YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 7

7
Die visioen van die vier diere
1In die eerste regeringsjaar van Belsasar as koning van Babel, het Daniël ’n droom gehad. Hy het in sy slaap gesigte gesien. Wat hy in die droom gesien het, het hy neergeskryf. Dit is wat hy gesien het: 2In my droom daardie nag het ek, Daniël, ’n sterk storm op die groot see gesien met winde wat uit al vier rigtings waai. 3Vier groot diere wat van mekaar verskil het, het uit die see gekom.
4Die eerste dier was soos ’n leeu met arendsvlerke. Terwyl ek besig was om daarna te kyk, is sy vlerke afgeskeur. Sy voorlyf is van die aarde af opgelig en hy het op sy agterpote gaan staan soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee.
5Ek het ’n tweede dier gesien wat soos ’n beer lyk. Dit het regop gestaan en het drie ribbebene tussen sy tande in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: “Staan op en verslind baie vleis.”
6Daarna sien ek nog ’n ander dier wat lyk soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos ’n voël se vlerke. Hy het ook vier koppe gehad en het die mag ontvang om te regeer.
7In my visioen daardie nag het ek ook ’n vierde dier gesien. Hy was vreesaanjaend, geweldig groot en buitengewoon sterk. Hy het groot ystertande gehad waarmee hy alles verslind het.
Wat daarna oor was, het hy onder sy pote vertrap. Hy was heeltemal anders as die ander diere voor hom en het tien horings gehad.
8Terwyl ek nog besig was om na die horings te kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom. Drie van die horings wat daar was, is uitgepluk om daarvoor plek te maak. Hierdie horinkie het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond wat baie aanmatigende dinge gesê het.
9Terwyl ek staan en kyk,
is daar trone neergesit.
Hy wat ewig lewe#7:9, 13b Of ’n oue van dae.,
het daarop gaan sit.
Sy klere was wit soos sneeu.
Die hare op sy kop
was soos suiwer wol.
Sy troon het vuurvlamme gehad
en wiele van brandende vuur.
10’n Rivier van vuur
het van Hom af weggevloei.
Duisende der duisende
het Hom gedien
en tienduisende is tot sy diens.
Die verhoor het toe begin
en die boeke is oopgemaak.
11Ek het bly kyk, want ek het gehoor hoe die klein horinkie onophoudelik bly spog. Ek het bly kyk totdat die vierde dier doodgemaak is. Sy liggaam is vernietig en hy is oorgegee om met vuur verbrand te word. 12Die gesag van die ander drie diere is ook van hulle weggevat. Hulle kon nog langer lewe, maar net vir ’n bepaalde tyd.
13In my visioen daardie nag het ek iemand in die wolke in die lug gesien kom, iemand wat soos ’n mens lyk#7:13a Of soos ’n seun van ’n mens.. Hy het na Hom wat ewig lewe#7:9, 13b Of ’n oue van dae. gegaan en is voor Hom gebring.
14Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie.
Iemand soos ’n mens verklaar die visioen
15Ek, Daniël, was ontsteld oor alles wat ek gesien het. Die dinge wat ek gesien het, het my banggemaak. 16Ek het toe nadergegaan na een van dié wat daar gestaan het. Ek het hom uitgevra oor al hierdie dinge. Hy het gesê hy sal dit vir my verduidelik: 17“Die vier groot diere is vier konings wat oor die aarde regeer. 18Die heilige mense van die Allerhoogste sal egter uiteindelik die koninkryk ontvang. Hulle sal regeer vir altyd en ewig.”
19Ek wou toe duidelikheid hê oor die vierde dier wat soveel anders was as die res. Dit was buitengewoon skrikaanjaend en het met sy ystertande en bronskloue alles verslind en dit wat oorbly onder sy voete vertrap. 20Ek wou ook weet van die tien horings op sy kop en die klein horinkie waarvoor drie ander horings plek moes maak. Hierdie horing het oë en ’n mond gehad wat gespog het, en het anders as die ander gelyk. 21Ek het gesien hoe hierdie horing oorlog maak met die heilige mense en hulle oorweldig. 22Toe het Hy wat ewig lewe#7:22 Of ’n oue van dae. gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Die tyd het toe gekom dat die heilige mense die koningskap oorneem.
23Hy het vir my gesê: “Die vierde dier is ’n vierde mag wat oor die wêreld sal regeer en wat heeltemal anders is as al die ander ryke. Dit sal die hele aarde wegvreet en daarop trap en dit vermorsel. 24Die tien horings daaraan is die ryke van tien konings wat sal regeer. Ná hulle sal ’n ander koning kom wat heeltemal van sy voorgangers sal verskil. Hy sal drie konings aan homself onderwerp. 25Hy sal teen God die Allerhoogste te velde trek en die heilige mense van God die Allerhoogste onderdruk. Hy sal daarop uit wees om die vaste tye en wette te verander. Hulle sal in sy mag kom vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd#7:25 Die frase is ’n Aramese uitdrukking wat dui op ’n vasgestelde tyd.. 26Met ’n beslissing van die hof sal sy mag by hom weggevat word en finaal vernietig word. 27Die heerskappy, regering en aansien van al die koninkryke onder die son sal dan gegee word vir die volk van die heilige mense van God die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ryk sonder einde. Al die heersers sal dan aan Hom eer bewys en aan Hom gehoorsaam wees.”
28Hier eindig die saak. Ek, Daniël, was baie ontsteld oor wat in my gedagtes opgekom het. Ek was so bang dat ek bleek geword het, maar ek het die saak vir myself gehou.

Currently Selected:

DANIËL 7: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy