YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 8

8
Die visioen van die ram en die bok
1In die derde jaar van koning Belsasar se regering, het ek, Daniël, ná die eerste visioen nog een gesien. 2Ek het gesien ek staan by die paleis in Susan in die provinsie Elam langs die Ulairivier.
3Toe ek opkyk, sien ek ’n ram by die Ulai staan. Hy het twee horings gehad. Die een was langer as die ander een, al het dit eers ná die ander een begin uitgroei. 4Hy het met sy horings gestoot na die weste, die noorde en die suide toe. Niemand kon teenstand teen hom bied nie. Niks kon van hom ontsnap nie. Hy het gedoen net wat hy wou en het al sterker geword.
5Terwyl ek stip staan en kyk, kom ’n bok vanuit die weste oor die aarde sonder om iewers grond te raak. Hy het ’n opvallende groot horing tussen sy oë gehad. 6Hy het met geweld afgestorm op die ram met twee horings wat ek by die rivier sien staan het. 7Ek het gesien hoe hy die ram met geweld tref en sy twee horings afbreek. Die ram was nie teen hom opgewasse nie. Hy het die ram teen die grond geslinger en dit onder sy hoewe vertrap. Daar was niemand om die ram uit die bok se mag te red nie.
8Die bok het buitengewoon sterk geword. Op die hoogtepunt van sy krag is sy groot horing egter afgebreek. In die plek daarvan het vier opvallende horings uitgekom. Dit het in al vier windrigtings gewys. 9Uit een van hulle het ’n klein horinkie gekom wat kragtig na die suide, die ooste en na die mooi land van Israel uitgegroei het. 10Dit het met krag opgetrek teen die magte van die hemel en sommige van hulle, asook sommige van die sterre teen die grond gegooi en vertrap. 11Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse magte aangedurf. Hy het die gereelde offer wat vir God gebring word tot niet gemaak en sy tempel verwoes. 12Deur sy verkeerde optrede is die hemelse magte aan hom uitgelewer, die gereelde offer opgehef en die waarheid in die grond vertrap. Hy was voorspoedig in alles wat hy gedoen het.#8:11-12 Die grondteks se betekenis is onduidelik.
13Ek het in ’n gesprek tussen twee heiliges die een vir die ander hoor vra: “Hoe lank hou die visioen aan, die visioen van die daaglikse offer, die opstand wat verwoes en die heiligdom en hemelse mag wat vertrap word?” 14Die ander een het geantwoord: “2 300 dae#8:14 Letterlik nagte en dae. dan sal die heiligdom weer gewy word.”
Gabriël verduidelik die visioen
15Terwyl ek, Daniël, nagedink het oor die visioen wat ek gesien het, het daar skielik iemand voor my kom staan wat soos ’n man lyk. 16Ek het langs die Ulairivier ’n mens se stem hoor roep wat sê: “Gabriël, verduidelik tog vir hierdie man wat die gesig beteken!”
17Hy het na die plek toe gekom waar ek gestaan het. Toe hy naderkom, het ek so bang geword dat ek vooroor geval het. Hy het vir my gesê: “Jy moet verstaan, mens, dat die visioen te doen het met die eindtyd.”
18Terwyl hy besig was om met my te praat, het ek flou op die grond neergeval. Hy het aan my gevat en my op my voete gehelp. 19Hy sê toe vir my: “Ek lig jou in oor waarheen God se verontwaardiging gaan lei. Dit gaan oor die eindtyd. 20Die ram wat jy gesien het met die twee horings is die konings van Medië en Persië. 21Die bok is die koning van Griekeland#8:21 Die Hebreeuse naam wat gebruik word, is Jawan.. Die groot horing tussen sy oë is die eerste Griekse koning. 22Die vier horings wat in sy plek gekom het toe dit afgebreek het, is vier Griekse ryke wat na vore sal kom. Hulle sal nie dieselfde mag as hy hê nie.
23“Aan die einde van hulle regeertyd, wanneer hulle verkeerde dade ’n hoogtepunt bereik het, sal daar ’n hardvogtige koning na vore kom wat die kuns ken om te bedrieg. 24Sonder dat hy self daarvoor werk, sal hy baie magtig word. Hy sal baie skade aanrig. Hy sal regkry wat hy beplan. Hy sal magtige leiers, asook die heilige volk vernietig. 25Deur sy sluheid en die bedrog wat hy pleeg, sal hy sukses behaal. Hy sal in sy eie oë belangrik wees. Hy sal stil-stil baie mense uitroei. Hy sal ook veg teen die Leier van al die leiers. Maar sonder dat ’n mens dit aan hom doen#8:25a Of die bemiddeling van ’n hand., sal hy vernietig word.#8:24-25b Die grondteks se betekenis is onduidelik.
26“Die gesig wat jy oor die 2 300 dae gesien het, is waar. Jy moet egter stilbly oor wat jy gesien het, want dit gaan nog baie lank neem voor dit gebeur.”
27Ek, Daniël, was toe dae lank siek. Daarna het ek opgestaan en aangegaan in die koning se diens. Ek was ontsteld oor wat ek gesien het. Ek het dit glad nie verstaan nie.

Currently Selected:

DANIËL 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy