ROMEINE 8:6-8
ROMEINE 8:6-8 Bybel vir almal (ABA)
Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee. Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie. Die mense wat altyd doen wat húlle graag wil doen, kan nie doen wat God wil hê nie.
ROMEINE 8:6-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie
ROMEINE 8:6-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.
ROMEINE 8:6-8 Die Boodskap (DB)
Mense wie se denke en dade in die greep van die sonde vasgevang is, leef in die dood. Maar mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken ware lewe en vrede. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie. Omdat die sonde oor hulle heers, kan hulle glad nie doen wat God vra nie.
ROMEINE 8:6-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede. Want die sondige natuur is altyd vyandig ingestel teenoor God. Dit rebelleer teen God se wet, want dit is in sy aard. Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie.