Leesplan inligting

Amen Voorbeeld

Amen

DAG 4 VAN 6

LALISTAIR SE GESKENK  


Gister het ons ’n kykie gekry op die opwindende lewe waarheen God vir Angus gelei het. Hy was gehoorsaam aan God se roepstem en het dit gewaag om saam met God te stap op paaie waaroor ander mense maar net kan droom. As hierdie Bybelstudie met ons vorige sessie geëindig het, sou ons indruk van die Christelike lewe gewees het dat dit altyd ’n gelukkige einde het. Die werklikheid is egter heeltemal anders. Siektes, storms en swaarkry tref Christene net soos dit ongelowige mense tref. 


God kan eintlik vir ons meer werklik raak in die heel moeilikste oomblikke van die lewe. Tragedies kan jou óf na God toe óf weg van God af laat draai. 


Om te kies om jou aan God oor te gee te midde van die beproewings van die lewe, sal jou nie net nader aan Hom laat groei nie, maar jou ook meer diensbaar maak om Sy doelwitte te help bereik. 


’n Lewensles van Angus


Dit was 6 April, my vrou se verjaarsdag. My broer het by ons kom kuier. Sy seun, Alistair, was toe vier jaar oud. Ek was sy gunsteling oom en hy was ook versot op John Deere-trekkers. 


’n Werker het dié dag kom sê een van die trekkers het vasgeval en my gevra of ek hulle kon kom help om dit uit te sleep. 


Toe ek by die agterdeur uitstap, het ek voetstappe na my toe hoor hardloop en gevoel hoe ’n handjie in myne glip. Dit was Alistair. Hy het gevra of hy saam met my kon gaan, want hy het geweet ek gaan met ’n trekker ry om die ander trekker uit te sleep. Gelukkig het ek hom teruggestuur na sy pa toe om eers vir hom toestemming te gaan vra. Natuurlik het sy pa gesê hy mag maar saam met my gaan. Toe wou sy sussie natuurlik ook saam met ons gaan. Sy het aan my linkerkant op die trekker gesit en klein Alistair aan my regterkant. 


Ek het baie stadig met die pad op gery. Net God weet wat gebeur het toe ek om ’n draai gaan. Alistair het vorentoe geval en onder die trekker se wiel beland. Hy is in my arms dood. Ek moes vir my broer gaan sê ek het sy seun se dood veroorsaak. 


Ek wens so iets nie eens die duiwel toe nie. Dit is net deur die genade van God dat ek hierdie beproewing in my lewe kon oorleef. Sonder Jesus Christus sou ek waarskynlik ’n misdadiger, ’n alkoholis of ’n dwelmverslaafde geword het as gevolg hiervan. Maar die Here het my gedra. Dit het baie lank geneem om by heling uit te kom. En al herstel ’n mens nooit werklik heeltemal van so ’n traumatiese ervaring in jou lewe nie, leer jy om daarmee saam te leef. 


Ek weet klein Alistair is by Jesus Christus in die hemel. Sy pa is ook verseker daarvan terwyl hy die evangelie in Sentraal-Afrika, Uganda en Kenia verkondig. Die Bybel sê vir ons alles werk ten goede saam vir dié wat die Here liefhet en wat volgens Sy doel vir hulle lewe geroep is (Rom. 8:28).


Jy voel miskien jy kan die situasie waardeur jy nou moet gaan nie hanteer nie. Die waarheid is, ongeag wat jy nou moet verduur, jy kan steeds vertroosting vind. Wat my help, is die gebedstyd wat ek by die Here deurbring. 


Dit maak nie saak hoe jy jou lewe begin nie; dit is hoe jy jou lewe klaarmaak wat saak maak. As jy jou oë op Jesus gerig hou, sal Hy jou help om tot die einde toe te volhard. Bring daarom gereeld tyd by God deur. Kyk op na Hom en hou op vrae vra. Onthou, God is in die hemel en ons is op die aarde. Wie is ons om Hom te bevraagteken? Vertrou net op Hom en Hy sal jou die oorwinning laat behaal. 


Vraag om oor na te dink: Romeine 8:28 | Alles ten goede 


Watter gebeure in jou lewe maak dit vir jou moeilik om hierdie belofte te glo? Hoe hanteer jy dit? 


Vers om te memoriseer - Romeine 8:28 


Hemelse Vader, dankie vir U teenwoordigheid in my lewe. Wanneer ek struikel, tel U my op. Wanneer ek swak is, is U krag tot my beskikking. Dankie vir U groot liefde. Heilige Gees, ek vertrou dat U herstel vir my gebrokenheid sal bring. Ek weet waar ek swak is, sal die majesteit van die almagtige God my vas laat staan. Ek verbly my in die Here, my Rots en my Verlosser. Amen. 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Amen

Hierdie Bybelstudie bied aan jou ’n baie unieke geleentheid om die passie wat Angus vir Jesus het self te ervaar. As jy luister en jou hart oopmaak, sal jy vind dit is aansteeklik. Wanneer ek ook al by Angus is, groei my...

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.cumbooks.co.za/ en https://www.amazon.com/author/angusbuchan1​​​​​​​

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid