RUT 3:1-5
RUT 3:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Eendag het Rut se skoonma Naomi vir haar gesê: “My dogter, ek moet vir jou 'n man kry wat vir jou kan sorg. Ek sal vir jou sê wat ons moet doen. Jy was saam met die vroue wat vir Boas werk, en hy is familie van my. Hy gaan vannag die gars op die dorsvloer in die lug opgooi, sodat die wind die kaf wegwaai. Jy moet jou was en lekkerruik-olie aan jou smeer en jou mooi aantrek, en dan moet jy na die dorsvloer gaan. Maar jy moenie dat Boas sien wie jy is nie. Wanneer hy klaar geëet en gedrink het en gaan slaap, dan moet jy kyk waar hy gaan lê, en dan moet jy die kombers optel en by sy voete gaan lê. Hy sal vir jou sê wat jy moet doen.” Rut het vir Naomi gesê: “Ek sal alles doen wat jy sê.”
RUT 3:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE sê haar skoonmoeder Naómi vir haar: My dogter, sal ek nie vir jou 'n rusplek soek, dat dit goed met jou kan gaan nie? Nou dan, is Boas by wie se diensmeisies jy gewees het, nie ons bloedverwant nie? Kyk, hy wan vannag op die vloer gars uit. Was jou dan en salf jou en trek jou klere aan, en gaan af na die vloer toe; laat jou deur die man nie herken totdat hy klaar geëet en gedrink het nie. Maar as hy gaan slaap, let dan op die plek waar hy gaan slaap; kom dan nader, maak sy voetenent oop en gaan lê; en hy sal jou te kenne gee wat jy moet doen. En sy antwoord haar: Alles wat u sê, sal ek doen.
RUT 3:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Rut se skoonma Naomi het vir haar gesê: “My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou 'n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan. Kyk, Boas saam met wie se werksters jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag gars op die dorsvloer. Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Moenie dat hy jou gewaar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou dan sê wat jy moet doen.” Toe antwoord Rut: “Ek sal doen wat u gesê het.”
RUT 3:1-5 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag sê Naomi vir Rut: “Ons moet vir jou ’n man kry, sodat jy versorg kan word en jou eie huis en ’n huisgesin kan hê. Jy onthou vir Boas, die man saam met wie se werkers jy are opgetel het? Ek het mos vir jou gesê hy is familie van ons. Luister nou, hy gaan later die gars op die dorsvloer uitslaan en dan moet hy dit vir die nag oppas. Gaan bad en sit parfuum aan en trek jou mooiste klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar moenie dat Boas agterkom jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. As hy dan later gaan slaap, kyk mooi waar hy gaan lê, en as hy aan die slaap geraak het, tel die komberse op en gaan lê by sy voete. Hy sal verstaan dat jy versorging nodig het en vir jou sê wat jy moet doen.” Rut antwoord toe: “Ek sal doen wat Ma gesê het.”
RUT 3:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Naomi het vir haar skoondogter Rut gesê: “My dogter, dis tyd dat ek vir jou ’n vaste woonplek kry sodat jy in die toekoms versorg sal wees. Jy was mos saam met Boas se diensmeisies. Boas is ’n naby bloedverwant van ons. Kyk, hy gaan vannag gars op die dorsvloer dors. Gaan bad, sit reukwater aan en trek mooi klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar pas op dat Boas jou nie sien voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. Let mooi op waar hy gaan slaap. Gaan dan soontoe, en gaan lê by sy voete. Hy sal wel vir jou sê wat om dan te doen.” “Ek sal presies so maak soos Ma vir my sê,” antwoord Rut.