoe die sagte reën die vlamme blus. Ek het vir Jesus Christus dankie gesê dat Hy vir ’n sondaar soos ek aan die kruis gesterf het; ek het vir God dankie gesê dat Hy Jesus op die derde dag uit die dood opgewek het, en dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. 


Vraag om oor na te dink: Handelinge 27:20 | Te midde van die storm 


Hoe beplan jy om dit te hanteer as ’n storm in jou lewe lank duur? Wat is die grootste wonderwerk: om die storm stil te maak, of om vir jou te gee wat nodig is om die storm te oorleef? Hoekom sê jy so?


Vers om te memoriseer - Hebreërs 13:8 


Hemelse Vader, dankie dat U nie verander nie. U liefde is ewig; u krag is oneindig, en U hulp is altyd beskikbaar. Maak my oë oop sodat ek U kan sien soos nog nooit tevore nie. Maak my hart oop vir die krag van U Woord en die leiding van U Gees. Ek kies vandag om op U te vertrou. Help my om nie te twyfel nie. Leer my om ook ander mense te bemoedig terwyl ons saam op Jesus se pad stap. In Jesus se Naam. Amen. 

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Amen

Hierdie Bybelstudie bied aan jou ’n baie unieke geleentheid om die passie wat Angus vir Jesus het self te ervaar. As jy luister en jou hart oopmaak, sal jy vind dit is aansteeklik. Wanneer ek ook al by Angus is, groei my...

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.cumbooks.co.za/ en https://www.amazon.com/author/angusbuchan1​​​​​​​

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid